Prediker – watter gevoelens of gedagtes wek dié boek in die Ou Testament by jou op? Ons het pas saam in ons Bybelskool daardeur gewerk. Soos verwag, was daar gemengde reaksies. Dis swaar, het iemand gesê. Dis negatief, het ’n ander gemeen. En ja, Prediker voel soms soos ’n boek wat in die winter, eerder as in die somer, gelees moet word.

Maar terwyl ons die bladsye saam deurgewerk het, het iets begin verander. Ons het begin besef: Prediker is nie ’n boek van wanhoop nie, dis ’n boek van realisme. En in daardie realisme – in die erkenning van die seisoene van die lewe – lê ’n diepe troos opgesluit.

Prediker 3 begin met dié bekende gedagte: Daar is ’n tyd vir alles. Die skrywer maak in hierdie poëtiese gedeelte gebruik van ’n stylfiguur wat ’n merisme genoem word: Hy noem die uiterstes – geboorte en dood, huil en lag – en impliseer daarmee alles tussenin. Dis asof hy sê: Wat jy ook al beleef, daar is ’n tyd daarvoor. En God is Heer oor daardie tyd.

Dit is die wipwaentjierit van die lewe. Dié gedeelte in Prediker is beskrywend, nie voorskriftelik nie. Salomo se slotsom is dat ons die lewe nie met pessimisme moet bejeën nie, maar dit eerder moet geniet as ’n gawe van God. Jesus sê: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Joh 10: 10, AFR83).

Wysheid is om met eerbied en ontsag voor God te leef. Ons moet ons plek voor Hom ken, en ons moet Hom vertrou – die Een wat buite tyd staan.

Ek dink aan daardie kinderlike gewoonte van ons om na die einde van ’n storieboek te spring, net om te kyk: Gaan dit goed eindig? Ek wonder: Kan ons dit ook doen met die Bybel? Kan ons, in geloof, na die einde kyk en weet – ons Outeur skryf nie tragedies nie?

Vir seker ja! Hy skryf verlossingsverhale. Hy tree triomfantlik uit die stryd, en daarmee saam is ons oorwinnaars.

Ek het onlangs ’n video van ’n spoedskilder (speed painter) gesien. Die kunstenaar het net een minuut en 39 sekondes gehad om iets pragtig te skilder. Die gehoor het toegekyk hoe hy vinnig en energiek werk – maar wat op die doek verskyn het, was vreemd. Onsamehangend. Chaoties. Mense het gefrons. Wat is dit? Hoekom lyk dit so onafgewerk?

Selfs die beoordelaars was ongemaklik. Hulle het mekaar aangekyk, verbaas dat die kunstenaar sy beperkte tyd só “verkwis” het. Hier was ’n geleentheid om iets indrukwekkend te skep – en hy het dit blykbaar verkwis op ’n warboel van lyne en kleure wat geen sin maak nie. Die frustrasie was tasbaar, die teleurstelling amper sigbaar.

En dan – op die laaste oomblik – draai die kunstenaar die skilderdoek om. Skielik sien almal die beeld: ’n pragtige portret, duidelik en indrukwekkend. Almal in die vertrek reageer met verbasing. Wat aanvanklik onsinnig gelyk het, was eintlik meesterlik – net onderstebo. Mense was verwonderd: Jy is só begaaf dat jy dit onderstebo kon teken. En ek dink: As ek geweet het wat kom, as ek dit weer moes kyk, sou ek gesê het: Wag net! Wag net. Dit gaan pragtig wees.

So is dit ook met God. Ons kyk na ons lewens en sien net die stukkies – die donker kleure, die vreemde hoeke. Maar Hy sê: Wag. Wag net.

Dan, op die regte tyd, draai Hy die skilderdoek om, en ons sien: Hy het alles uitgewerk ten goede. Dis hoekom ons met vrymoedigheid kan sê: Goeie Vrydag. Daardie Vrydag het alles behalwe goed gelyk. Die Saterdag nog minder. Maar die Sondag – Sondag het Jesus opgestaan. En nou, met die voordeel van terugkyk, weet ons: Dit wás ’n goeie Vrydag!

In die evangelie bewys God dit aan ons. Op ’n dag wat ons die vermetelheid het om “goed” te noem – terwyl Jesus aan die kruis hang, gemartel, bebloed, sterwend – sê ons: Wag net! Wag net!

Drie dae later staan Hy op uit die dood. God, wat buite tyd staan, maak alles goed – in sy tyd, wat nie ons tyd is nie.

Die lewe is soos ’n legkaart van duisende stukkies. Ons hou al daardie stukkies in ons hand, maar nie die houer met die volledige prentjie nie. Ons sien nie die prentjie nie. God sien. En Hy vra nie dat ons alles moet verstaan nie – Hy vra dat ons Hom moet vertrou. In daardie vertroue ontdek ons die Immanuel: God met ons.

Nie net in die begin nie. Nie net in die einde nie. Maar in elke seisoen tussenin.

Soos ons die jaar afsluit – of ’n nuwe jaar begin – mag ons onthou: Daar is ’n tyd vir alles, en in elke tyd is God teenwoordig. Hy is nie net die Skepper van die seisoene nie – Hy is die Herder in elke seisoen. Hy is goed. Hy is getrou.

Wag. Wag net – die kunstenaar is nog nie klaar nie. In God se hande word elke oggendson ná die donker nag ’n belofte van nuwe lewe, en elke skynbaar onsinnige stukkie ’n meesterstuk van hoop, herstel en oorwinning.

(Ds Janine Bevolo-Manders is leraar in Gemeente Witfontein)