Ek is al 14 jaar betrokke by die redaksie van Die Hervormer, vyf jaar daarvan as redakteur. In hierdie tyd het ek baie uitgawes onder oë gehad, maar nog nooit het ’n uitgawe my so emosioneel geraak soos hierdie uitgawe nie.
’n Groot deel van hierdie uitgawe handel oor die Covid-19-pandemie se impak op en gevolge vir lidmate van die Kerk. Ons het gewonder oor die emosionele impak van die pandemie en grendeltyd op ons mense. Ons het dr Christo van der Merwe gevra om vir ons ’n artikel te skryf oor trauma in Covid-tyd. Netjies soos net hy kan, vat hy ons deur die emosies en die gevolge van die trauma wat hierdie siekte, grendeltyd en veranderinge in ons lewens meebring.
Maar wat my in die besonder getref het, was die artikels op bladsye 4 en 5. Ons wou ’n idee kry van hoe Covid-19 bejaardes, mense wat geliefdes by hospitale moes aflaai, en mense in die voorste linie van die stryd teen Covid raak. Want ons besef maar alte goed dat niemand van ons sonder skraap en letsel uit hierdie tyd gaan kom nie. Ek onthou dat ek in die eerste uitgawe na die aankondiging van die grendeltyd ’n uitspraak wat ek oor die radio gehoor het aangehaal het, dat Covid-19 die gebeurtenis met die grootste impak op al die inwoners van die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog is. Min het ek daardie dag besef hoe groot hierdie impak sou wees en hoe lank ons nog na die tyd met die nagevolge van Covid en die inperking sal moet leef.
Dit is nie net finansieel dat lidmate die impak van hierdie tyd beleef nie, maar ook emosioneel. Lees ’n mens deur die antwoorde op die vraag na bejaardes se emosionele belewenis van Covid, wil jy huil wanneer jy besef watter groot seer hierdie tyd vir mense veroorsaak het. Lees ’n mens ds At van den Berg se artikel oor hoe die inperking Machteld Postmus se inwoners – wat eintlik onafhanklik en selfversorgend moet wees – geraak het, kan jy jou net indink hoe dit verswakte bejaardes in tehuise vir bejaardes moes raak. Hier in ons gemeente op Nylstroom het bejaarde ouers wat in ’n woonstelletjie by die tehuis vir bejaardes woon my vertel hoe hulle vir hul dogter wat ’n kwadrupleeg is, deur haar kamervenster in die hoofgebou van die tehuis moes kuier. My eie ma wat net voor die inperking by my susters in Australië gaan kuier het en daar gestrand is, is eintlik beter af daar as wat sy in haar woonstelletjie by die ouetehuis sou wees.
Ons het ook vir mev Louise Geyser gevra om met ons iets te deel van hoe prof Piet se siekte en lang hospitalisasie hulle as familie geraak het. Ek kon eenvoudig nie die trane terughou toe ek deur haar woorde iets van hul trauma beleef het nie.
Net so ruk Lize Fouchè, ’n maatskaplike werker by Rata, jou tot stilstand wanneer jy lees van die onverwerkte emosies waarmee mense in die eerste linie van die stryd teen Covid moet worstel.
Ons sou ook die Covid-slagoffer wie se roudiens ek een oggend na kerk vir ’n klein groepie nabye familie gehou het se seun wat in trane uitgebars het oor sy onvermoë om iets vir sy pa te doen, kon vra om iets te skryf. Of die lidmaat wat na meer as ’n maand in die intensiewesorgeenheid na sy bakkie en woonwa wys en sê dat dit wat hy so graag wou besit eintlik geen waarde het nie, gemeet aan die blote feit dat hy lewe. Of die vrou wat vertel dat haar man wat herstel het, nou nie uit die motor wil klim in die dorp nie. Of die vrou wat begin huil as jy bloot net die woord Covid gebruik, omdat dit haar terugruk na ure en ure se gesukkel om asem te haal.
En dan sit ek, deur God se genade beskerm en bewaar, en ek besef dat die impak van hierdie pandemie nog lank by ons mense gaan spook. Soos ’n oorlog oor en oor op emosionele vlak deur dié wat dit beleef het geveg word, gaan ons ook nog lank met mense moet saamloop wat hierdie werklikheid, nee, hierdie nagmerrie, moes deurleef. Ek kan maar net hoop dat ons as kerk sensitief en barmhartig genoeg gaan wees om ons lidmate deur hierdie hel by te staan.
Bly asseblief veilig en dra mekaar se laste, juis in hierdie tyd.
*** Die pandemie raak ook die publikasie van Die Hervormer. Omdat daar inperkings is en die hoeveelheid mense wat ’n erediens mag bywoon beperk is, en nie alle gemeentes tans eredienste het nie, gee ons tans Die Hervormer net elektronies uit. ’n Volledige pdf-weergawe, wat lyk net soos die gedrukte weergawe, sal ook aan predikante en gemeentes gestuur word. Ons wil tog vra dat dit na soveel mense moontlik versprei word. Die oomblik wanneer ons weer 200 mense per erediens kan akkommodeer, sal die gedrukte publikasie weer aan gemeentes versprei word.