En daar is ons sowaar aan die einde van 2021. Na die nagmerrie wat ook bekend gestaan het as 2020, Covid-jaar, het ’n mens gewonder wat hierdie jaar sou inhou. Wel, hierdie jaar het nie teleurgestel nie. Nog ’n jaar van drama. Covid-19 het die normale kwota chaos en opwinding verskaf.
Kerke se funksionering is weer eens deur ’n redelik felle inperking drasties beïnvloed. ’n Mens hoor meer en meer van kollegas van ander denominasies in ons omgewings wat vrees vir die voortbestaan van hul gemeentes. Fondsinsamelings wat gewoonlik moet help om gemeentes se begrotings te laat klop, kon nie plaasvind nie. Druk op gemeentelede en ook op pastoriegesinne het dramaties toegeneem.
Asof hierdie druk nie genoeg was nie, moes ons in hierdie jaar een van die hartseerste tye in ons land se geskiedenis beleef met die opstande, misdaad en verwoesting wat hoofsaaklik in KwaZulu-Natal en Gauteng afgespeel het. Ek sal nooit die televisiebeelde vergeet nie van mense wat met televisiestelle en yskaste en elke denkbare ding wat gesteel, ja gesteel kon word, in die strate hardloop.
Die toppunt van hierdie hartseer tyd was sekerlik toe ons, terwyl die president besig was met sy familievergadering, moes toekyk hoe ’n tak van die Bloedoortappingsdiens geplunder word. In daardie tyd moes ’n vriendin van ons en haar baba die ekstra trauma beleef om in Empangeni in die hartjie van die chaos by ’n gastehuis tuis te gaan terwyl haar man sterwend met Covid in die hospitaal gelê het. Sy het egter ook by die hartseer gesien dat mense nog omgee. Toe hul kos en babadoeke begin opraak, het weldoeners plan gemaak en hulle gehelp.
Dit is aan hierdie stukkie positiwiteit dat ek vasklou. Net soos bakkies en motors verlede jaar met die eerste vyf weke van inperking rondgery en kos afgelewer het, het die verhaal van hierdie jong ma en haar seuntjie my weer moed gegee. Ten spyte van al die eksterne dinge waaroor ons nie beheer het nie, is daar steeds hoop, solank ons nog aanhou om vir mekaar daar te wees.
Ons hoef nie ons hoop op politiek en verkiesings te bou nie. Dink net hoe gou die opgewondenheid van die mense wat in rye gestaan en wag het om in die munisipale verkiesing te stem, weer in teleurstelling verander het. Ek sê die ander dag vir ’n plaaslike politikus dat wanneer jy wil wen in politiek, moet jy (soos daardie ou wat almal weet nie goeie gholf speel nie, maar tog elke jaar die kerk of skool se gholfdag wen) so ’n bietjie jok voor jy jou kaart ingee. Dit is die werklikheid! Maar ek is so dankbaar dat ons hoop, ons toekoms nie van politici en beloftes afhang nie. Vir ons is daar steeds hoop.
Ek deel onlangs met die troosdiens van my skoonsus die staaltjie wat ’n oom en tannie my met my eerste huisbesoek in Gemeente Pretoria-Wes vertel het. Skandelik het ek hul van vergeet, maar die impak van hul storie sal ek nooit vergeet nie. Die twee van hulle was destyds toe ek daar predikant was, al baie oud. Hulle het my vertel hoe hulle by die tannie se oumagrootjie in die ou Wes-Transvaal gaan kuier het. Hul oudste, teen die tyd toe ek die storie hoor ook al met pensioen, was vier jaar oud. Ouma Groot het die gewoonte gehad dat kinders wat daar kom kuier vir haar ’n Bybelversie moet opsê. En so oefen hy Psalm 23: 1, soos in die 1933-vertaling: Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie. En die oomblik toe hy voor Ouma Groot staan, rol die woordjies anders oor sy tong en sê hy: Die Here is my Herder, niks sal my breek nie.
Prys die Here! So vat hierdie kind in sy kinderlike onskuld die hart en die wese van God vas. Ja, die Here is ons Herder, niks sal ons breek nie. Nie Covid-19, of onluste of leë verkiesingsbeloftes nie. Niks sal ons breek nie, want ons Here is ons Herder. Die engel het tog by die geboorte van Jesus belowe dat die mense Hom Immanuel sal noem, dit beteken God met ons. Ja, die God wat sy Seun gestuur het om ons te red en ons sy kinders te maak, is dieselfde God wat in die chaos van hierdie wêreld steeds met ons is. Ons Verlosser is dieselfde Een wat met sy hemelvaart belowe het dat Hy by ons is tot aan die einde van die tyd. Ons mag dit nooit vergeet nie! Ja, omdat God by jou is, sal niks jou breek nie.
Hierdie uitgawe is vir my ’n besonderse mylpaal. Dit is my 50ste as redakteur, my 50ste redaksionele brief. En soos elkeen van die voorafgaande 49 uitgawes is ek net so trots op hierdie een. Ek onthou dat ek eenmaal gelees het dat Ronald Reagan as een van die VSA se gewildste en beste presidente gereken word omdat hy sy tekortkominge besef het en hom deur die beste moontlike span omring het. Ek wil vandag, by hierdie mylpaal, my span bedank. Sonder ’n puik redaksionele en produksiespan sou niks moontlik gewees het nie. Julle is die hart van hierdie uitgawe!
In hierdie uitgawe herinner ds Willem Kok ons weer in die Kersboodskap op bladsy 1 dat God bemoeienis maak met hierdie wêreld. Hy herinner ons dat Kersfees weer vir ons die goeie nuus bring dat God die wêreld lief het en by ons is!
In artikels deur dr Johan Bester en ds Frikkie van Wyk deel hulle die resultate van die Kerkspieël-navorsing van 2018-’19. Dit is interessante sake wat in hierdie verslag uitgelig word, soos dat lidmate van die Hervormde Kerk ’n baie hoë premie plaas op die prediking, erediens, en die bediening van die Nagmaal. Verder droom lidmate van ’n kerk wat groei, en by verre die meerderheid is oop vir verandering in die bedieningstrukture.
Dan vra ons, is daar hoop? Natuurlik is daar hoop, solank ons weet waar ons hoop is. Ja, die Here is ons Herder, niks sal ons breek nie.