In ’n vinnig veranderende wêreld gebeur dit toenemend dat mense uit pas en soms uit plek in die wêreld voel. Vinnige verandering en uitdagings in samelewingstrukture, laat mense onseker, onveilig en ontuis voel. Daarom word daar ook in die pastoraat aandag gegee aan die belangrikheid van mense se ervaring van behoort en tuiswees wat nou gekoppel is aan mense se totale ervaring van welstand.

Die plek en ruimte wat iemand ’n tuiste noem of as ’n tuiste ervaar, verskil vir almal. Tuiste kan verwys na ’n fisiese plek, die plek waar ’n mens gebore is, die huis waarin jy grootgeword het, die land waarin jy woon, of die huis waar jy tans woon. Tuiste kan ook verwys na die innerlike, psigiese ruimte waar ’n mens gemaklik en veilig voel. Tuiste kan ook verwys na ’n psigososiale ruimte van saamwees met mense wat jy ken en by wie jy gemaklik en tuis voel. Tuiste kan ook verwys na ’n dieper werklikheid om in God se teenwoordigheid te wees, God se teenwoordigheid wat fisiese plekke en omstandighede transendeer.

Om tuis te voel, is nou gekoppel aan ’n mens se gevoel van behoort. Om te behoort kan beskryf word as die ervaring van deel wees van sosiale stelsels soos familie, vriende, skool, werksomgewing, geloofsgemeenskap, kultuurgroepe en fisiese plekke. Die behoefte om te behoort bevorder ’n gevoel van sekuriteit en is ook verbind aan welstand. Die behoefte om te behoort is belangrik vir menslike gesondheid. Ten spyte van die belangrikheid van behoort, vind baie mense dit moeilik om te ervaar dat hulle behoort.

Sosiale vervreemding is ’n groeiende bron van kommer en word onder andere veroorsaak deur ontwikkelinge in tegnologie, gebroke gesins- en gemeenskapstrukture en die tempo van die moderne lewe. Die Covid-pandemie het hierdie ervaring van sosiale vervreemding wat reeds bestaan het, versnel. Tydens die Covid-pandemie het huise, wat gewoonlik as veilige ruimtes beskou is, gevaarlike plekke geword waar verskeie vorme van mishandeling plaasgevind het. Dit het bygedra tot ontworteling. Diegene wat mishandel is, is van hul gevoel van behoort en sekuriteit beroof.

’n Teologie van tuiswees

’n Teologie van tuiswees begin en eindig met God as die een wat skep. God skep plekke en mense waar en met wie ’n mens kan saamleef. Dit het te doen met ingewortel wees in God, God se mense en God se aarde.

’n Gevoel van ontworteling en haweloosheid is dikwels een van die gevolge van verstedeliking, en tegnologiese vooruitgang. Tegnologiese vooruitgang maak dat mense op baie plekke kan wees en tog ’n gevoel van valse verbondenheid kan beleef. Gevolglik word die waarde van menslike interaksie van aangesig tot aangesig onderskat.

In ’n wêreld waarin dit dikwels dol gaan, ’n wêreld wat gevul is met besig wees en druk en hiperaktiwiteit, word woorde soos stilte, stilwees, stabiliteit en behoort vreemd aan daaglikse ervarings wat dikwels beskryf word deur woorde soos chaoties, onstabiel en ontwortel. Stilte, stabiliteit en behoort is egter dié dinge wat ’n teologie van tuiswees moet poog om te herwin.

Mense benodig stabiliteit en die vryheid om stadiger te leef, om so gesonder lewens wat die siel voed, te lei. Een manier waarop mense dit kan bereik, is deur gemeenskap met God, hulself en ander. Dit behels om tuis te wees met God en jouself. Hierdie stadige leef om weer verbind te word en te behoort, vereis ’n teologie van tuiswees wat die oproep van Psalm 46: 11-12 ernstig opneem: Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting (AFR83).

Vanuit ’n pastorale perspektief, is dit die roeping van die geloofsgemeenskap om mense hierdie gevoel van tuiswees te gee wanneer mense met waardigheid as mede-beelddraers van God behandel word. Om in gemeenskap met God, jouself en ander te leef, bevorder die skep van ruimtes waar almal tuis kan voel en voel dat hulle behoort.

Om te behoort

Maslow stel dat liefde en om te behoort van die mees basiese menslike behoeftes is. Die behoefte om te behoort word op die derde vlak binne die sosiale behoeftekategorie geplaas en beklemtoon die belangrikheid daarvan vir menslike welstand. Om te behoort sluit die sosiale behoeftes van vriendskap, familie, intimiteit en ’n gevoel van gemeenskap of verbondenheid in. Wanneer die behoefte aan behoort nie voldoende bevredig word nie, ervaar individue gevoelens van eensaamheid, isolasie en ’n gebrek aan betekenis.

Daar is verskeie studies wat die voordele van ’n gesonde gevoel van behoort aantoon. Van die voordele wat geïdentifiseer is, is verbeterde sosiale verhoudings, akademiese sukses, loopbaanprestasie en beter fisiese en geestelike welstand. Die negatiewe gevolge van nie behoort tot nie of verwerping sluit ’n verhoogde risiko van geestesongesteldheid, antisosiale gedrag, verswakte immuunfunksie, fisiese siekte en vroeë dood in.

Die onderskeie sosiale wetenskapdissiplines beskik elkeen oor verskillende maatstawwe om die mate waarvolgens iemand ervaar dat hulle behoort, te meet. In sommige gevalle is die ervaring van behoort gebaseer op prestasie-aanwysers. Die gevoel van behoort aan ’n gemeente kan byvoorbeeld afhang van die hoeveelheid ondersteuning wat ’n persoon van daardie gemeente ontvang. 

Navorsers het vier komponente geïdentifiseer waaruit die ervaring van behoort ontstaan. Die eerste komponent is bekwaamheid om te behoort; die tweede komponent is geleenthede om te behoort; die derde komponent is motivering om te behoort; en die vierde komponent is persepsies van behoort.

Bekwaamheid om te behoort: Wanneer individue die nodige vaardighede besit om aan sosiale interaksies deel te neem, effektief te kommunikeer en verhoudings te bou, verbeter dit hul vermoë om met ander te skakel en ’n gevoel van behoort te voel.

Geleenthede om te behoort: Die tweede aspek van behoort beklemtoon die beskikbaarheid van geleenthede wat individue in staat stel om verbind te voel. Hier gaan dit oor die verwydering of vermindering van hindernisse wat individue kan rem om ten volle deel te neem en betrokke te raak by sosiale groepe of gemeenskappe.

Motivering om te behoort: Motivering speel ’n belangrike rol in individue se gevoel van behoort. Wanneer individue gemotiveerd is om te behoort, is hulle meer geneig om moeite te doen om betekenisvolle verhoudings te bou en te onderhou, wat hul algehele gevoel van behoort verbeter.

Persepsies van behoort: Die laaste aspek van behoort fokus op hoe individue tydens positiewe of negatiewe interaksies en verbindings dink, interpreteer en reageer. Positiewe sienings van behoort verhoog selfbeeld, selfvertroue en tevredenheid met sosiale bande wat individue se gevoelens van behoort versterk.

Virtuele behoort (Virtual belonging)

Die ontwikkeling en transformasie van sosialemediaplatforms het die samelewing beduidend beïnvloed. In die moderne era het die opkoms van digitale tegnologieë nuwe geleenthede geskep om die basiese menslike behoefte aan behoort, te vervul. Veral onder die jonger geslag soek en vorm mense toenemend verbintenisse en ’n gevoel van behoort in virtuele omgewings. Die konsep van virtuele behoort behels die verskynsel waar individue binne die virtuele gemeenskappe wat hulle kies, doelbewus ’n rol kies en inneem, gebaseer op hul belangstellings en persoonlikheidseienskappe.

Deur aktiewe funksionele en gesonde vorme van behoort na te streef, kan individue ’n ondersteunende en koesterende sosiale omgewing skep wat bydra tot hul algehele welstand.

’n Teologie van behoort

’n Teologie van behoort draai om die verhouding met God. God nooi individue om deernis, liefde en aanvaarding binne ’n verhouding met God self en ander te ervaar. In God se teenwoordigheid en in die teenwoordigheid van mense wat in gemeenskap met God en mekaar leef, is almal welkom, behoort almal, en maak almal saak. ’n Teologie van behoort is gegrond op die wete dat jy aan Jesus Christus behoort – maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God (1 Kor 3: 23, AFR83). Om deel van Christus en die gemeenskap wat Hy vestig te wees, benodig ’n mens nie status of invloed nie. Dit gaan oor onvoorwaardelike aanvaarding en dat jy behoort. Hierdie tipe behoort is nou gekoppel aan gasvryheid.

Gasvryheid, om te behoort en welstand

Die oorsprong van gasvryheid as ’n instelling, ’n bepaalde ingesteldheid teenoor ander, kan teruggevind word in die Joods-Christelike tradisie – veral in die lewe en bediening van Jesus. Gasvryheid word gekenmerk deur die volgende eienskappe: deernis, begrip, vergifnis, gemeenskaplikheid, aanvaarding en liefde. Gasvryheid verteenwoordig ’n ruimte waar moeë en gewonde reisigers aanvaarding en genesing kan vind. Gasvryheid is die reaksie op die menslike toestand van eensaamheid en die behoefte om te behoort, wat noodsaaklik is vir welstand. Gasvryheid gaan oor die skep van ruimtes wat nie oorlaai is met verwagtinge en voorwaardes waaraan voldoen moet word voordat ’n mens tuis kan voel of behoort nie. Gasvryheid gaan oor die skep van koesterende omgewings: plekke en ruimtes van sorg waar mense ervaar dat hulle as ’n subjek en nie ’n objek behandel word nie.

Deur die teologiese erfenis van gasvryheid word ons opgeroep om veilige en koesterende omgewings te skep waar ons in God se teenwoordigheid ingenooi word, en waar almal gevoed kan word en kan tuis voel, en sodoende bydra tot die welstand van almal.

(Dr Annelie Botha is leraar van Gemeente Montana-Oos en dosent by Universiteit van Pretoria)