Op 19 November 2022 het daar na ’n aantal jare weer ’n reünie van die manskoshuis Voortrekkertehuis in Pretoria plaasgevind. Voortreflike reëlings is getref deur Pieter Kok en sy vrou, Marietjie. Anders as in ons studentejare was dit nie nodig om te kla oor die kos nie – die kos en alles was uit die boonste rakke.

By die geleentheid was 13 persone van verskillende jaargroepe teenwoordig: Hennie Ahlers, Sam Tolmay, Leon Nell, Johan Oosthuyzen, Chris Rossouw, Gerhardt Botha, Bieks Beukes, Koos Engelbrecht, Pieter Kok, Herman le Roux, Kees Gouws, Faan Geyser en Fanie Pretorius. Op die foto verskyn Johan en Adrie Oosthuyzen, Leon Nell, Pieter en Marietjie Kok, en Koos Engelbrecht.

Op 8 Februarie 1940 het die Hervormde Kerk Buxtonhuis in Lynnwoodweg, Pretoria van die Anglikaanse Kerk gekoop. Op 15 Maart 1940, met die eerste Raad van Direkteure, word die naam verander na Voortrekkertehuis (Eiendoms) Beperk. 48 studente, waarvan 20 teologiestudente was, is daar gehuisves. Die direkteure van die tehuis was bekende figure uit die geledere van die Hervormde Kerk: Proff CH Rautenbach, HP Wolmarans, SP Engelbrecht, di PS Grobler, AJG Oosthuizen en mev Oosthuizen.

Dit het spoedig geblyk dat die bestaande akkommodasie te min is. Die Hervormde Kerk het in 1940 ’n stuk grond gekoop in die huidige Lynnwoodweg. Hier is begin met die bou van ’n groter koshuis. Op 17 Februarie 1942 is die hoofgebou, wat die Glaskas genoem is, ingewy. Later het Pandak en Pastorie gevolg.

Voortrekker het in sy bestaanstyd net twee huisvaders gehad: Prof De Loor 1942-1957 en prof Piet Dreyer 1957-1970. Prof Simon Gouws het waargeneem in 1964 toe prof Dreyer met langverlof was. Tannie Lotz, in die kombuis, het gemaak of sy nie hoor hoe kla ons oor die kos nie. Oom Fritz, die faktotum, het met moeite iets gevind om hom mee besig te hou.

Op kulturele en sportgebied het die paar Voortrekkermanne nie vir die groot getalle van die ander koshuise teruggestaan nie. Kampioene uit die geledere van Voortrekker was volop. Piet Brandt was SA studentebokskampioen; Martin Grundlingh en Fanus Botha was twee van die destydse Noord-Transvaalse heelagters; Chris Rossouw, Gert Pelser, Peet Langley en ander was van die beste eerstespan rugbyspelers; Jan Schoeman en Grobbies was Tuks se paalslaankampioene; niemand kon vir Hans de Lange met blikkiesloop klop nie.

Chris Barnard en Jan Spies, om maar net twee te noem, was van die beste skrywers wat ons land geken het; Nick Grobbelaar en Chris Greyling van die bekendste chirurge in Suid-Afrika; Hans Smit het vir baie jare gesorg dat ons nie beurtkrag geken het nie; Bart Oberholzer, Gert Pelser, Johan Koekemoer, Andries Breytenbach, Piet Geyser, Bieks Beukes, Alex Antonites, Pieter Kok en ander het leerstoele aan universiteite beklee; Punt Janson en Sam de Beer was ministers in die destydse NP-kabinet. ’n Groot groep het hoofde van skole geword. Uit Voortrekker se geledere kom daar met die jare baie megaboere wat op landbougebied die hoogste poste in die land bereik het.

Peet Langley, Paul de Beer, Alex Antonites en nog ander het Voortrekker se naam hoog gehou by die Studenteraad.

Ontgroening gedurende jou eerste twee weke in die koshuis was kwaai. Vroeg, nog donker, het Hennie Botha en Wors Muller ons laat draf en oefeninge doen. In die aand na ete moes ons in Pastorie se saal “harte vashou” of vir ure met hande in die lug staan. Die seniors het hulle dan vermaak deur jou hele pedigree uit te vind, rook in jou gesig te blaas en jou selfs ’n mengsel, bestaande uit enige gemors, te laat sluk. Na die ontheffing is ’n plegtige belofte van diensbaarheid en ander lofwaardige verbintenisse teenoor Voortrekker afgelê.

Jaarlikse hoogtepunte was veral Intervarsity, Lentedag en die dinee. Van tyd tot tyd is “geserenade” by die dameskoshuise. “Raids” en “waterparties” het ongekende vreugde verskaf. Jou oortredings het veroorsaak dat jy met ’n ketting aan ’n paal voor die koshuis vasgesluit is, en bewaar jou siel as die spook dan geloop het.

Die daaglikse bestuur is deur die studente self gedoen, met ’n huiskomitee aan die spits. Rondom die koffietafel onder die groot boom is gefilosofeer, maar ook die grootste klomp nonsens onder die son gepraat. Hier is baie keer die kiem gebore wat uitgebroei het gedurende die middernagtelike huisvergaderings. Elke keer met die hooftema “die kos”.

Motors het ons nie geken nie, bedoelende nie besit nie. Daar was een of twee wat motors gehad het. Ons moes fietsry. Nick Brayshaw moes ’n lang tyd te voet gaan nadat Stoffel Badenhorst sy fiets se voorwiel in die dorp laat wegraak het. Daar was iemand, kan nie onthou wie nie, wat ’n motor sonder ’n enjin gehad het. Teen agtuur in die oggend het Chris Barnard (skrywer), Tom Langley en nog twee ouens in die motor gesit, en ons eerstejaars moes hulle na die universiteit stoot.

Onder leiding van Hennie van Deventer, Daan van Wyk en Koos Engelbrecht word die Bond van Oud-Voortrekkermanne gestig, wat hul eerste byeenkoms hou op 19 Oktober 1984. Die doel van hierdie Bond is om die geskiedenis van Voortrekkertehuis te bewaar; reünies te reël; en die kameraadskap, gees en geborgenheid van die Voortrekkermanne steeds uit te bou en te bevorder.

By daardie geleentheid is ’n oorkonde aan prof PS Dreyer, huisvader van Voortrekker 1957-1970, oorhandig. Hierdie oorkonde getuig van die besonder kundige, vaardige, empatiese wyse waarop hy vir baie jare as huisvader gefunksioneer het.

Hannes Wolmarans, Antonie van Staden, Kiewiet van Deventer, Gerhardt Kruger, Jaco Beyers en Guilliaume Rocher het op eie inisiatief Voortrekker 2 in Burnettstraat laat voortleef vir bykans 11 jaar. Gedurende hierdie tyd is daar meer as 70 studente gehuisves. Proff Theuns Dreyer, Schalk Botha en dr Paul de Beer was hier die huisvaders.

(Prof Bieks Beukes is emerituspredikant van die NHKA)