Dit was aand en dit was môre, die laaste dag voor die grendelstaat. Die aarde was woes, al was die aarde lank nie meer leeg nie. Die aarde was bewoonbaar, maar om te lewe, was amper onuithoudbaar. Want die mens wat God geskep het as sy verteenwoordiger was té vrugbaar, en het die aarde oorbewoon en -bewerk. Die vis in die see, die voëls in die lug, al die diere van die aarde, die plante wat saad gee, ook al die bome wat vrugte dra en saad gee, oor dit als het die mens geheers en dit áls sy kos gemaak. En die mens was gierig, gulsig en korrup. Hy het begin werk op die dag toe hy moes rus, want daar was te véél werk vir dié wat werk gehad het, en te mín vir dié wat nie gehad het nie. En dit het die mens ongedurig gemaak. Want dié wat niks gehad het nie, wou meer gehad het, en dié wat baie gehad het, ook…
En die mens het ook baie skuld gehad. Vyfduisend vierhonderd en negentig triljoen rand. Niemand het regtig geweet wat om hieraan te doen nie, want die mens het hierdie geld net aan homself geskuld. Die visse, die voëls, die diere, die plante, die bome, die sterre en hemelliggame was nie een kredieteisers wat dié skuld wou vereffen nie. Die skuldeiser en die skuldenaar: net die mens…
Die diamante onder die grond en die olie onder die see was amper opgebruik, die blou van die lug oortrek met besoedeling, en die mens het gretig begin kyk om op naburige planete te gaan woon. Want sy eie tuin van Eden was nie meer groot en mooi genoeg nie.
En die mens, wat tóé al lank reeds vergeet het van Levitikus, het een van God se skepsels met sykousvlerke en ingroeitoonnaels in ’n Presto gegooi en sop gekook. En dit het die mens baie siek gemaak. Of so is daar agterna vertel. En dié siekte het versprei sonder dat die mens geweet het hoe om dit behandel…
Die leiers het gekyk na dít als wat hulle moes bestuur, en gesien dat dit sleg was.
Dit was aand en dit was môre, die eerste dag van die grendelstaat. Die leiers het die mens in sy eie huis toegesluit sodat die siekte nie so vinnig kon versprei nie. Die mens mog nie handel of wandel nie, hy mog nie werk nie, en hy mog nie reis nie. En die mens was vreesbevange, want die siekte het steeds vinnig versprei, en baie het gesterf. En steeds het die leiers nie geweet wat om te doen nie.
In die begindae het ’n nuwe welwillendheid onder die mens posgevat. Al was elkeen in sy eie huis toegesluit, het hulle na mekaar uitgereik, mekaar ondersteun, en mekaar soos naastes lief gehad. En hulle het saam getreur oor hul medemens se afsterwe. En die leiers was tegemoetkomend met die mens en het gehelp soos hulle kon.
En die lug het weer blou geraak, en die visse, die diere, die plante, en die bome, het weer begin floreer. En al was die siekte woes, was die planeet meer bewoonbaar. Want die mens was in sy eie huis toegesluit, en kon nie so baie skade aanrig nie.
Maar na ’n hele wyle het die siekte begin taan. Die mens het begin ongedurig raak en mor. Want hy wou weer wandel en handel en werk. Maar die leiers het gesien dat die grendelstaat hulle baie mag oor die mens gegee het, en wou dit nie beëindig nie. Hulle het ook gesien dat hulle eerder hulself kon verryk, eerder as om die mens te help soos daar van leiers verwag is.
En die mens het opstandig geraak en begin onwettig handel en wandel. Die welwillendheid van tevore het afgesterf, en die mense het begin om teen mekaar te draai. Dit was elkeen vir homself en niemand vir mekaar nie. En die leiers het dit als gesien en die mens begin straf.
Dit het die mense meer opstandig gemaak, en hulle het begin roof en buit. Maar die leiers het hul harte verhard en nie die grendelstaat beëindig nie. Want hul begeerte vir mag was groter as hul roeping om die mens te lei.
En daar het groot vloede gekom. En die mens het gesê die Here straf die leiers wat korrup, magsbehep en vol selfsug is. En die leiers het gesê die Here straf die mens vir sy onwettige handel en wandel. En die leiers het ook onder mekaar begin oorlog maak. Oor grond waarop niemand wou bly nie. En daar het baie mense gesterf. Selfs meer as van die siekte.
Die leiers en die mens het lank en aanhoudend oor al hierdie dinge gedebatteer, want iemand moes skuldig wees. En na ’n baie lang tyd het die leiers en die mens uiteindelik saamgestem oor wie al die probleme veroorsaak het, en oor wie dit moes oplos. Hulle het bepaal die skuldige was nie die leiers of die mens nie, dit was inderdaad iemand anders. Maar niemand wou erken dat hulle die iemand anders was nie…
Dit was aand en dit was môre, die 740ste dag van die grendelstaat. En die leiers het uiteindelik besluit om dit te beëindig. Die mens was weer vry om te handel en te wandel, te werk en te reis. Die siekte was feitlik heeltemal vergete, al het die oorlog nog voortgeduur. Die aarde was steeds woes, en die mens steeds te vrugbaar. Die mens het steeds baie skuld gehad, en was steeds ongedurig, want hy wou steeds graag meer gehad het.
En die leiers was nou selfs sluwer en slinkser as vantevore, want hulle en die mense het tog saamgestem dat die werklike skuldige iemand anders was…
En God het dit als gesien, en ons kan net wonder of Hy steeds sou dink dat dit goed was…
*** Tiaan Ras het op Alberton grootgeword, en is nou al 11 jaar lank ’n “onwettige immigrant” in die hoofstad wat sukkel om die Blou Bul-geloof te aanvaar… Hy is ’n entrepreneur en het aandele in ’n paar ondernemings in die skeppende bedryf, en sy dagwerk is hoof van strategie in die reklameagentskap ETIKET. Tiaan het ’n meestersgraad in Toegepaste Linguistiek en skryf sedert 2020 gereeld – meestal oor mense en situasies wat hy daagliks observeer en wat hom help om sin te maak van die lewe, of wat ’n mens net lekker laat grinnik. Hy is van kleins af onversadigbaar nuuskierig, en hy het ’n groot afkeer van enige vorm van misbruik.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Tiaan Ras kan gerus meer hier skryf. Dit was tonekrullekker. En nee, ek dink ook nie meer alles is so goed nie.