Die bestaan van die drie susterskerke en verwante kerke spruit uit die landing van Jan van Riebeeck en sy 90 mede-Nederlanders in April 1652 aan die Kaap. Hierdie kerke gryp na dieselfde Gereformeerde (Reformatoriese) wortels van 1517 terug, en onderskryf die drie Gereformeerde belydenisskrifte, naamlik die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die doel van hierdie artikel is om ’n kort en leke-oorsig van die evolusie van die groep kerke te gee.
Kaapse begin tot by NGK
Die eerste gemeente, Kaapstad, is in 1665 gestig. Ds Johannes van Arckel is op 23 Augustus 1665 as eerste predikant aangestel. Voor dit het sieketroosters, deur die VOC aangestel, sommige verwante take verrig, en verder het 41 leraars ook in dié tyd aan die Kaap gepreek of daar aangedoen.
Gemeente Stellenbosch word 21 jaar later, in 1686, gestig. Gemeente Drakenstein ontstaan as ’n uitvloeisel van die koms van die Franse Hugenote in 1688, maar eers in 1717 is tot die oprigting van ’n behoorlike kerkgebou oorgegaan.
Gemeente Roodezand (Tulbach) is in 1743 gestig en die kerk in 1748 voltooi. Teen 1745 was daar al vyf gemeentes in Suid-Afrika, naamlik Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Roodezand (Tulbach) en Zwartland (Malmesbury). Voor die draai van die eeu het Graaff-Reinet en Swellendam ook bygekom. Sover was die gemeentes aan die Kaap nog deel van die Klassis (ring) van Amsterdam, en dus deel van die Protestantse moederkerk in Nederland.
Met die totstandkoming van die eerste sinode in Suid-Afrika, onafhanklik van Nederland, op 2 November 1824, was daar reeds 14 gemeentes. Die amptelike naam is toe vasgestel, met die eerste Kerkorde se titel Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk, in Zuid-Afrika. Gedurende die eerste helfte van die 19de eeu, van ongeveer 1804 tot 1842, word die term Hervormd as ’n wisselterm vir Gereformeerd na die voorbeeld van ontwikkelinge in Nederland gebruik. Van Riebeeck het dit reeds so wisselend in sy Dagregister gebruik, en moontlik was Gereformeerd later in ’n Engelse samelewing makliker op die oor (Reformed). Die Kaapse Sinode besluit eers in 1842 op die naam Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika (NGK). Veral na die oplewing van die Nederduitsche Hervormde Kerk (NHK) in die ZAR vanaf 1853 as ’n afsonderlike kerk, word die gebruik van Hervormd ten opsigte van die NGK beëindig.
Britse bewind en die Voortrekkers
In 1806 begin ’n langtermyn Britse bewind aan die Kaap. Onder Lord Charles Somerset het die Londense Sending-genootskap in 1818 die Skotse sendelinge dr G Thom, dr J Evans en ds J Taylor na die Kaap gestuur. Hulle word deur di Andrew Murray (sr), Colin Fraser, George Morgan, Henry Sutherland en A Smith gevolg. Boere beweeg meer die Kaapse binneland in, en teen 1834 pak die Voortrekkers die pad na die Transgariep anderkant die Oranjerivier aan. Die predikante in die Kaap is deur die owerheid onderhou en het gewoon in pastorieë wat aan die owerheid behoort het. Hulle was die Engelse regering goedgesind en het geweier om die Voortrekkers se kinders te doop, Nagmaal aan hulle te bedien, hul geliefdes te begrawe, of saam op trek te gaan. Hierdie houding verander later handomkeer in 1842, na ingryping deur ’n kommissie in Amsterdam. Die kommissie is na ’n betoog deur Johan Arnold Smellekamp gevorm. Eerwaarde Erasmus Smit (1778-1863), Gerrit Maritz se swaer, tree ook in dié tyd as nie-amptelike predikant vir die Voortrekkers op.

Borsbeeld van ds Dirk van der Hoff (1814-1881) voor die kerkgebou van Gemeente Potchefstroom, die oudste gemeente van die NHKA.

Die Groote Kerk in Kaapstad (die oudste kerkgebou in Suid-Afrika) is in 1704 ingewy en in 1841 grootliks herbou.

Geloftekerk, Pietermaritzburg
Gesange
In 1807 is die bundel Evangeliesche Gezangen naas die berymde Psalms vir gebruik tydens die erediens in Nederland in gebruik geneem. In 1814 is die bundel ook in die Kaapse Kerk in gebruik geneem. Die vertraging was as gevolg van die Napoleontiese oorloë wat veroorsaak het dat die boekies nie vroeër in die Kaap kon uitkom nie. Later was daar ontevredenheid oor die Gesange in die gemeentes Cradock en Colesberg. Die kerkraad van Cradock het reeds in 1833 die ring van Graaff-Reinet genader vir advies oor lidmate wat geweier het om dit te sing.
Voortrekkers in die binneland
Eerwaarde Daniel Lindley (1801-1880) was ’n Amerikaanse sendeling van die Presbiteriaanse Kerk en kan beskou word as die grondlegger van die kerk in die Transgariep. Hy het begin om die kerklike lewe in Natal, Vrystaat en Transvaal te organiseer na ’n draai in Matabeleland en werk onder die Zoeloes in Natal. Hy aanvaar op 1 April 1841 ’n aanstelling as predikant van die Voortrekkers, met ’n gemeente tussen Durban en Potchefstroom versprei. Pietermaritzburg word die eerste gemeente buite die Kaapkolonie, en die Gelofte- of Voortrekkerkerk word in 1841 ingewy. Die gebou staan nog in die middestad van Pietermaritzburg, oorkant KFC. Op 26 Maart 1842 neem Lindley nuwe lidmate op Mooirivier, die latere Potchefstroom, aan en doop die volgende dag ’n aantal babas. Dit is dan ook die stigtingsdatum van die NHKA se Gemeente Potchefstroom.
Natal word in 1843 deur Engeland ingeneem, en dieselfde gebeur met die Oranje-Vrystaat in 1848. Die Voortrekkers in hierdie deel van die land word toe weer deel van die Kaapse NGK.
NGK-ontwikkelinge
In 1849 verskyn die eerste uitgawe van De Gereformeerde Kerkbode (vandag net Kerkbode), as spreekbuis van die NGK. In die 1862-uitspraak van die bekende Loedolffsaak verloor die ring van die Transgariep sittingsreg op die Kaapse sinode. Dit lei tot die ontstaan van verskillende sinodes vir die Oranje-Vrystaat in 1864 (11 gemeentes), Natal in 1865 en Transvaal in 1866. Hofuitsprake oor kerkaangeleenthede is nie net ’n moderne ding nie!
Pogings tot vereniging van die sinodes het na Uniewording in 1910 misluk, maar in 1962 is hierdie pogings uiteindelik suksesvol met die totstandkoming van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Hervormde Kerk
Dirk van der Hoff was ’n proponent van die Nederlands Hervormde Kerk in Nederland en was 38 toe hy ’n beroep na Transvaal aanvaar. Hy en sy vrou, Anna Maria van Otterloo, arriveer op 5 November 1852 aan die Kaap. Op 8 Augustus 1853 word die eerste Algemene NHK Kerkvergadering in Rustenburg gehou, byeengeroep deur die Rustenburgse Krygsraad. Vier belangrike sake word hanteer: Ds Dirk van der Hoff is as herder en leraar van al die NHK-gemeentes in die ZAR erken; geen ander kerke sou in die ZAR toegelaat word nie; Gesange sal ook by die erediens gesing word; inlywing by die Kaapse Kerk word nie goedgekeur nie. Gemeente Lydenburg is ontevrede met laasgenoemde besluit, tree uit en sluit by die Kaapse NG Kerk aan. Dit het later daartoe aanleiding gegee dat Lydenburg vir ’n tyd lank ’n onafhanklike republiek geword het.
Ses jaar lank was ds Van der Hoff die enigste predikant in die Transvaal. Hy bedien die Potchefstroomse gemeente tot sy dood op 9 Oktober 1881 en is daar begrawe. Die NHK word die amptelike staatskerk van die ZAR tot in 1886 met aanvaarding van die grondwet in 1858. Die ou Kerkwapen van die NHKA omvat dan ook dié van die ZAR, met die leuse Eendracht maakt macht. Hierdie leuse is oorgedra van die Nederlandse Republiek (1581-1795) wat na die Protestantse Nederlanders se oorwinning oor die Katolieke Spanjaarde ontstaan het.
Gereformeerde Kerk
In Nederland was daar skerp verskille oor die sing van Gesange in die kerk. In 1834 het groepe Afgescheidenen gemeentes van die Nederlandse Gereformeerde Kerk weggebreek en hulle word die Christelike Gereformeerde Kerk. Een van die bekende dominees van hierdie groep was Dirk Postma. In Januarie 1859 is ’n Algemene Kerkvergadering in Rustenburg gehou waar besluit is dat die sing van Gesange aanvaarbaar is. Ds Dirk Postma was pas die nuwe predikant in Rustenburg en onttrek hom as gevolg van hierdie besluit van die vergadering. Op 10 Februarie 1859 stig hy en ongeveer 300 lidmate die Gereformeerde Kerk, waar hulle net Psalms sou sing. Hulle was van die oortuiging dat ’n valse leer ten opsigte van byvoorbeeld die uitverkiesing in die Gesange gevind word en dat Gesange nie uit die Skrif kom nie (In Gods huis Gods lied = Psalms).
In 1869 begin die Gereformeerdes ’n Teologiese Skool in Burgersdorp; dit is sedert 1905 in Potchefstroom gevestig. Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO, vandag NWU) het later daaruit ontstaan. Die naam Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) hou ook verband met die feit dat hulle die term kerk gebruik waar die NGK en NHKA van ’n gemeente sal praat.
Drie susterskerke 1860
Skielik was daar teen 1860 nie minder nie as drie Hollands-Gereformeerde susterskerke, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap (Natal en Oranje-Vrystaat), die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk, en die Gereformeerde Kerk onder leiding van ds Postma. Lidmate van dié kerke sou later in die volksmond as onderskeidelik Gatjieponners, Stoepsitters en Doppers bekendstaan.
Twee broers Cachet
Ds Frans Lion Cachet (1835-1899) en ds Jan-Lion Cachet (1838-1912) was broers. Hulle was van Amsterdam en van Joods-Portugese ouers wat in 1849 tot die Christendom oorgegaan het.
Ds Frans Lion Cachet word in 1862 in die NGK gelegitimeer. Legitimasie beteken dat ’n teologiestudent goedgekeur word om na ’n gemeente beroep te word. Die titel van ’n gelegitimeerde is proponent. Cachet word in Ladysmith bevestig en later in Utrecht (1865), wat eers in die Republiek Lydenburg opgeneem was en in 1860 in die ZAR. Verwarring op kerklike en staatkundige gebied tel in sy guns toe hy in 1866 die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in die ZAR stig. Die NHK het as gevolg van hierdie optrede en ook dié van ds Postma baie lidmate verloor.
Ds Jan-Lion Cachet was predikant en professor in die GKSA. Hy het twee keer die Dorslandtrekkers in Suidwes-Afrika besoek. Met die tweede besoek was hy gedurende Desember 1881 tot in St Janiario, Humpata. Die Dorslandtrekkers was Doppers en hul geloof was ’n belangrike rede waarom hulle uit die ZAR getrek het.
Verenigde Kerk
In 1885 verenig die Transvaalse NGK en die NHK met die naam Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, in die volksmond die Verenigde Kerk. Gemeente Witfontein van die NHK (die Konsulentsgemeente van Pretoria, en vandag as Bronkhorstspruit bekend) besluit egter in 1886 om nie deel van die Kerkvereniging te word nie. Lidmate van Heidelberg, Potchefstroom, Zeerust, Lichtenburg en Pretoria bly ook ontevrede. Na 1892 het die NHK weer op sy eie voortbestaan en die NGK het aangegaan, egter met die behoud van die dubbele naambeskrywing: Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk van de ZAR. Dit is later na Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika (nog later van Suid-Afrika) verander, om uiteindelik in 1957 die naam te dra van die NG Kerk van Transvaal.
Die NHK bly vir baie jare ’n Transvaalse kerk. Buite die Transvaal is die eerste gemeente eers in 1911 in die Vrystaat gestig, in 1925 in Natal, en in 1940 in die Kaap. Die Engelse vertaling van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) is Netherdutch Reformed Church of Africa om verwarring met die susterskerke se Engelse name uit te skakel.
NGK-verwikkelinge
Uit die NGK is die Nuwe Protestantse Kerk op 21 April 1944 deur ds Dirk Johannes Jacobus de Vos (1904-1971) gestig. Hy was in daardie stadium NG predikant in Durban en tweederdes van die kerkraad is saam met hom na wat later ook die De Voskerk genoem is. Toenemende Metodisme in die NGK was ’n rede vir die wegbreek. De Vos het ook die Broederbond se werking en rassediskriminasie sterk teengestaan. Drie van De Vos se broers was ook predikante. Onenigheid in sy kerk heers van 1946, wat uiteindelik meebring dat hy en sy broers wegbreek en die Hervormde Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid–Afrika stig (10 Mei 1949, Bloemfontein). Dié kerk word die Christelike Gereformeerde Kerk in 1983. In 1986 ondergaan Die Nuwe Protestantse Kerk ’n naamsverandering na Evangelies-Gereformeerde Kerk.
Die NGK aanvaar in 1986 die beleidsdokument Kerk en Samelewing waarin apartheid en rassisme veroordeel word. In die daaropvolgende jaar breek meer as 100 000 lidmate van die Kerk met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) weg.
GKSA-ontwikkelinge
In die GKSA is daar later wel ander liedere as Psalms gesing. Talle Skrifberymings – Bybelse tekste in digterlike vorm – is in 1936 deur Totius bygedra en meer onlangs, in 2009, is heelwat Gesange uit die NGK se Liedboek ook aanvaar.
Nederlandse kerk
Na die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n toename in Europese emigrante na sonnige Suid-Afrika. En straks 300 jaar na Van Riebeeck kom daar weer talle Nederlanders die land in. En wat doen hulle? Hulle stig ’n kerk! Teenoor die GKSA is die eerste Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA) in 1950 deur Nederlandse immigrante gestig. Daar is met sinodale gesag weggedoen en die kerkraad van elke kerk het volle gesag. Die aanvanklike kerke in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad het hoofsaaklik uit Nederlandse immigrante bestaan. Tans is daar agt kerke, onder andere in Mamelodi en Soshanguve. Die kerke is te onderskei van die Verenigende Gereformeerde Kerk In Suider-Afrika (ook VGKSA) wat in 1994 uit die vereniging van die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk tot stand gekom het.
Afrikaanse Kerk oorsee
Met talle Afrikaanssprekendes wat in die laaste dekades emigreer, neem hulle die kerk saam en ontstaan Afrikaanse gemeentes oorsee. Op 1 November 1998 word Die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland (ACK van NS) byvoorbeeld gestig. Hulle vermy doelbewus name wat verband sou hou met Suid-Afrikaanse kerke. Waar daar aanvanklik aparte Afrikaanse gemeentes in Nieu-Seeland ontstaan het, word hulle later suksesvol saamgetrek. Interessante verwikkelinge het ook in moderne Nederland afgespeel. Na jarelange Saam Op Weg-onderhandelinge het die Nederlandse Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland asook die Evangelisch-Lutherse Kerk in die Koninkryk van Nederland saamgesmelt. So het die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) op 1 Mei 2004 ontstaan. Maar die Hersteld Hervormde Kerk en die Voortgezette Gereformeerde Kerke gaan ook steeds afsonderlik voort.
Laastens
Ter wille van bondigheid is daar in hierdie artikel net op die Gereformeerde/Hervormde kerkfamilie in Afrikaanse verband gefokus. Ter wille van perspektief word genoem dat die AGS van Suid-Afrika gedurende Mei 1908 tot stand gekom het. Vanuit Amerika was dit veral twee manne, John G Lake en Thomas Hezmalhalch, wat instrumenteel hierin was. Saam met onder andere die Pinkster Protestante (PPK) en Volle Evangelie Kerk, vorm die AGS deel van die Pinksterfamilie van kerke.
Die NGK, NHKA en GKSA behoort aan verskillende internasionale ekumeniese liggame wat samewerking tusssen verskillende denominasies ten doel stel.
Humor is so deel van die Afrikaanse kultuur as enige ander aspek, en kerkverband is nie hiervan uitgesluit nie. ’n Voor-beeld is nie onvanpas nie. ’n Dominee noem dat hy eenkeer gevoel het dat ’n ouderling op ’n plaas na ’n buitediens hom twee keer doodgebid het. Die ouderling het gebid: Dankie Here, dat dominee hier by ons omgekom het … en seën hom ook as hy nou heengaan.
Die Muur van die Reformasie is in Genève, Switserland, op die gronde van die Universiteit van Genève. Dit is in 1559 deur Johannes Calvyn as seminarium vir teologiese opleiding begin. Sonder die Reformasie sou hierdie artikel nie nodig gewees het nie.
(Wietz Beukes is lid van die Noord-Transvaalstreek van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika)
Hooffoto: Die Muur van die Reformasie is in 1909 onthul in ’n stad wat ’n groot rol in die Reformasie gespeel het. Dit is op die 400-jarige herdenking van Calvyn se geboorte en in die 350ste bestaansjaar van die universiteit wat hy as ’n teologiese seminarium begin het, ingewy. Die middelste vier standbeelde van Willem Farel, Johannes Calvyn, Theodore Beza en John Knox is vyf meter hoog.