Ek is ’n pa van drie dogters.
Pleks van saam met die rugbypa’s kantlyn langs agter die bal aan te hardloop en die “ref” sy fortuin te vertel, het ek my ewe stemmig langs die netbalbane probeer klein hou, want ma’s weet ook van netbalreëls, veel meer as ek of die tannie met die fluitjie. Ek het smiddae meisiekinders wedstryde toe aangery, want dominees het mos baie tyd.
Ek het my meisies gewaarsku hulle gaan nie uit my greep wegkom nie, nie voor hulle geleer het om op hul eie voete te staan nie, want op ’n man reken vroue nie; mans gee pad. Ek het my meisies geleer om te praat, of ’n stil bek nou ’n heel bek is of nie. Vandag byt ék op my tong, want praat kan hulle goed doen en hulle sê hard en duidelik hul sê. Ek het hulle geleer deurdruk; jy hou met niks sommer halfpad op nie; al is ophou nie opgee nie, jy maak klaar wat jy begin het. Ek het vir hulle net een ding gebid: dat hulle sal glo. Want ek het geweet die mense wat ek grootmaak, gaan moet bontstaan, want die wêreld gaan hulle nie duld nie.
En hier sit ek my nou oor hulle en bekommer, al weet ek die Here frons vir my. Maar, het ek vir die Here gesê, ek weet Hy bekommer Hom oor my ook maar, want ek is ’n brose siel wat nie so goed slaag met uithou en aanhou nie. Ek hoop Hy verstaan ten minste darem my kleingelowige kommernis oor my kinders. Want, jy sien, hierdie vroue wat ek grootgemaak het, word meedoënloos geboelie. Hulle is, al drie van hulle, in professionele beroepe, op plekke waar mans graag neerkykend sê vroue moet dit soos ’n man leer vat, of kombuis toe pad vat. Met dié verskil dat dit vroue is. Dit is toe nie die mans waarteen ek hulle so gewaarsku het, wat hulle so, sonder enige terughouding vir hul vroulike geslag, soos wat ’n mens soms selfs van mans kan verwag, uitmergel nie, maar vroue.
Nie net mense hou hulself magtig nie, posisie matig mense aan om mag te misbruik. Ek vergaap my aan die venyn van mense in selfs die sektore van tersiêre onderwys en mediese sorg. Dat hulle al drie my dogters se gees al ’n slag kon breek, gaan die verstand te bowe. Want sterk is hulle, én gelowig. Gelowig wees laat jou nie die harde werklikheid omseil en die vervolging wat Jesus verduur het, vryspring nie, dit weet ons almal. Maar daar kom ’n dag wanneer jy uit die bed uit moet opstaan en nog ’n dag daarvan in die gesig staar, en jy net nie meer kans sien nie. Of jy kom by die werk, en jy breek daar ten aanskoue van die wêreld in klein stukkies wat nie weer gegom kan word nie. Ons staan nie sommer weer in hierdie wêreld heel op nie.
Ek is kwaad en my hart bloei.
Ek het hier begin skryf na ek reeds my gal op haar werkplek se openbare platform gebraak het, maar toe nie geplaas het nie. Ek het besluit ek sou liefs stilbly. As ek inmeng, sal hulle dit beslis op haar uithaal. Buitendien, sy sal nog haar eie oorlog wen.
Maar magteloosheid maak my briesend.
Jesus was nie kwaad nie, want Jesus was nie, soos ek, verras nie. Jesus ken mense te goed.
Waaroor het julle geredeneer? vra Hy, maar hulle bly stil. Dit was ’n onderonsie oor wie van hulle die belangrikste is. Boelies doen dit nie, hulle weet klaar wie die septer swaai, en maak seker jy buig laag.
Jesus laat roep die twaalf: As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees. Dit was toe dat Hy die kindjie in sy arms geneem en gesê het eers as jy dink kindertjies is belangrik genoeg om gekoester en nie gekruisig te word nie, sal jy snap hoe belangrik Jesus is. Markus vertel ons daarvan in hoofstuk 9.
As jy die boelie is vir wie niemand meer regtig ontsag het nie en jy dit met geweld moet afdwing, skaam jou. En kry dit in jou kop dat jy nie eerste staan nie. En nee, kerk is nie kerk en die wêreld werk anders nie. Ook jou werkplek is God se koninkryk, Jesus se magsgebied. Dien Hom daar.
En is jy vanmôre meer stukkend as heel, moet jou nie laat afdreig nie; mag jy Jesus jou vandag voel vashou.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Dominee, dit is ń uitstekende stuk!
Baie dankie daarvoor.
Dit behoort talle mense te bemoedig.
Dit moes al dekades gelede in ons Hervormde geledere verskyn het.
Nee, een keer is genoeg. Bewende vingers kry die skuld
Ek kan gemaklik saamstem met Prof. Loader en vir ds La Grange dankie sê vir hierdie uitstekende stuk.
Mense met meer geld is ook geneig om te boelie deur eksklusiewe klieke te vorm. Dalk besef hulle dit nie, maar sulke optrede is ook diskriminering/diskriminasie en geld of besittings is nie ‘n goeie maatstaf nie, nie voor die Here nie.