I’m a social worker! What is your superpower?
Gewapen met superhero borsspelde en bederfsakkies, het ek besluit om mede- maatskaplike werkers te herinner om Maatskaplike Werkersdag 2020 te vier… Dit gaan meestal ongesiens verby, en dit was vir my tyd om aan die beroep, aan onsself, erkenning te gee.
As enigste maatskaplike werker in ’n kantoor van ’n nie-winsgewende kinderbeskermingsorganisasie het ek behoefte aan kollegas gehad op dié dag – die skouer en die oor, vir ’n gedeelde lotbeklaging, ondersteuning, moed inpraat, die herlaai van ’n ek-weet-waarvan-jy-praat-sessie.
Ten spyte van die goeie idee was daar min sprake van die skouer, die oor, ondersteuning of die herlaaigevoel. Want maatskaplike werkers beweeg rond, daar is verslae om te skryf, kinders om te assesseer en huise om te ondersoek… Hier en daar kon ek ’n kollega in die hardloop voorkeer, laat stop om die pakkie te neem, en kon ek darem die dankbare glimlag vasvang op ’n foto. Ander bederfsakkies is in die afwesigheid van die ontvanger afgelewer. Ek was hoopvol dat kollegas die bederfsakkie dadelik sou raaksien op hul chaotiese lessenaars, en dat dit ’n aangename ervaring sou wees. Dis nou wanneer, of as, hy of sy terugkom kantoor toe na ’n lang dag.
Dit is ’n vae herinnering, Maatskaplike Werkersdag 2020. Tog was dit amper ’n simboliese gebeurtenis vir my, ’n afskeid en ’n begin. Dis byna ’n jaar, en ’n jaar is lank, dit voel so ver, doer ver, maar ook so aaneen…
Die aankondiging dat skole vroeër sou sluit vir die eerste kwartaal, en die aanvang van die Covid-19-pandemie, het die viering van Maatskaplike Werkersdag vinnig in die agtergrond laat vervaag. Dit was waarskynlik die begin van die einde vir my toe maatskaplike werkers ook op die lys van essential workers geplaas is. Dinge gebeur, eindelik! Dit is beslis ’n prestasie, ’n mylpaal vir die beroep. Eindelik word die beroep erken as noodsaaklik, dat daar deur maatskaplike werkers ’n verskil gemaak word. Dis bemagtigend om noodsaaklik te voel, dit doen iets aan jou. Dit moet tog erkenning in die toekoms beteken vir ons maatskaplike werkers, veral in die nie-winsgewende sektor.
Daar was beslis onsekerheid oor wat dit sou impliseer op grondvlak, veral prakties. Die aankondiging het stilweg verbygegaan, amper soos oor ou nuus is daar nie weer daaroor gepraat nie. Geen verduideliking, geen verwagtings, geen roadshow. Net the show must go on…
Toe die vreemde woorde (nou alombekend) – Nasionale Grendeltyd; Die Inperking; Covid-19-pandemie. Die land het ’n nasionale krisis. Alles word tot stilstand geruk. Dit was beslis die einde van normaal, en die begin van die “nuwe normaal”. Ek hou nie van die begrip nie – dit maak net nie maatskaplik of sosiaal vir my sin nie, nie eens taalkundig nie. Die teenoorgestelde van normaal is tog abnormaal. Hoe kan normaal nuut word? Kan dit goed wees?
Maar vir ons as noodsaaklike werkers was daar nie tyd vir te veel besin nie – daar was dinge om te doen. Ongeag die onsekerheid oor wat die noodsaaklikheid sou behels in ’n tydperk van algehele inperking, het ek as maatskaplike werker die inperking braaf, gefokus, met moed en gedetermineerd ingestap toe ek die kantoordeur op 26 Maart 2020 agter my toemaak. Ek was bang, benoud en kon aanvoel dinge sal nie weer dieselfde wees nie, maar ek was reg om die ding te doen.
Die meeste mense het die inperking as verpligte verlof, vakansie by die huis, tyd vir stokperdjies of die agterstallige huistake gesien en benut, totdat verdere verlenging van die inperking ’n realiteit was en die “vakansie” te lank geword het, vir almal. Tyd vir herbesin, voorraad neem – wat in sommige gevalle tot die einde van ’n lewe of ’n huwelik gelei het, vir ander weer ’n nuwe begin in ’n ou huwelik. Dit was later nie meer die verpligte vakansie nie – almal wou na die ou bekende terugkeer. Aanvanklik was dit nie moeilik om as noodsaaklike werker op te tree nie. Die opsie om verlof te neem, ook af te skakel en te ontspan, was nie vir my daar nie – ek is dan ’n maatskaplike werker, ek is noodsaaklik. Dit het my gedryf, my oortuig om aan te hou, harder te werk, ekstra in te sit… (Dit het my gesin ook gedryf – teen die mure uit!)
Die noodsaaklikheid van maatskaplike werkers het nie die struikelblokke van die beroep in die nuwe normaal uit die weg geruim nie. Dit was eerder asof die struikelblokke toegeneem het toe ons noodsaaklik geword het. Namate die inperking verleng is en die balle wat in die lug gehou moes word toegeneem het, het my moed minder geword, my fokus geskuif, my wiele pap geword. Die nuwe normaal het beslis gelei tot nuwe sosiale en maatskaplike probleme, waarvoor die oplossings ook nuut moes word.
Dit was met kommer, en moed wat my byna begewe, dat ek die kantoordeur die eerste maal in 2021 oopgemaak het – onseker, onvoorbereid, geen entoesiasme… Ek herinner myself aan hoe positief en gedetermineerd ek die begin van die grendeltydperk ingestap het, en aangegaan het en nie opgehou het nie, die bul by die horings gevat het. Ek besef ek is moeg, fisies en emosioneel moeg – flatline. Ek voel steeds die gewig van die afgelope jaar se nuwe normaal op my skouers en ek voel nie reg of lus vir 2021 nie. Wat kom ná die nuwe normaal?
En ek wonder oor die nuwe noodsaaklikheid – kan dit jou neutraliseer?
(Lize Fouchè is ’n maatskaplike werker by Rata se Nylstroom-kantoor)