Soms hoor ’n mens op begrafnisse dat daar uitvoerig vertel word hoe ’n besonder goeie mens die een was wat oorlede is. Dan word baie tyd daaraan bestee om te vertel hoe baie hy of sy vir die armes gedoen het; of hoeveel geld die persoon aan liefdadigheid spandeer het; of dat die persoon net altyd goed gedoen het vir ander mense.

Dié retoriek weerklink veral ook op die begrafnisse van bekende persoonlikhede. Wat dan verder gesê word, is dat hierdie goeie mens nou van daar bo af afkyk na ons wat hier onder is. Of daar word gesê hy of sy glimlag vir ons van daar bo af. Of die persoon wag by die tempelpoorte vir ons. Soms word sulke opmerkings afgesluit met ’n verleë laggie. Intussen is die familie en ander begrafnisgangers ontroosbaar hartseer in hul smart en ontreddering.

Wat verder opmerklik is, is dat, terwyl daar baie gesê word oor die goeie mens wat gesterf het, en oor dié persoon wat op die een of ander manier voortleef na die dood, dikwels niks gesê word oor God of oor Jesus Christus nie. Begrafnisse is maar een voorbeeld waar hierdie dinge opgemerk word. Dit leef wyer as net op begrafnisse. Dit klink soms asof die meeste mense die verwagting het om eendag in die hemel te wees, terwyl daar min of niks in hul lewe is wat getuig van tuis wees in die kerk of geloof in God of in Jesus Christus.

Dit skep die indruk dat daar tans so ’n vae, algemene geloof in ’n hiernamaals onder die mensdom posgevat het. Hierdie geloof het egter niks met God en Christus te doen nie, maar wel met die “troos” dat die dood nie die einde is nie, maar dat hierdie goeie mens na die dood op die een of ander manier in die een of ander hemel voortleef.

Hierdie geloof in ’n hiernamaals sonder God en sonder Christus is strydig met die Bybel en die evangelie van Jesus Christus. Jesus het met sy lewe en prediking die koninkryk van God kom aankondig vir mense wat hulle tot God bekeer en die evangelie glo. Jesus het Hom nie tydens sy lewe met goeie of heilige mense bemoei nie. Hy het Hom gewend tot die “sondaars” van daardie tyd. Hy het met tollenaars en prostitute omgegaan. Hy was tuis tussen die arm en gebroke mense van sy tyd. Hy het die koninkryk van God beloof vir mense wat in totale afhanklikheid van God leef.

Hy het ook verkondig en dit self geleef dat as jy nie jouself kan verloën, jou kruis kan opneem en verander om soos ’n kind te word nie, jy nie in die koninkryk van die hemel sal kom nie. Die koninkryk wat Jesus so verkondig en beloof het, het reeds in hierdie lewe vir gelowige mense aangebreek en sal in die toekoms volledig aanbreek vir dié wat in Jesus Christus glo en saam met Hom sterf. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie (Joh 14: 6). Wanneer Jesus met die sogenaamde goeie of heilige of rein mense van sy tyd te doen gehad het, het Hy hulle as geloofshoogmoedige huigelaars uitgewys wat soos witgepleisterde grafte vol doodsbeendere was.

In aansluiting by Jesus, is die boodskap van die Bybel in geheel ook nie dat goeie mense gered sal word nie. Trouens, Paulus beklemtoon dit dat daar nie so iets soos ’n goeie mens is nie (Rom 3: 9-20). Die boodskap van die Bybel is dat alle mense sondaars is, dat hulle op grond van hul sonde skuldig is voor God en daarom ewige dood en verdoemenis verdien. Mense wat egter hul verlorenheid besef en glo in Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, sal gered word en in die teenwoordigheid van God vir ewig lewe. Veral die Heidelbergse Kategismus leer hierdie samevatting van die geloof baie eksistensieel en duidelik.

Die geloof in ’n tipe algemene hiernamaals as beloning vir “goeie mense” het met verskillende tendense van die hedendaagse tydgees te doen. Dit het te doen daarmee dat die tydgees nie meer duld dat een geloof of godsdiens daarop kan aanspraak maak dat hulle alleen die waarheid het en verkondig nie. Alle godsdienste word as gelyk beskou, alle gode is gelyk en alle godsdienstige geskrifte is gelyk. Jy kan op grond van jou godsdienstige geskrif glo in jou God en die waarheid soos dit vir jou is. Jy mag net nie sê jy alleen is reg en ’n ander is vals of verkeerd nie. Dit het relativisme tot gevolg in dié sin dat daar nie meer iets soos dié waarheid of dié ware God is nie. Dan gryp mense nog reste van ’n bepaalde geloof vas, soos die geloof in lewe na die dood, maar dis nie meer geanker in God nie.

In aansluiting hierby het so ’n vae, algemene geloof in ’n hiernamaals waarskynlik ook te doen met menseverheerliking. Daarom word daar soms ook gepraat van begrafnisse as die viering van die betrokke mens se lewe. Mense vrees steeds die dood. Die gedagte dat ’n geliefde gesterf het, en dat die dood die einde is, bly een van die verskriklikste en angswekkendste gedagtes. Daarom dink mense ’n alternatief uit dat hierdie persoon op grond van ’n sogenaamde goeie lewe, ná die dood in die een of ander gedaante of gestalte in ’n hemel sal voortleef.

Vanuit die kerk se perspektief beskou, het hierdie tendens egter ook te doen met die hedendaagse tydgees waarvolgens tradisioneel Christelike mense anti-kerklik is. Hulle sê dalk dat hulle nog met Jesus ’n pad wil stap, maar nie meer met die kerk iets te doen wil hê nie. Ander sê hulle glo dalk in ’n algemene “God”, maar hulle wil nie met Jesus iets te doen hê nie.

As mense dan nie meer die kerklike belydenis bely nie en nie meer die kerklike verkondiging hoor nie, vervaag of verdraai die geloof in Jesus baie gou om plek te maak vir ’n algemene godheid wat deur alle godsdienste geglo word of deur jou eie verstand geskep word. Omdat so ’n algemene godheid ’n afgod is, maak dit gou plek vir geen god nie. Die tradisioneel Christelik-Westerse samelewing het dus beweeg van kerklike Christendom na postkerklike Christendom na post-Christelike gemeenskap waarin daar min van geloof in God oor is, maar waar mense krampagtig wil vasklou aan ’n hiernamaals.

Natuurlik kan die kerk haarself nie aanmatig dat sy al die antwoorde op al die lewens- en geloofsvrae het nie. Die kerk het veral ook nie al die antwoorde op die vrae na God nie. Die kerk kan ook nie bepaal wie word gered en wie nie. Die kerk kan haarself ook nie uitspreek oor hoe God en of God Hom aan ander mense of geloofsgroepe openbaar nie. Die kerk bring ook nie die heil nie. Die kerk is draer van die heilsboodskap (Ef 3: 10). Die kerk kan alleen nederig maar kragtig op grond van die Bybelse getuienis oor Jesus Christus, die Bybel self en in lyn met die kerklike belydenisse, verkondig dat daar een manier is hoe mense gered kan word, en dit is deur in Jesus Christus te glo en in dankbaarheid voor die aangesig van God te lewe. Dit is wat mense moet glo en dit is wat die kerk moet verkondig sodat hulle getroos kan lewe, en kan sterwe in die verwagting dat hulle vir ewig in die teenwoordigheid van God sal lewe (1 Kor 1: 21-23).

Dit is beter dat iemand op jou begrafnis getuig dat jy in Jesus Christus geglo en in sy voetspore geloop het, as dat mense mekaar probeer troos met die een of ander viering van ’n goeie lewe. Dit is nie goeie mense wat gered word nie. Volgens die beloftes van God in die Bybel is dit gelowige mense wat gered word. In die aangesig van die dood is daar nie baie troos in ’n goeie lewe nie. In die aangesig van die dood is daar wel oneindig baie troos in Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here.

(Dr Daan van Wyk jr is leraar in Gemeente Ebenhaëzer)