Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt 14: 31, AFR1983)

Lees Matteus 14: 22-33  

In die tyd waarin ons leef, beleef ons veral onrus en kwellinge. Ons is oorlaai met bekommernis. Ons sukkel om met vrede in ons gemoed ons dae aan te pak. Ons kwel ons oor die dag van môre en oor wat die toekoms gaan inhou. Selfs mense, stelsels en instansies wat ons in ’n stadium vertrou het, stel ons teleur en skend ons vertroue.

Dit het my laat wonder. As ons niemand meer vertrou nie, vertrou ons nog op God? As alles om ons vertel van twyfel, kan ons dan nog die Here vertrou?

In Matteus 14 lees ons van die dissipels wat by die See van Galilea is. Die see het onstuimig geraak en die dissipels moes al hul kragte inspan om nie te vergaan nie.

Die mense van daardie tyd het geglo die see is die tuiste van bose geeste en magte. Asof die dissipels se omstandighede nie erg genoeg is nie, is dit nog donker ook, dit is nag. Hulle moes baie benoud en bekommerd gewees het, aangesien hul lewens bedreig is as gevolg van die omstandighede.

Jesus kom dan teen dagbreek die volgende oggend op die water na hulle toe aangestap. Ure lank bevind die dissipels hulle dus in ’n storm. Teen daardie tyd was hulle sekerlik fisies en emosioneel moeg, nat en koud. Dit is daarom ook nie verrassend nie dat hulle baie groot skrik en dink dis ’n spook as hulle Jesus op die water na hulle toe sien loop. Jesus se reaksie is dadelik: Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. In hul diepste nood stel Jesus hulle gerus, Hy is nou by hulle, hulle hoef nie langer te vrees nie. Maar dan sê Petrus: Here, as dit werklik U is, beveel my om op die water na U toe te kom. En Jesus beveel Petrus om te kom.

Petrus moet dit waag om in die geloof te handel. Hy moet dit waag om te vertrou. Petrus het op die Here vertrou. Hy het in Jesus se krag geglo en dit reggekry om die onmoontlike te doen en op die water te loop.

Maar dan lees ons verder hoe Petrus, toe hy die sterk wind sien, bang word en begin sink. Jesus het dadelik sy hand na Petrus uitgesteek en hom gered, ten spyte van Petrus se twyfel. Die woord vir twyfel beteken letterlik: gedeelde aandag. Solank Petrus op Jesus vertrou het, kon hy op die water loop, maar die oomblik toe die ongunstige omstandighede sy fokus word, toe sink hy.

Met Jesus aan die hand, in die storm, loop hulle tot by die skuit en eers as hulle terug is, beveel Jesus die storm om te gaan lê.

Die geheim is: Ons moet ons oog op Jesus gerig hou, ons moet op Hom bly fokus ten spyte van al ons probleme en ongunstige omstandighede. Die Here sê nie: Daar sal nie moeilike dinge op ons pad kom nie. Nee, Hy sê wel: Ek sal jou deur daardie omstandighede bystaan.

Ons vertrou so dikwels op mense, mense wat teleurstel. Laat ons soveel te meer ons vertroue plaas in God wat nie teleurstel nie! God wat ons in sy liefde toevou en elke dag bewaar. Ons kan op Hom vertrou, Hy sorg altyd in alle omstandighede vir ons.

Mag ons daagliks aan Hom vashou en ons oë op Hom gerig hou.