Aan die einde van 2016 het ons gesin in Kanada aangeland. Ons is dus nou al byna agt en ’n half jaar woonagtig en werksaam in ’n dorp genaamd Mission. Hierdie dorp is geleë in die provinsie British Columbia in die weste van Kanada. Dit is ongeveer 70 km oos van die stad Vancouver en geleë op die oewer van die magtige Fraserrivier. Ons is in ’n pragtige omgewing met berge en woude wat ons omring. Alhoewel ons kerkgebou in die dorp geleë is, sien ek taamlik gereeld wilde diere soos swartbere, wasbeertjies en eekhorings deur my studeerkamervenster.
Die kerklike landskap lyk hier baie anders as in Suid-Afrika. Slegs 34% van die bevolking in ons provinsie is Christene en van hulle is dit ongeveer slegs 16% wat nog taamlik gereeld kerkdienste bywoon. Maar te midde van dit bly die kerk voortbestaan. Die grootste kerk en geloofsgroep in ons omgewing is gemeentes wat verbonde is aan ’n Anabaptistiese groep genaamd die Mennoniete. Die Mennonitiese immigrante het vanaf Rusland hierheen gekom tydens die Russiese Rewolusie en later ook van Oekraïne ná die Tweede Wêreldoorlog. Vanweë immigrante afkomstig van Suid- en Sentraal-Amerika sowel as die Filippyne is die Rooms-Katolieke Kerk ook taamlik sterk. Daar is ook enkele groterige Pinksterkerke, en in Abbotsford (’n nabygeleë stad) selfs ’n taamlik groot gemeente van die Christen Gereformeerde Kerk. Oor die algemeen is die tradisioneel Protestantse hoofstroomkerke se gemeentes egter gewoonlik klein met ’n ouerwordende demografie. Alhoewel die gemeentes klein is, is die lidmate uiters toegewyd en dra hulle daartoe by om die kerk aan die gang te hou. Ongelukkig gebeur dit dat van die mense doodeenvoudig later net te oud word en dan raak dit al hoe moeiliker om die kerk se deure oop te hou.
Ek dien as ’n predikant in ’n gemeente wat deel vorm van die Kanadese Assosiasie van Lutherse Gemeentes. Dit is ’n klein kerklike groepering wat teologies konserwatief is, maar tog ruimte bied vir ’n diversiteit in liturgie. Vanweë immigrasie is Kanada ’n baie diverse land veral wat die meer stedelike bevolking betref. Die diversiteit is ook te sien in die Kerk waarin ek dien. Behalwe gebore Kanadese beskik die Assosiasie oor diensdoende predikante wat afkomstig is van Suid-Afrika, Ethiopië, China, die VSA en selfs Guyana. Ons beskik oor tradisionele Engelssprekende Kanadese gemeentes tot gemeentes wat dienste in Hakka, Mandaryns en Kantonees vir die Chinese immigrante aanbied.
Een keer per maand hou ek ’n Afrikaanse diens, wat getrou bygewoon word deur mense wat nie ver van ons kerkgebou woon nie en sporadies deur mense wat verder woon. Na elke diens eet en kuier ons heerlik saam en in die somer hou ons ’n bring-en-braai. Afrikaanse mense van ’n wye spektrum van kerklike agtergronde woon die dienste by en ons akkommodeer mekaar in liefde. Ons fokus op dít wat ons in gemeen het, naamlik ons geloof in Jesus Christus en die feit dat ons Hom in Afrikaans saam aanbid. Ons is ook besig om ’n Afrikaanse bediening in Alberta (ons buurprovinsie) te vestig. Ds Chris Koch, een van ons predikante in Alberta, lei die diens. In Saskatchewan (die provinsie oos van Alberta) hou ’n voormalige Hervormde predikant, ds Gerhardt Venter wat nou ’n Christen Gereformeerde predikant is, ook met tye ’n Afrikaanse diens.
Ons het gewoonlik meer mense op ’n Sondag in die kerk as wat op die gemeente se lidmaatregister is. Ons lidmate woon getrou eredienste by. Daar is ook mense van ander kerklike agtergronde wat ons kerk getrou bywoon en wat dalk oor sekere leerstellings nie met ons saamstem nie, maar wel van ons gemeente en ons dienste hou. Mettertyd raak hulle ten volle betrokke, alhoewel baie nooit volle lidmaatskap opneem nie. Ons gemeente is betrokke in die gemeenskap en ons reik uit waar ons kan. Ons het jaarliks ’n 4×4-dag, ’n naweekkamp, ’n damestee, en nog ander geleenthede – veral rondom Kerstyd, Lydenstyd en Paastyd. Ons gemeente eet gereeld saam en so bou ons aan ons onderlinge verbondenheid. Ons is op die oomblik besig om aan ’n samewerkingsooreenkoms met ’n Christen Gereformeerde gemeente op ons dorp te werk. Hulle het nie ’n kerkgebou nie en kan nie meer ’n eie predikant bekostig nie, maar het ’n paar meelewende jong gesinne met baie kinders. Terwyl ons gemeente meestal uit ouer mense bestaan, glo ons dat ons mekaar goed sal kan aanvul. Ons vat ons tyd met die proses en bou aan ons verhouding met krag en genade wat van Bo kom.
Met my gesin gaan dit baie goed. Sedert ons hier aangekom het, het die Here ons geseën en ons is baie dankbaar daarvoor. Ons gesin is bedrywig! Rita is skoolhoof by die plaaslike Christelike privaatskool. Die seuns bly besig met allerlei sport- en ander aktiwiteite. Daar is baie geleenthede vir kinders om aan te gryp, en ons kinders maak goed daarvan gebruik. Ons hou daarvan om saam as gesin tyd buite te spandeer. Ons braai, maak tuin, kamp, kajak, stap, vang vis en ry rond. Getrou aan ons Suid-Afrikaanse herkoms maak ons gereeld boerewors, biltong en melktert en geniet dit saam met vriende en familie wat van Suid-Afrika afkomstig is. Al het ons al oor die jare baie goed hier aangepas en tuis voel, bly ons lief vir Suid-Afrika en ons mense. Wees verseker dat julle in ons gebede bly en dat ons julle net die beste toewens.
Mag die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees by julle almal wees.
(Ds Leslie Kern is ’n voormalige predikant van die NHKA en tans leraar by die Kanadese Assosiasie van Lutherse Gemeentes)

Afrikaanse Kersdiens

Gemeente-ontbyt op Paassondag

Met vakansie in Meksiko

Bring-en-braai na Afrikaanse erediens

Leslie en Leslie jnr snowtubing

Nico Kern speel voetbal op BC Place stadion in Vancouver