In die natuur is daar veral drie vorme van interaksie tussen verskillende spesies plante en diere: parasitisme, kommensalisme en mutualisme.

Parasitisme is waar een organisme op ’n ander teer en selfs daardie dier of plant in die proses vernietig. Hier dink ons aan parasiete soos bosluise wat allermins voordeel inhou vir die dier waarop hulle voed! Kommensalisme is waar een dier voordeel trek uit die verhouding, maar die ander organisme nie werklik bevoordeel of benadeel word nie. ’n Voorbeeld van kommensialisme is die wit bosluisvoëls wat onder andere agter beeste aanloop om die insekte wat deur hulle opgejaag word, te vang. Mutualisme is ’n ander belangrike simbiotiese verhouding in die natuur, waar albei partye in die verhouding voordeel trek. Dink maar aan die verhouding tussen ’n renostervoëltjie en ’n bees of ’n rooibok, miere en plantluise, of bye en blomme. Hulle het mekaar nodig en is van mekaar afhanklik vir hul voortbestaan.

In sekere areas van ons lewe as mense, verstaan ons hierdie konsep. By die werk sal ons nog beleefd met ons meerderes praat en probeer om die verhouding in stand te hou, want hulle betaal op die ou end ons salaris. Ons sal probeer om die onderwysers wat ons toetse moet merk, met respek te behandel, al hou ons niks van hulle nie! Dit waarvoor ons betaal, bewaar ons. As ek iets met my eie swaarverdiende geld gekoop het, is ek heilig daaroor. Maar wanneer dit kom by ons gesinne, ons families, dié wat die naaste aan ons is, verhoudings wat ons “verniet” gekry het, is dit asof ons hierdie konsep nie verstaan nie. Ons vernietig veral dié dinge wat ons verniet kry. Wanneer ek dink dat ek nie voordeel uit iets kan trek nie, vernietig ek dit maklik. Wanneer ons na mekaar pik en hap en byt, is dit allermins om die ander persoon te help om van parasiete ontslae te raak…

Die mense die naaste aan my is ’n gawe van God, maar dis juis hulle wat ons met ons woorde vernietig. Soos daar in Galasiërs 5: 15 staan: …julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Ons verslind nie net mekaar nie, ons verslind ook die natuur, want ons het dit mos ook verniet gekry. En in die ekologiese krisis waarin ons tans verkeer, word dit duidelik. Ons, wat die God dien vir wie elke lewe van onskatbare waarde is, die God wat selfs omgee vir die mossies (die goedkoopste brandoffer in die Bybelse tyd), ons is selfgemaakte parasiete wat verteer en opgebruik. Ons opdrag was om te bewerk en te bewaar, met ander woorde, om in ’n mutualistiese verhouding met die skepping te leef sodat ons almal voordeel daaruit kan trek, maar omdat ons die skepping verniet gekry het, vernietig ons dit.

Dit gaan ons duur te staan kom. Ons vernietig “gratis” verhoudings, die “kostelose” skepping, en so probeer ons ons eie nietigheid verberg. So wys ons ons oënskynlike onskatbare waarde; ons krag en mag; dat ons die apex predator is. Dalk is die redenasie: Deur ’n ander te vertrap en te verneder, verhoog ek myself, kry ek voordeel, is ek in beheer. Soos ’n bosluis wat met ’n vetgesuigde lyf aan die gasheer hang. Versadig, totdat die Gasheer as gevolg van my gulsigheid sterf. En dan besef ek eers my eie nietigheid.

Verniet

Ek voel vere onder my voete,
ek loop oor hulle en dit is sag en donsig.
Daardie voëltjies wat nie heuning bring nie,
hulle wat nie parasiete eet
of mooi sing nie –
vir hulle voel ek vere.
Die mossies en mensies wat net bestaan,
is nuttelose lewens,
maar dooie vere is voordelig.

Hulle offer is byna gratis:
Ons verslind hulle sonder om te kou!
Hulle bydrae – tog so effentjies,
hulle val is geen verlies.

“En wie is jy, wat jouself so duur waardeer?
Onder al die mooi klere is jy veerloos,
meer naak as enige mossie;
meer nietig as die mens sonder aansien;
weerloos in jou selfvernietiging.

En tog is daar vir jou genade.
Het Ek te duur vir jou betaal?
Was My offer verniet?”

(Dr Anet Dreyer-Krüger is ’n nie-diensdoende NHKA-predikant met ampsvoorreg)