Dr Antionette Janse van Rensburg het aan die begin van 2021 ’n PhD-graad in Kerkgeskiedenis en Kerkreg behaal. Die titel van haar proefskrif was Godsdiens en die reg. ’n Herwaardering van die Hervormde Kerk se Besluit 41 (2016) oor homoseksualiteit. Hierdie artikel sluit aan by haar proefskrif en handel oor die riglyne wat belangrik is wanneer ’n besluit geneem moet word.
Om moeilike besluite te neem, is onder die beste omstandighede uitdagend. Die kerkregtelike sisteem waarvolgens die meeste gereformeerde kerke funksioneer, staan bekend as presbiteriaal-sinodaal. Die Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk het dit in 1967 met amptelike besluit bevestig.
In die presbiteriaal-sinodale kerkregering staan een saak voorop: Jesus Christus regeer self die kerk. Hy is die enigste Hoof en Heer van die kerk. Hy regeer direk deur die Woord en die Gees, maar ook indirek deur die amp en vergaderings van die ampte. Wanneer kerklike ampsdraers in vergadering byeenkom, neem hulle besluite met die vaste geloof dat Christus self sy kerk regeer. Daarom behoort besluite biddend, onder leiding van die Heilige Gees en in gehoorsaamheid aan die Woord van God, geneem te word.
In die presbiteriaal-sinodale sisteem van kerkregering is daar verskillende normatiewe elemente of beginsels wat verreken moet word wanneer die kerk besluite neem, naamlik en in volgorde van belangrikheid:
Die Woord van God.
- Belydenisskrifte.
- Kerkorde.
- Vorige besluite van vergaderings.
- Usansie.
Die Woord van God
Die primêre beginsel is dat Jesus Christus self die kerk deur sy Woord en Gees regeer. Omdat Christus deur die Woord regeer, staan die Woord van God sentraal in die besluitnemingsprosesse van die kerk. Reformatoriese kerke pas hierdie beginsel nougeset toe, veral omdat een van die belangrikste teologiese beginsels wat tydens die Kerkhervorming in die 16de eeu geformuleer is, die beginsel van sola Scriptura is. Hiervolgens is die Skrif die enigste norm en maatstaf van leer en lewe. Dit beteken dat kerkvergaderings eers na die Bybel luister wanneer besluite geneem word, in die oortuiging dat Christus deur die Woord oor sy kerk regeer. Op die oog af lyk dit maklik om op grond van die Bybel besluite te neem, maar uiteenlopende interpretasies van die Skrif kompliseer soms besluite wat geneem moet word.
Belydenisskrifte
Die kernelement van kerkregering wat ter sprake is wanneer ’n sinode oor ’n bepaalde saak moet besluit, is die belydenis wat in die kerke afgelê word. Daar moet gekyk word na wat die belydenisskrifte sê oor die saak wat ter tafel is.
Kerkorde
’n Besluit van ’n kerkvergadering is ’n kerkregtelike handeling wat deur die kerkorde moontlik gemaak word en prosedureel aan bepaalde beginsels moet voldoen:
- Die kerkraad as primêre vergadering van die ampte. In die presbiteriaal-sinodale kerkregering funksioneer die plaaslike kerkraadsvergadering as primêre regerende vergadering. Meerdere of bykomende vergaderings dien slegs as bystand vir die plaaslike gemeente en kerkraad.
- Niehiërargiese beginsel: Indien aanvaar word dat die kerkraad die primêre vergadering van die ampte is, lei dit tot nog ’n kenmerk van presbiteriaal-sinodale kerkreg, naamlik dat die een amp nie oor die ander heers nie en die een vergadering nie oor die ander nie. Die ampte en vergaderings van die ampte word beskou as die middele waardeur Jesus Christus sy kerk regeer.
- Bevoegdheid om seker te maak dat kerke volgens die kerkorde handel. Kerkvergaderings het duidelik omskrewe bevoegdhede wat in die kerkorde gelys word.
Besluite van vorige vergaderings
Kerklike besluite is in beginsel hersienbaar en veranderbaar. Vorige besluite van sinodes is nie kanoniek nie, maar dit het wel waarde en kan selfs as riglyn dien vir latere sinodes.
Usansie
Usansie is die kerklike tradisie of gebruike. Gebruike in die kerk is ’n legitieme norm om aan te wend wanneer besluite geneem word, hoewel dit baie duidelik nie op dieselfde vlak staan as die Bybel nie. Dr BJ van Wyk formuleer dit soos volg in ’n 2020-artikel in die HTS Teologiese Studies: Die reg van usansie kom eenvoudig gesproke daarop neer dat kerkregtelik ’n saak daarvoor uit te maak is dat ’n kerkordelike praktyk deur die loop van tyd in die kerk algemeen geword het, sodat iemand wat in sodanige praktyk volhard nie daaroor onder kritiek geplaas kan word nie.
Administratiewe geregtigheid
Die kerk kan nie net volstaan met die genoemde vyf beginsels van kerkregering nie. ’n Sesde beginsel, administratiewe geregtigheid, moet ook daarby gevoeg word. Daar rus ’n plig op kerkvergaderings om met integriteit en billikheid kerklike prosedure en besluite af te handel. In die regsgeskiedenis van Suid-Afrika is besluite van kerkvergaderings al dikwels deur die howe in hersiening geneem. Besluite word in die hof getoets, nie op grond van kerklike leer nie, maar in terme van kerkvergaderings se toepassing en implementering van hul eie interne, huishoudelike reëls soos verwoord in kerkordes.
Kerke word dikwels gekonfronteer met die klag dat hulle nie die basiese beginsels van redelikheid, gelykheid voor die reg, billikheid en bevoegdheid volg nie. Dit blyk dikwels dat kerkvergaderings nie behoorlik aandag aan ’n saak gee nie en dan prosedurele foute maak. Prosedurele regverdigheid is uiters belangrik, veral ten opsigte van billike en redelike prosedures en die audi alteram partem-beginsel wat gaan oor ’n regverdige proses wanneer ’n geskil ontstaan.
Dit is byvoorbeeld in alle kerke die gebruik dat die agenda van ’n sinode vroegtydig uitgestuur word en aan die betrokke kerk bekendgemaak word. Die prosedure help afgevaardigdes om ’n ingeligte besluit te neem. Die prosedure maak daarvoor voorsiening dat genoeg inligting beskikbaar is sodat die beginsels van regverdigheid gehandhaaf word.
Die beginsels en prosedures waarvolgens kerkvergaderings besluite neem, word in die onderskeie kerke se kerkordes uitgespel. Kerkordes is die enigste amptelike dokumente waarin die besluitnemingsprosesse van reformatoriese kerke in Suid-Afrika uitgespel word.
Om besluite met billikheid en regverdigheid te neem, is nie net ’n wetlike vereiste nie, dit is ook eie aan die aard van die Christelike geloof. Johannes Calvyn was daarvan oortuig dat die Christelike beginsels van menslikheid en genade ter sake is wanneer die kerk besluite neem.
Dus, wanneer kerkvergaderings besluite neem, moet die Bybel, belydenisskrifte, kerkorde, besluite van vorige vergaderings en usansie in gedagte gehou word, maar administratiewe geregtigheid moet ook geld.
(Dr Antionette Janse van Rensburg is kapelaan in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en leraar in Gemeente Montana)