Om die een of ander onverklaarbare rede, is daar van ons wat neersien op mense met gebreke, of – om die polities korrekte term te gebruik – gestremdes. “Differently abled” eerder as “disabled”, het die Engelse my geleer.

Ek onthou hoe in die Underground – ek dink dit was by “Angel” (’n Engelse “engel”) stasie – dat ’n aankondiger altyd sou sê: Alight here for the Society of the Blind. Daar was telkens mense met gidshonde wat daar afgeklim het, en merkwaardig genoeg het dié honde lank voor die aankondiging reeds hul eienaars op die voete gehad en laat staan en wag om uit te klim.

Op ’n dag, merk ek, is die aankondiging subtiel anders: Alight here for the Society of Blind People. En dit tref my: Ja, só hoort dit!

Ons is geneig om die mensheid van iemand met ’n gestremdheid te reduseer tot daardie gestremdheid: blindes, Dowes, verlamdes, Downs. Gestremdes kla soms ons “sien” hulle nie raak nie, net (en beslis altyd) hul gestremdheid. Hulle is gesiggestremd ja, maar hulle is ook voluit mense.

Marno Retief en Rantoa Letšosa het in 2018 in HTS Teologiese Studies / Theological Studies in ’n artikel, “Models of disability: A brief overview”, gemeld dat godsdienstiges tot nou toe nog neig om gestremdheid te beoordeel as God se bestrawwing van die individu of familie vir die een of ander oortreding van ’n wet van God. Dit, hoop ek, gaan onder ons einde kry.

Ek onthou ’n HSV/Van der Hoff-oefenkamp by Roodeplaatdam, toe die weerlig die krag uitslaan en ons in stikdonkerte begin nagsê en voel-voel na ons beddens soek. Gaan ons nie afsluit nie? vra iemand uit die donker. Wel, ons kan bid, maar nie lees nie. Mario, ’n regstudent wat ook blind is, antwoord: Maar ek kan lees. Daar sit ons in verslae verwondering oor ’n lig wat in ons aangaan toe Mario Johannes 1 vlot uit sy braille Bybel voorlees:

4 In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Menswees is tegelyk meer en minder as dit wat ons anders maak.

Enersyds is ons, gestremd of nie, voluit mense. Menswees weeg die swaarste.

Andersyds vorm en slyp gestremdheid ons ganse bestaan. Ons is anderse mense danksy ons “gebreke”. En wie van ons is nie gebroke nie? Ons is almal net elders stukkend.

Ek het ’n probleem met my geestesgesondheid. Ek sien daarvoor ’n terapeut en ’n psigiater. Ek gebruik medikasie. Doen ek dit nie, saai ek verwoesting, in my gesin en in my gemeente. Gelukkig help medisyne daarvoor, en God. Maar ek leer dat “gestremdheid” nie meer ’n gepaste woord is om te gebruik as jy van gestremde mense praat nie, nie eens as jy onthou om “mense” agterna te sê nie. Want ons is elkeen van ons gestremd, net anders gestremd. Ons is deur ons verledes seergemaak en gebreek, deur ons eie doen en late en ander mense s’n. Die nagevolge daarvan loop stadigaan uit soos olie uit ’n enjin. Tot op ’n dag…

In Jesus is daar lewe. Die Heilige Gees kom steek weer die Lig in ons aan. Daaroor het ek geen twyfel nie. God kom sit terug wat ons mis. Ons is nuwe mense.

Maar ek moes eers leer dat as my eie gees gebreklik is, ek dit tot in my vingerpunte gaan agterkom, in elke haartjie op my lyf. Want ek, en my hele lyf, is een en dieselfde ding.

Verduidelik ek toe mos nou die dag aan ’n gay man die Hervormde Kerk se besluite oor gay mense, dat ons nie in mekaar se slaapkamers lol nie. Ek dog hy sou ons aanprys. Nee, dit maak hom kwaad, maar vir my taalgebruik, nie vir die Kerk nie. Ek is nie net in my slaapkamer gay nie. Gay is wie ek is. Ek het my man met my hele hart lief. Ek dien hom met my lewe.

Leer ek toe mos nou weer om mooi te dink voor ek praat. Om mense nie in stukke te kap nie, maar juis heel te maak. Om hele mense raak te sien.

Ek is self ’n emosioneel gestremde man wat kunsmatig onder beheer gehou word. Ek is tot in my vingerpunte en haarfollikels gestremd. Al wat my van sigbaar liggaamlik gestremde mense onderskei, is dat ek anders gestremd is, en my pille steek dit (nog) goed weg. Nee, het ek besluit, wegsteek gaan ek dit nie meer nie; net ander mense nie gedurig daarmee belas nie. Maar daar is goed wat ander mense regkry wat ek nie kan doen nie, glo my maar: Soos om, soos Mario, lig in die donker te sien.

Ek is “differently abled”, anders aanmekaargesit. Maar dis nog ek hierdie.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)