Die jaar 2026 is ’n jaar van besondere kerkhistoriese herdenking. Die NG Kerk vier die 40-jarige bestaan van die historiese dokument Kerk en Samelewing – ’n dokument wat apartheid verwerp het en verklaar het dat die kerk oop is vir alle rasse. Hierdie dokument word beskou as een van die groot roetemerkers in die geskiedenis van die NG Kerk.
Tegelykertyd word die 40-jarige bestaan van die Belydenis van Belhar herdenk. Hierdie belydenis het in September 1982 as konsepbelydenis gestalte gekry tydens die sinode van die NG Sendingkerk (NGSK) en is in 1986 as ’n volwaardige belydenisskrif aanvaar. Dit is later ook deur die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) aanvaar. Die grondoortuiging agter hierdie belydenis was dat apartheid se uitgangspunt van onversoenlikheid tussen mense direk in stryd is met die boodskap van die evangelie.
Die NHKA het nie in 2026 ’n vergelykbare herdenking rondom apartheid nie. Tog is dit sinvol – en noodsaaklik – dat ons ook die geskiedenispad onthou. My kollega aan die Universiteit van Pretoria, prof Van der Merwe, gebruik die beeld van ’n swaai om hierdie gedagte te verduidelik. Om te verstaan waar ons vandag is en om vorentoe te kan swaai, moet ons soms bereid wees om agtertoe te swaai en te onthou.
In hierdie artikel word die NHKA se betrokkenheid by en die uiteindelike verwerping van apartheid kortliks kronologies uiteengesit.
Die verhaal wat ontvou, is dié van ’n Kerk wat apartheid na die Tweede Wêreldoorlog aktief bevorder en teologies begrond het – en wat eers ná meer as ses dekades tot ’n finale afwysing van daardie begronding gekom het.
1951: Die Kerkwet van 1951
In 1951 het die Algemene Kerkvergadering (AKV) ’n Kerkwet aanvaar waarvan Artikel III die grondslag vir ’n amptelike rassebeleid in die kerk gelê het. Die artikel het bepaal:
Die Kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen gelykstelling in sy midde toelaat nie, maar beoog die stigting van volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here – ‘Maak dissipels van alle nasies’ (Matteus 28 :19) – die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so ’n werkverdeling nie geskaad sal word nie. Tot die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika behoort daarom net blanke persone.
1957: Memorandum aan die Wêreldraad van Kerke
Teen 1957 het ’n kommissie van die AKV – met verwysing na gevolgtrekkings wat reeds in 1957 gestalte gekry het – tot die oordeel gekom dat alle mense sondaars is en as sondaars voor God gelyk staan, maar dat gemengde eredienste onwenslik is. Die NHKA het aangevoer dat kerklike skeiding op grond van praktiese ondervinding die beste werkbare praktyk is. Hierdie standpunt is in ’n memorandum aan die Wêreldraad van Kerke (WRK) beskikbaar gestel.
1960: Die Cottesloe-beraad
Tydens die Cottesloe-beraad het die NHKA apartheid as die enigste oplossing aan die WRK voorgestel. Op 14 April 1960 het die Kerk ’n verklaring gepubliseer waarin apartheid beskryf is as ’n Christelike gefundeerde, regverdige beleid – ’n formulering wat die teologiese regverdiging van staatlike beleid duidelik illustreer.
1961: Rapport oor Artikel III
Die 1961-rapport het bevestig dat kerklike rasseskeiding op Skrif en geskiedenis gegrond is, en dat Artikel III gehandhaaf moet word.
1963: Reaksie op Nederlandse kritiek
Toe die Nederlands Hervormde Kerk in 1963 ’n herderlike skrywe met die titel Het Rassenvraagstuk versprei, het die Kommissie van die AKV met die dokument Gelyke Geleentheid (1963) gereageer. Daarin is apartheid verdedig as ’n beleid wat gehoorsaam is aan Matteus 22: 39.
1964: Die NHKA en die Afrikaner Broederbond
Op 18 Desember 1963 het die Kommissie van die AKV vir oudl JC Oelofse opdrag gegee om ’n ondersoek in te stel na die verhouding tussen die NHKA en die Afrikaner Broederbond. Die resultate is versprei en op 23 April 1964 by die AKV aangebied – ’n aanduiding van die noue verstrengeling tussen kerklike en politieke strukture in hierdie era.
1973: Herderlike skrywe
Die herderlike skrywe van 1973 het apartheid beskryf as die enigste eerlike en Christelike beleid wat oorheersing van een groep deur ’n ander kon voorkom. Volkskerkstigting en segregasie is as Skriftuurlik begrond beskou – ’n standpunt wat in lyn was met die kerk se langtermyn-narratief.
1976–1977: Ondersteuning van afsonderlike ontwikkeling
In 1976 het die AKV die regering se beleid van afsonderlike ontwikkeling ondersteun. Die besluite van 1977 het hierop voortgebou deur te bevestig dat apartheid ’n regte beleid is, mits dit met die regte gesindheid toegepas word. Gesamentlike eredienste is verwerp, en gemengde huwelikswette is verdedig.
1978–1979: Studiekommissie
’n Merkbare verskuiwing begin sigbaar word met die werk van ’n studiekommissie gedurende 1978-1979. Vir die eerste keer begin die Kerk wegbeweeg van ’n Skrifgegronde regverdiging van apartheid, en word rasseskeiding eerder as ’n praktiese reëling, as ’n politieke stelsel met ’n Bybelse grondslag, gesien.
1985: Kerk en Wêreld 2000
Die dokument Kerk en Wêreld 2000 toon ’n dubbele beweging: enersyds ondersteun die NHKA steeds apartheid en handhaaf die volkskerkgedagte as motivering vir afsonderlikheid; andersyds erken die dokument al hoe duideliker dat die implementering van apartheid dikwels met onreg en geweld gepaard gegaan het. Hierdie erkenning verteenwoordig ’n belangrike morele kentering – al is die strukturele regverdiging nog nie prysgegee nie.
1990: Herderlike skrywe – Kerk en Politiek
Die mees beduidende verskuiwing voor 2000 vind in die herderlike skrywe met die titel Kerk en Politiek plaas. In hierdie dokument is daar geen enkele verdediging van apartheid of Artikel III nie. Rassisme word verwerp, en die Kerk streef na ’n kritiese solidariteit met die Afrikanervolk.
2001: Skuldbelydenis by die 66ste AKV
By die 66ste AKV in 2001 het die Kerk skuld bely oor misdade wat onder die apartheidsbeleid gepleeg is. Die besluit lui soos volg:
…dat die kerk kennis neem van die misdade wat onder die Apartheidsbeleid gepleeg is, self deur lidmate van die kerk. Daarvoor bely die kerk sy skuld voor God en word die lidmate opgeroep tot ’n skuldbelydenis teenoor God en medemens.
2006: Identiteit en Relevansie
In 2006 het die Kommissie van die AKV ’n memorandum opgestel met die titel Identiteit en Relevansie van die NHKA aan die begin van die 21e eeu in Suid-Afrika. Die dokument het as besprekingstuk tydens ’n nasionale colloquium gedien. Daarin word die identiteit van die Kerk nie meer aan die volkskerkgedagte verbind nie, maar aan die waardes van die koninkryk van God – ’n fundamentele herkonseptualisering van die Kerk se selfverstaan.
Finale afwysing: Die 69ste AKV (2010) en die BAKV (2011)
Die finale en ondubbelsinnige verwerping van die teologiese begronding van apartheid het tydens die 69ste AKV in 2010 plaasgevind. Die pad hierheen het in 2009 begin toe vyf Hervormde teologiedosente ’n verklaring uitgereik het waarin apartheid as verkeerd beoordeel is en die teologiese regverdiging daarvan as ’n mistasting beskryf is. Die dosente het vervolgens die Kommissie versoek om ’n beskrywings-punt by die 69ste AKV in te dien. Dit lui soos volg:
BESKRYWINGSPUNT 54: TEOLOGIESE DOSENTE – VERWERPING VAN APARTHEID Die 69ste Algemene Kerkvergadering maak in die lig van die 68ste Algemene Kerkvergadering se besluit dat dit verkeerd was om ’n bepaalde regeringsbeleid (apartheid) goed te praat, onomwonde die uitspraak dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie. Die Kerk verwerp apartheid omdat dit:
-
- in stryd is met die evangelie van Jesus Christus
- gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid
- onreg sanksioneer
- die beeld van God in mense aantas
Ons ken geen ander evangelie nie as die evangelie van God se liefde in Christus wat van ons eis om met ander deernis te hê soos God met ons deernis het. Daarom kan ons die Apartheidsisteem in kerk en samelewing nie anders as inherent mensonterend sien nie. Terwyl die aantasting van menswaardigheid op geen manier Bybels, teologies of moreel geregverdig kan word nie, dring die evangelie sowel mense wat deur onregverdige strukture bevoordeel is as dié wat nie bevoordeel is nie, om sulke regverdigingspogings te weerstaan.
Die 69ste AKV het Beskrywingspunt 54 aanvaar, met die amendement dat die Bybels-teologiese aard van die verklaring beklemtoon word.
Hierdie besluit het tot kerklike spanning gelei, en die Kommissie het ’n Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV) in Oktober 2011 belê. Hoewel die gewenste versoening nie ten volle bereik is nie, het die BAKV ’n verdere beslissende verklaring aanvaar:
Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verklaar dat die politieke beleid van Apartheid wat toegepas is in die Republiek van Suid-Afrika, nie teologies geregverdig kan word nie, en herroep hiermee alle goedkeurings in die verlede van die beleid in uitsprake deur die Kerk en namens die Kerk. Dit was in stryd met die evangelie van Jesus Christus.
Met hierdie besluit is dit duidelik gestel dat die Hervormde Kerk alle teologiese regverdiging en begronding van apartheid herroep. So het die moeilike en spanningsvolle diskoers oor apartheid wat meer as 60 jaar geduur het, tot ’n einde gekom. Deure vir die hertoelating van die NHKA tot die WCRC en ander ekumeniese liggame is hierdeur oopgemaak. Ongelukkig het die besluit wel tot kerkskeuring gelei.
Slotgedagte
Hierdie geskiedenis is nie ’n eenvoudige verhaal van skuldige en onskuldige partye nie. Dit is die verhaal van ’n Kerk wat, soos baie ander instansies in die Suid-Afrikaanse samelewing, haar teologie laat verstrengel het met die ideologie van haar tyd. Die waarde van herinnering lê nie daarin om skuld te herleef nie, maar om eerlik te wees oor die verlede sodat die toekoms anders gevorm kan word.
Soos prof Van der Merwe se swaai-metafoor ons herinner: ’n eerlike terugkyk is nie ’n terugval nie. Dit is ’n voorwaarde vir ’n volwaardige vorentoe beweging.
(Dr Antionette Janse van Rensburg is leraar in Gemeente Montana en dosent by Universiteit van Pretoria)