Die term robot kom die eerste keer voor in die verhoogstuk van Karel Čapek met die titel Rossum’s Universal Robots. Met die ontwikkeling van masjiene en outomate word verskillende vlakke van robotika gedifferensieer, soos industriële robotte, diensrobotte en sosiale robotte. Industriële robotte word meestal in veiligheidshokke in industriële aanlegte gevind waar die robotte herhalende take verrig en van mense geïsoleer is. Diensrobotte, soos robotstofsuiers, werk in die onmiddellike omgewing van mense. Hierdie tipe robot het breë oriëntasievaardighede wat relevant is om in die teenwoordigheid van lewende wesens te werk. Sosiale robotte kan reageer op verbale en emosionele menslike reaksie en dan gepas reageer volgens die vereistes van die situasie.
In die digitale era word robotte nie net deur mediese dokters gebruik om met chirurgie te help nie. Sosiale robotte word, en sal gebruik word, in omgeeberoepe soos verpleging en versorging van bejaardes.
Die woorde wat voor die woord sorg gesit word, bepaal dikwels die tipe sorg wat verskaf of benodig word – dit beïnvloed die kwaliteit en karakter van die sorg wat verskaf word en bepaal wie dit verskaf. Die bou van verhoudings word beskou as een van die fundamentele aspekte van sorg.
Wanneer ’n robot verantwoordelik is vir die versorging, ontstaan sekere vrae:
- Hoe kan ’n mens ’n verhouding met ’n robot bou?
- Wat sal die inhoud van so ’n verhouding wees?
- Is die bou van ’n verhouding deel van die interaksie wat vereis word met robotte wat versorg?
Tans word versorgingsrobotte nog nie in tehuise in Suid-Afrika gebruik nie. Dit is wel belangrik dat ons van hierdie ontwikkeling bewus is omdat dit ook hier plaaslik ’n realiteit sal word. Versorgingsrobotte word reeds in onder andere Europa, Japan en China gebruik. Die doel van die gebruik van robotte in hierdie versorgingprofessie is om die lewenskwaliteit van bejaarde mense te verbeter. Een van die redes vir die gebruik van robotte in die versorging van bejaardes is dat die aantal bejaardes in die bevolking die aantal jongmense begin verbysteek wat in staat is om sulke versorging te doen.
In baie versorgingsoorde vir bejaardes word bejaardes deur vriendelike en gemotiveerde mense versorg, maar ongelukkig is daar ook situasies waar ouer mense nie goed deur hul versorgers behandel word nie. Die swak behandeling toon dat daar nie verseker kan word dat ’n ouer persoon se waardigheid eerste gestel word wanneer menslike versorgers betrokke is nie.
Argumente vir die gebruik van robotte in sorg behels onder meer dat robotte nie moeg, gestres of oorwerk sal wees nie. Hulle sal nie kwaad word en wreed en onvriendelik teenoor ouer persone optree nie. Argumente teen die gebruik van robotte in die versorging van ouer persone lui dat robotte nie in staat is tot opregte deernis, empatie en begrip nie. As ouer mense hoofsaaklik deur robotte versorg sou word, kan dit tot sosiale isolasie lei.
Die vraag ontstaan of die bekendstelling van robotte as versorgers en metgeselle die situasie sal verbeter.
Die vernaamste maniere waarop robotte in die versorging van ouer mense gebruik word, is om bejaardes en hul versorgers by te staan, die gedrag en gesondheid van bejaardes te monitor en geselskap te verskaf. Om hierdie take uit te voer, word verskillende kategorieë robotte gebruik. Hulprobotte is robotte in wat ontwerp is om ouer mense te help om sommige verouderingsprobleme te oorkom, soos die robot wat mense van ’n bed na ’n rolstoel kan optel en dra. Hierdie robotte kan die mobiliteit van ouer mense verhoog en hulle in staat stel om betrokke te raak by verskeie vorme van sosiale interaksies wat gevoelens van selfrespek kan bevorder. Dit kan ouer mense se afhanklikheid van mense verminder en keer dat hulle deur besige verpleegpersoneel afgeskeep word. Dit kan selfs blyk dat gegewe die keuse, sommige bejaardes dalk robotversorging verkies in teenstelling met menslike hulp vir sekere intieme take soos om toilet toe te gaan en om te bad.
Kommer wat in die gebruik van hulprobotte vir die versorging van bejaardes geopper word, is dat die verhoogde gebruik van hierdie robotte tot verminderde interaksie met mense kan lei en geleenthede vir sosiale interaksie kan verminder.
Die tweede tipe robotte wat in die versorging van bejaardes gebruik word, is robotte wat hulle monitor en toesig hou oor hulle. Hierdie tipe versorgingsrobot is geprogrammeer om bejaardes te herinner aan roetineaktiwiteite soos eet, vloeistof inneem en om hul medisyne te neem. Hierdie robotte is in staat om die ouer persoon van kamer tot kamer te volg om hul gesondheid te monitor. Hulle is selfs toegerus met ’n skerm wat gebruik kan word vir virtuele besoeke of op ’n afstand beheer kan word deur gemagtigde gebruikers om die beweging van bejaardes te monitor. Virtuele besoeke kan eensaamheid en gebrek aan sosiale kontak verlig.
Bekommernisse wat geopper is rakende versorgingsrobotte, is dat alhoewel virtuele besoeke eensaamheid en gebrek aan sosiale kontak verminder, is dit nie ’n voldoende plaasvervanger vir ’n familielid wat hul ruimte deel en hulle besoek en byvoorbeeld ’n drukkie gee nie. Daar is ook die vraag rakende toegang tot die data wat deur die robot ingesamel is: Wie sal toegang tot die inligting hê?
Die derde soort robot wat in die versorging van bejaardes gebruik word, is ’n metgeselrobot. Die bekendste robotte uit hierdie groep is die mensagtige robot, Peper, en die troeteldierrobot, Paro. Pepper kan lyftaal lees, die omgewing waarneem en in wisselwerking daarmee verkeer en rondbeweeg. Dit kan ook mense se uitdrukkings en stemtoon ontleed. Paro is ’n robagtige robot wat bedek is ’n met antibakteriese pels. Paro se sensors stel dit in staat om te reageer wanneer dit gestreel word, en dit kan emosies uitdruk deur sy stert en lyf te beweeg en oë te knip. Interaktiwiteit met troeteldierrobotte verminder stres en angs en skep ontspanningsgeleenthede. Die positiewe effekte is soortgelyk aan dié wat verkry word van diereondersteunde terapie deurdat dit eensaamheid en stres verminder.
Etiese kwessies rakende metgeselrobotte is dat dit die hoeveelheid menslike kontak kan verminder en kan lei tot misleiding. Interaksie met die robotmaat kan die bejaardes mislei om te dink dat die robot iets is waarmee hulle ’n verhouding kan hê. Robotmetgeselle kan gebruik word om dit te regverdig om die senior burger langer op hul eie te los (moenie bekommerd wees nie, sy/hy het die robot om mee te praat).
Mense is geneig om aan masjiene en ander voorwerpe menslike eienskappe toe te ken en dan te verwag dat hulle tot meer in staat is as wat eintlik die geval is. Robotte kan nie voldoende verhoudings vorm nie en kan nie menslike liefde en aandag vervang nie. Interaksie met mense kan nie vervang word deur interaksie met robotte nie. Die sorg wat bejaardes nodig het, is nie net bystand en monitering en robotgeselskap nie, maar menslike deernis en aandag. Deernis en aandag vereis teenwoordigheid en die motivering vir hierdie teenwoordigheid is liefde.
Pastorale sorg is gebaseer op empatiese teenwoordigheid en die motivering vir pastorale sorg is liefde. Pastorale sorg gaan nie net daaroor om trauma nadat dit plaasgevind het, te verlig nie, maar ook om trauma te voorkom waar dit moontlik is. Pastorale sorg gaan ook daaroor om mense te bemagtig om besluite en aksies en moontlike gebeurtenisse te ondersoek voordat dit gebeur en om hulle voor te berei op moontlike uitkomste of gevolge.
Wat die gebruik van robotte in die versorging van bejaardes betref, word daar van pastorale versorgers verwag om die potensiële positiewe en negatiewe impak van robotte te ondersoek en te verken. Dit moet tesame met bejaardes of familie van bejaardes wat hierdie tipe van versorging gaan oorweeg, plaasvind en dit moet hulle help om voorbereid te wees op wat moontlik kan gebeur.
(Dr Annelie Botha is dosent in Praktiese Teologie en predikant by Gemeente Kempten)