Dit begin selde met ’n krisis. Daar is nie ’n skielike konflik wat almal ontstel nie. Geen dramatiese skeuring of openbare twis haal die koerante nie. Die kerkraad vergader steeds getrou. Die eredienste verloop ordelik. Die begroting hou nog kop bo water. Op die oppervlak lyk alles aanvaarbaar. En tog – iewers, amper onmerkbaar – begin die Lig van God al hoe dowwer word.
Die vreugde van gelowigwees en kerkwees is nie meer so spontaan nie. Die verwagting is nie meer so tasbaar nie. Die gevoel dat God besig is om iets nuuts te doen, raak in my persoonlike lewe en in die lewe van die Kerk stadig maar seker vaag. Dit is asof die gemeente steeds beweeg, maar nie meer met dieselfde helder doelgerigtheid – dieselfde roepingsbewustheid – nie. En voordat ons dit behoorlik kan omskryf, bevind ons onsself op ’n plek van onsekerheid. Nie omdat iemand doelbewus verkeerd opgetree het nie. Nie omdat iemand opsetlik van die Here afgedwaal het nie. Maar omdat die uitdagings van die tyd ons stilletjies bekruip het en in die hart van ons kerkwees begin werk het. Ons het dit nie eers duidelik gehoor of gesien nie, maar ons voel dit in ons gelowigwees en kerkwees.
Hierdie ervaring is nie vreemd aan gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) nie. In gesprekke oor die afgelope jare – op ringsvlak, by sinodale byeenkomste en in plaaslike gemeentes – kom ’n soortgelyke toon na vore. Baie gemeentes stoei – sommige met finansiële druk, ander met dalende lidmaattalle, nog ander met strukture wat swaar begin aftrek. Maar die dieper worsteling is dikwels moeiliker om te omskryf. Dit is ’n gevoel van moegheid. ’n Onsekerheid oor rigting. Vrae oor relevansie. ’n Stil verlies aan momentum. ’n Onsekerheid oor roeping.
Die vraag wat ons eerlik moet vra, is: Hoe gebeur dit? Hoe beland ’n gemeente, wat getrou gebid en gewerk het, op ’n plek waar die lig dowwer raak? Die antwoord is selde eenvoudig. Gemeentes verloor nie hul roeping in een oomblik nie. Dit gebeur eerder soos ’n skip wat stadig van koers af dryf. Die taal van missie en visie bly. Die strukture bly. Die programme bly. Ons is besiger as ooit. Maar die roeping hou op om ons besluite te vorm. Vergaderings begin hoofsaaklik oor instandhouding gaan. Bedieninge en diens bly bestaan omdat dit nog altyd daar was. Aktiwiteit neem toe, maar die impak neem af. Ons raak besig, maar nie noodwendig gehoorsaam aan God nie.
Daar is ook ’n subtiele verskuiwing wat maklik ongemerk bly: gemak vervang roeping. Stabiliteit voel veilig. Voorspelbaarheid voel gesond. Ons weet wat om te doen en wat om te verwag. Ons weet hoe dinge werk. Maar stadigaan vervang gemak die stille, heilige verwagting dat God iets nuuts kan doen. Gebed word roetine eerder as afhanklikheid. Beplanning vervang onderskeiding, en sonder dat ons dit bedoel, begin ons kerkwees meer oor beheer gaan as oor gehoorsaamheid.
Hierdie verskuiwing raak ook leierskap. Die druk op gemeentes van die NHKA is werklik. Finansies moet bestuur word. Eiendomme moet onderhou word. Administrasie moet gedoen word. Hierdie sake is nie onbelangrik nie. Maar wanneer leierskap hoofsaaklik tot bestuur gereduseer word, verloor die gemeente haar hart. Besluite word geneem, maar mense word nie altyd begelei nie. Strukture funksioneer, maar verhoudings verskraal. Die gemeente raak meer georganiseerd, maar nie noodwendig meer geestelik lewendig nie.
Intussen gebeur daar nog iets wat ons maklik miskyk: die stille wegraak van mense. Nie met protes nie. Konflik word vermy, slegs in afwesigheid. Die getroue egpaar wat jare lank elke Sondag daar was, sit nie meer in hul bank nie. Die senior lidmaat wat altyd gebid het vir die kerk se werk, kom nie meer nie. Soms is dit ouderdom en gesondheid. Soms is dit moedeloosheid. Soms is dit net ’n gevoel dat hulle nie meer hul plek vind nie. Hierdie stille eksodus sny dieper as wat ons besef, want dit raak nie net getalle nie, maar die siel van die Kerk.
In sulke tye is die versoeking groot om vinnige oplossings te soek. ’n Nuwe strategie. ’n Nuwe program. ’n Nuwe model wat alles sal regmaak. Ons wil weet: Wat is die plan? Wat is die resep? Maar die waarheid is dat daar nie een plan vir alle gemeentes van die NHKA is nie. Elke gemeente leef in haar eie konteks. Elke gemeente dra haar eie geskiedenis, haar eie pyn, haar eie gawes. Wat in een dorp werk, werk nie noodwendig in ’n ander nie. Wat in een generasie vrug gedra het, dra nie noodwendig op dieselfde manier in die volgende nie.
Miskien moet ons daarom weer terugkeer na ’n ouer, Bybelse woord: roeping. Vir baie jare het ons gefokus op visie en missie. Hierdie begrippe bly belangrik. Maar roeping gaan dieper as ’n strategiese formulering. Roeping is nie bloot ’n slagspreuk nie. Dit is ’n verhouding. Dit begin by God wat roep. God wat sy kerk roep om deel te neem aan sy missio Dei. God wat individue roep, maar ook gemeentes en die Kerk roep. Die vraag is dus nie net: Wat wil ons bereik nie? Die vraag is: Waartoe roep God ons nou?
Hier lê ’n profetiese woord vir ons kerk. Ons kan nie net in stand hou wat was nie. Ons kan nie net probeer oorleef nie. Ons kan nie tevrede wees met ’n stil, beheerste agteruitgang nie. Die Here van die kerk roep ons steeds. Hy roep ons om te luister. Hy roep ons om te onderskei. Hy roep ons om te bekeer waar ons afgedwaal het – selfs al was dit net deur stadige verskuiwing. Hierdie roepstem is nie ’n veroordeling nie, maar ’n uitnodiging – ’n uitnodiging tot herontdekking.
Terselfdertyd is daar ’n diep pastorale waarheid wat ons nie mag vergeet nie: baie gemeentes doen reeds soveel goed. Daar is getrouheid. Daar is opoffering. Daar is gebed. Daar is liefde vir die Here en vir mekaar. Die feit dat ons vrae vra, dat ons worstel, is op sigself ’n teken van lewe. ’n Dooie gemeente vra nie vrae nie. ’n Dooie gemeente worstel nie. Daarom moet ons versigtig wees om nie mekaar te veroordeel nie. Ons moet mekaar relasioneel dra.
Die pad vorentoe sal waarskynlik nie deur groot spronge kom nie, maar deur klein, getroue stappe. Dit kan begin met ’n eerlike gesprek. Met kerkraadslede wat nie net oor finansies praat nie, maar oor roeping. Met lidmate wat mekaar vra: Waar sien jy God werk? Wat dink jy vra die Here nou van ons? Dit kan begin met doelbewuste luister – nie net na mekaar nie, maar na die Woord. Met Bybelstudies wat nie net kennis oordra nie, maar onderskeiding beoefen. Met gebed wat nie net versoeke bring nie, maar stil word om te hoor.
Hierdie reis vra ’n nuwe verstaan van leierskap. Nie leiers wat alles weet nie, maar leiers wat saam leer. Nie leiers wat met klaargemaakte antwoorde kom nie, maar wat die moed het om vrae te stel. Leiers wat kan help onderskei tussen tegniese probleme en geestelike uitdagings. Wat kan sê: Hierdie kan ons regmaak. Maar dit vra ’n verandering van hart – ’n bekering. Hierdie soort leierskap is nie swak nie. Dit is nederig, vriendelik, geduldig en verdraagsaam. En juis hierin lê die Lig.
Uiteindelik kom ons by die kern: ons is nie geroep om alleen te reis nie. Die Kerk is ’n gemeenskap. Ons word saam geroep, saam gestuur, saam gedra. Daarom is die uitnodiging nie net individueel nie, maar gemeenskaplik. Gemeentes wat saam sit met ’n oop Bybel en ’n goeie koppie koffie. Gemeentes wat nie te gou oordeel nie, maar eers luister. Gemeentes wat waag om te sê: Ons weet nie alles nie, maar ons wil gehoorsaam wees.
Die uitdagings van ons tyd het ons stilletjies bekruip. Maar dit beteken nie dat die Here stil geword het nie. Hy roep steeds. Hy werk steeds. Hy bou steeds sy kerk. Die vraag is of ons bereid is om weer saam met Hom en met mekaar op pad te gaan. Nie met die sekerheid dat ons elke stap verstaan nie, maar met die vertroue dat Hy ons lei.
Mag die NHKA in hierdie tyd nie net planne maak nie, maar roeping herontdek. Mag ons nie net strukture beskerm nie, maar gehoorsaamheid beoefen. Mag ons die moed hê om saam te reis – luisterend, lerend, hoopvol. Want die toekoms van ons kerk sal nie deur strategie alleen gevorm word nie, maar deur gemeentes wat weer leer om saam met God en mekaar te reis.
(Dr Hannes Janse van Rensburg is leraar by Gemeente Zuurfontein en lid van die SGB: Interim begeleiding, toerusting en fasilitering)