Op 25 Maart 2022 het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering na konsultasie met die Litigasiekomitee besluit om teen die hofuitspraak van 7 Maart 2022 te appelleer. Op die voorblad en op bladsy 3 verduidelik dr André Ungerer (voorsitter van die Kommissie van die AKV) en adv Joël Fourie (voorsitter van die Litigasiekomitee) onderskeidelik, breedvoerig en baie duidelik hoekom die Kerk nie anders kan nie as om teen die uitspraak te appelleer.
Sedert die uitspraak gemaak en aan die Kerk bekendgemaak is, is ek as redakteur deur verskeie mense in telefoongesprekke en met briewe ingelig oor hul gevoel oor wat die Kerk moet doen. Die reaksies was uiteenlopend. Sommige voel dat ons alles nou moet laat en in liefde met mekaar moet voortleef. Aan die ander kant word die noodsaaklikheid om te appelleer baie duidelik deur die skrywers op bladsye 1 en 3 verwoord.
Ek moet erken dat my eerste reaksie op 7 Maart was dat ons die uitspraak moet aanvaar en aangaan. Daardie nag het ek egter min geslaap en baie met my gedagtes geworstel. Ek het weer die AKV in 2010 onthou toe die besluit oor die feit dat apartheid nie uit die Bybel geregverdig kan word nie, geneem is. Ek het weer die harde skree van die beswaarmaker gehoor. Ek het weer onthou hoe ek gevoel het toe ek in die koerant lees dat ek en my Kerk as ketters verklaar is. Ek het weer onthou hoe ek en ’n ringskommissie waarvan ek voorsitter was, in die liturgiese ruimte, binne die kerk, voor die kansel vanwaar die evangelie Sondae verkondig word, gevloek en met aanranding gedreig is. Ek het weer onthou hoe lidmate van die wegbreekgemeentes vir my kom vertel het van alles wat ons op die gebied van die teologie verkeerd doen.
Tog het ek gewonder, moet ons nie maar vergewe en aangaan nie?
Maar in retrospeksie besef ek dat die Kerk nie anders kan nie as om te appelleer. Ja, vir my as leek lyk dit asof die saak op ’n regsbeginsel beslis is, maar dr Ungerer en adv Fourie verduidelik dat daar moontlik foute gemaak is.
Dit het my weer laat dink oor wat reg is. Ons almal is goed bewus van die voorstelle om die Grondwet van Suid-Afrika te verander sodat dit moontlik sal wees om grond sonder vergoeding te vervreem. Sou dit wet word, sal dit wettig wees om dit te doen. Die vraag bly egter, is dit reg om dit te doen?
Is dit reg om kerkskeuring te veroorsaak en eiendomme na verenigings oor te dra? Is die uitspraak wat die hof gemaak het reg? Wetlik seker, maar moreel, volgens dit wat ons bely en glo?
Lees ’n mens die artikels op bladsye 1 en 3, besef jy egter dat dit hier oor baie meer gaan as net die terugkry van eiendomme. Want as dit al was waaroor dit gegaan het, sou ’n mens kon vra wat doen jy dan met die gebou waar feitlik die hele gemeente met die wegbreekgemeente saamgegaan het, en net enkele lidmate oorgebly het? Die saak waaroor dit gaan, is egter baie groter, baie meer ernstig as bloot om geboue te behou.
Lees weer die twee artikels. Die uitspraak van 7 Maart, sou dit bly staan, verander so baie dinge. Die uitspraak van 7 Maart, as dit bly staan, bring ’n nuwe kerkbegrip in ons Kerk in waar elke gemeente skielik, sonder die groter geheel van die eenheid van die denominasie, besluite neem.
Ek weet nie wat die uiteinde van die saak gaan wees nie. Ek weet nie of die Kerk se appèl gaan slaag of nie. Wat ek weet, is dat ek steeds leef met die swaard oor my kop dat ek as ketter verklaar is. Wat ek weet, is dat ek steeds in onvrede leef met broers en susters in die geloof, wat op grond van ’n politieke ideologie beswaar teen ’n besluit gemaak het, en later teen dit wat ons bely, en gesê het ons Kerk dwaal.
My bede is dat ons, wanneer dit alles verby is, weer vry kan kom, uit kan kom onder hierdie sware las wat op ons as Kerk geplaas is. Mag ons vry word om, sonder belemmering, kerk van Christus te wees.