’n Winkbrou of twee het gelig toe ek vertel het dat die groot opdrag, in Matteus 28: 16-20 die tema vir die 10de ADV en Ubi Caritas-simposium sal wees wat op 20 tot 22 Maart gehou is. Die winkbroue het gevra hoekom ons die sendingopdrag sou wou gebruik vir barmhartigheidswerk – is daar dan nie beter tekste nie?
Met barmhartigheidswerk is ons egter gewoond aan winkbroue wat lig. En dit is niks nuuts nie – Jesus het baie winkbroue laat lig! Met vrae en opmerkings soos: Wie is my naaste?, Ons moet net glo, wat ons doen maak nie saak nie en Julle is humanisties, is daar van die vroegste tye tot nou toe geworstel. Jesus se antwoord was egter eenvoudig: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen (Matt 25: 40, AFR2020).
Dit was insiggewend om die bekende teks in Matteus 28: 19-20 opnuut te bekyk. Maak dissipels is die enigste imperatief in die teks. Die opdrag is duidelik dat ons mense moet help en begelei om dissipels te word: volgelinge wat in Jesus se voetspore volg. En daardie voetspore het op baie plekke ’n draai gemaak: op die platteland, in die stad, by die Samaritane, die tollenaars, die sondaars… Dit loop na die siekes toe, dié met gestremdhede, die armes, die verwerptes. Dit gaan na die sinagoges, die tempel, die Joodse leiers, die godsdienstiges, maar ook die vrou wat op owerspel betrap is! Jesus het mense gevoed, vir hulle gebid, genees, aanvaar, geleer, liefgehad. Om maar net ’n paar te noem.
As Jesus dan sê ons moet dissipels maak van al die nasies, moet ons net probeer om te doen wat Hy gedoen het. Ons moenie vasgevang raak in vrae en redes hoekom ons eerder verlangs verby moet gaan nie. Ons moet die uitdagings en struikelblokke aandurf, mekaar ondersteun en aanmoedig, en Christus se liefde met al die nasies deel.
Gaan dan na al die nasies toe… In Afrikaans lyk dit of ons na ander plekke, ander nasies, moet gaan. Vandaar die beskrywing van hierdie teks as ’n sendingopdrag. Maar eintlik is die opdrag baie nader aan ons. Die Griekse woord wat ons met gaan vertaal, sê nie ons moet ver weggaan na ander plekke nie, maar dat ons, al ganende, soos wat ons lewe, oral waar ons gaan, mense dissipels moet maak. Verder hoef ons nie te gaan soek na ver nasies en ongekerstende volke nie – ons moet na almal gaan. Eenvoudiger gesê, ons moet niemand oorslaan nie. Daar is plek vir almal in God se koninkryk!
Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees… Wanneer ons die woord doop hoor, raak ons só maklik vasgevang in vraagstukke soos kinderdoop, grootdoop, bekeringsdoop, ensovoorts. Maar dit is nie die doel van die groot opdrag om oor hierdie vraagstukke te worstel nie. Die opdrag om te doop beteken hier ook dat ons mense moet deel maak van Jesus se dissipels – deel maak van die geloofsgemeenskap wat Jesus volg. Ons volg nie in isolasie in Jesus se voetspore nie, maar juis as deel van ’n gemeenskap van gelowiges. Ons glo nie ter wille van onsself en ons eie heil nie. Ons dien God omdat Hy God is. Ons volg Hom omdat Hy God is. Ons deel sy liefde met ander omdat Hy eerste sy liefde met ons gedeel het. Ons bring ander mense in om die volle betekenis van God as ons Vader, Seun en Heilige Gees te ontvang.
…en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Christelike barmhartigheid gaan nie oor godsdienstige reëls nie, maar ook nie oor blote humanisme (lees: liefdadigheid en medemenslikheid) nie. Dit gaan oor die volheid daarvan om Christus se dissipel te wees, in sy voetspore te volg, te doen wat Hy gedoen het, lief te hê soos Hy liefgehad het en steeds liefhet. Ons opdrag is nie om mense die kerk in te dwing nie, ook nie om bloot kospakkies uit te deel nie. Ons opdrag is om dissipels te maak – om mense te leer hoe om in Christus se voetspore te volg. Om saam met hulle die pad te stap, om hulle laste te help dra, om hulle deel te maak van die gemeenskap van gelowige volgelinge van Jesus.
Jesus het hierdie groot opdrag aan sy dissipels gegee. Net daarna het Hy opgevaar na die hemel. Dit was ’n tyd van verandering en uitdaging vir sy dissipels. Die verandering het ook ingesluit dat hulle apostels geword het: uitgestuurdes. Maar in al die uitdagings en veranderings is ons nie alleen nie, want Hy het vir ons sy Gees gestuur. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.
Dit is die groot opdrag aan ons as gelowiges: Al ganende, maak dissipels van al die mense!
(Ds Gerhard Stoltz is die sekretaris van die Kommissie van die Algemene Diakensvergadering en predikant in Gemeente Westonaria)