Matteus 14: 22-33

Vers 33: Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Elkeen van ons het al swaar gekry, moeilikhede beleef en probleme in die lewe ervaar. Swaarkry in die lewe het ’n tweeledige dimensie. Elkeen van ons kan verstaan as ons probleme in die lewe kry wanneer ons die verkeerde ding gedoen het. Al moet ons dit net in ons binneste teenoor onsself erken dat die probleme ons eie skuld is. Wanneer ons egter probleme in die lewe kry omdat ons die regte ding gedoen het, is dit vir ons ’n baie groot uitdaging. Dit is dan wanneer ons begin met vrae soos: Hoekom? of Waarom gebeur dit met my? Dit is hierdie soort vrae wat ’n geloofskrisis in ’n gelowige se lewe kan veroorsaak.

Matteus vertel vir ons in die gedeelte wat volg op die vermeerdering van die brood dat Jesus die dissipels opdrag gegee het om in die skuit te klim en solank na die oorkant na Betsaida te gaan terwyl Hy die mense huis toe stuur. Hulle het geen rede gehad om nie die opdrag van Jesus te gehoorsaam nie. Die dissipels was nog in verwondering na die vermeerdering van die brood, maar tog het hulle nog nie geweet hoe om oor Jesus te dink nie. Hulle sien Jesus op hierdie stadium nog as ’n mens wat besondere dinge kan doen.

Ons lees dan wanneer hulle op die see begin vaar, begin hulle baie moeilik roei omdat die wind teen hulle was en die see onstuimig geword het. Vir ses kilometer sukkel hulle om teen die wind te roei. Hulle beland in die middel van die nag in stormsee en hulle sukkel. Die dissipels het die regte ding gedoen, maar tog kry hulle moeilikheid. Hulle het Jesus se opdrag uitgevoer, maar nou voer hulle ’n verbete stryd teen die wind en storm op die see.

Terwyl die dissipels so sukkel op die see sien ons dat Jesus teen die berg opgegaan het om te gaan bid. Jesus sien dat die dissipels swaar roei en dat hulle sukkel, maar Hy gaan eers die volgende oggend na die dissipels nadat hulle ’n moeilike aand beleef het. Dit was baie belangrik dat Jesus op die see na hulle moes loop en dat Hy die wind moes stilmaak. Twee natuurwette word hier gebreek. Die eerste een is dat geen mens op water kan loop nie, selfs nie eens ’n besondere mens nie. Die tweede is dat geen mens die wind kan stilmaak nie. Hierdie natuurwette styg bo die menslike vermoëns uit. Wanneer Jesus in die skuit by hulle klim, buig die dissipels voor Hom en sê: U is waarlik Seun van God. Dit was dus baie belangrik dat die dissipels op die see moes sukkel en dat Jesus op die water moes loop. Die dissipels kon hierna nie anders as om Jesus as Seun van God te bely nie.

Hierdie dissipelervaring gebeur ook somtyds in ons lewe dat ons so oorval word deur probleme en moeilikheid dat ons deur ’n ernstige worsteling gaan. Hierdie probleme kan finansieel van aard wees, dit kan ons gesondheid bedreig, dit kan verhoudingsprobleme wees of nog ander. Daar is ’n mooi spreekwoord wat sê: Swaarkry is die vrugbare grond waarin God elke Christen oorplant wat moet groei. Die dissipels moes daardie aand op die see in hul geloof groei om uiteindelik tot ’n wonderlike belydenis te kon kom. Somtyds is dit belangrik dat ons midde-in ons nood weer tot die punt kom wat ons Jesus kan bely en sê: U is waarlik Seun van God.

Wat belangrik is, is dat Jesus die dissipels nie maar net aan hul eie lot oorgelaat het nie, maar dat Hy vir hulle uitkoms gegee het met wonderwerke. Ons moet nou nog glo en vertrou dat die Here ook wonderwerke in ons lewens laat plaasvind. Wanneer ons deur lewensbeproewings gaan, moet ons ook geduldig vertrou dat ons in vrugbare grond oorgeplant is om in die geloof te groei.