Dit was tydens die pas afgelope Paasfees weer vir my ’n voorreg om die Stasies van die Kruis in my gemeente te besoek en te ervaar. Kerke worstel nogal met die vraag: Hoe kan lidmate ’n ou boodskap weer opnuut as betekenisvol beleef? Die Stasies van die Kruis is beslis ’n manier om gelowiges weer te inspireer.
Vir my het die Stasies van die Kruis my aan installasiekuns laat dink. Dit is ’n vorm van kontemporêre kuns wat driedimensioneel is en dikwels spesifiek vir ’n bepaalde plek geskep word. Dit kombineer verskeie media soos beeldhouwerk, video, klank, lig, en selfs reuke om ’n ervaringgebaseerde kunswerk te skep. Die kyker se interaksie en fisiese teenwoordigheid in die ruimte is dikwels ’n belangrike deel van die betekenis van die werk. Die doel van installasiekuns is om ’n omvattende ervaring te skep wat emosionele, intellektuele of selfs liggaamlike reaksie by die kyker uitlok. Dit daag dikwels tradisionele idees oor wat kuns is en waar dit vertoon moet word, uit. Net soos installasiekuns die kyker uitdaag, kan dit ingespan word om gelowiges uit te daag en aan te moedig om weer hul geloof vars te beleef.
Dit het nou-al ’n gebruik geword in Gemeente Centurion-Oos dat ds Lisa-Mari Prinsloo tydens die Pase al 14 die stasies van die kruis gebruik om gemeentelede te lei om hul geloof op konkrete wyse uit te leef.
Die Stasies van die Kruis oftewel Kruisweg is ’n meditatiewe praktyk wat die lyding en dood van Jesus Christus gedenk. Dit bestaan uit 14 stasies wat elk ’n spesifieke gebeurtenis op Jesus se kruistog gedenk.
Die 14 stasies is die volgende:
- Jesus word ter dood veroordeel
- Jesus neem sy kruis op
- Jesus val vir die eerste keer
- Jesus ontmoet sy moeder
- Simon van Sirene help Jesus om die kruis te dra
- Veronika vee Jesus se gesig af
- Jesus val vir die tweede keer
- Jesus troos die vroue van Jerusalem
- Jesus val vir die derde keer
- Jesus word van sy klere ontneem
- Jesus word aan die kruis vasgespyker
- Jesus sterf aan die kruis
- Jesus se liggaam word van die kruis afgehaal
- Jesus word in die graf gelê
Die doel met die stasies is nie om elk van bogenoemde gebeure konkreet voor te stel nie. Dit dien bloot as inspirasie om op metaforiese wyse die toeskouer tot ’n sintuiglike en praktiese belewing van hul geloof te lei. Die toeskouer word ’n deelnemer en word met aktiwiteite by elke stasie betrek. Die stasie kan deur verskillende mense of groepe heeltemal verskillend geïnterpreteer word en kan ook van jaar tot jaar verskil.
Elke stasie beeld op simboliese wyse sekere konsepte uit. Elke deelnemer ontvang ’n inligtingstuk by die begin wat stap-vir-stap as aanwyser dien. So vereis Stasie 1 refleksie van die deelnemer op sy of haar lewensreis deur middel van sekere vrae asook ’n aktiwiteit. Stasie 2 vereis dat jy reflekteer oor wat dit beteken om ’n mens te wees en die rol wat mense in jou lewe speel. Stasie 3 gee jou die geleentheid om die goedheid van die skepping te bepeins tesame met ’n singewende aktiwiteit. En so volg die verskillende stasies mekaar op en lei jou tot ’n dieper bewussyn van wat dit beteken om ’n gelowige te wees. Vir elke mens is dit ’n unieke ervaring.
Vir my persoonlik was die ervaring aanvanklik vreemd, enersyds omdat dit aktiewe betrokkenheid vereis en andersyds ook omdat jy met jouself gekonfronteer word. Dit was half ongemaklik om so eerlik met myself te wees. Die proses lei jou tot selfontdekking en dit is nie altyd maklik nie. Indien jy wel bereid is om jouself oop te stel en jou aan die proses oor te gee, dan is dit asof jy ’n diepe dankbaarheid ervaar en in die geloof vernuwe word. So onderneem ’n mens as gelowige as’t ware ’n eie kruistog.
(Prof Louis van Niekerk is lidmaat van Gemeente Centurion-Oos)