Op 12 Augustus vanjaar was daar vir predikante en kerkraadslede tydens die Voortgesette Toerusting ’n geleentheid om saam te luister en te praat oor die tema van Aanlyn-nagmaal. Insette is gelewer deur proff Yolanda Dreyer, Ernest van Eck, Wim Dreyer en dr Tanya van Wyk, vanuit hul verskillende vakgebiede – praktiese teologie: pastoraat; Nuwe Testament; Kerkgeskiedenis; en Sistematiese Teologie.

Prof Van Eck het aangetoon dat dit die doel van die viering van die Nagmaal deur die vroeë Christengemeenskappe was om te dink aan die verlossing in Jesus Christus, te bevestig dat hulle behoort, en visueel te verkondig dat verlossing reeds bewerkstellig is. Hul sigbare teenwoordigheid in die gemeenskap by die maaltyd het dit verbeeld. Fisiese persone is ingesluit en uitgesluit op grond van sekere verwagte oortuigings en optredes.

Sy mening is dat ’n virtuele Nagmaal nie voldoen aan bogenoemde eienskappe nie. Die Nagmaal is nie heilsbemiddelend nie en word nie as essensieel tot verlossing beskou nie. Die eenheid van gelowiges lê in Jesus Christus, en nie in die viering van ’n sakrament nie. Aanlyn-nagmaal doen na sy mening afbreuk aan die gewydheid van kerkwees en die betekenis en waardigheid van die sakrament.

Dr Van Wyk het haar roetekaart vir die teologiese gesprek oor Aanlyn-nagmaal ingelei deur te stel dat die manier waarop binne geloofstradisies gevier of onthou word, verband hou met hoe die werking of effektiwiteit van die Nagmaal en die teenwoordigheid (misterie) van Christus verstaan word. Dit word duidelik wanneer gekyk word na die verskille binne elke denominasie of kerktradisie se verstaan van die Nagmaal.

In die Protestantse tradisie plaas sy die fokus op Calvyn, wat die eenheid tussen Woord, Gees en sakrament beklemtoon. Die materiële dinge wat gebruik word om die genade konkreet (sigbaar en tasbaar) uit te beeld, is simbole. Deur die Heilige Gees word Christus konkreet teenwoordig, en die verlossing ’n werklikheid.

Dr Van Wyk stel dit so: In die Nagmaal word ons geestelik gevoed en word die verlossing deur Jesus se liefde (kruis-liggaam en bloed) vir ons ’n werklikheid. Hoe dit gebeur, is ’n misterie, wat nie met die verstand uitgepluis kan word nie. Ons behoort eerder die Nagmaal te ervaar as om dit te verstaan. Die hande van die persoon wat die Nagmaal bedien (die wie), kan nie die effektiwiteit of die uitwerking van die genade belemmer nie.

Prof Wim Dreyer het aangetoon hoe die Nagmaal in die vroeë Christengemeenskappe geleidelik ontwikkel het tot ’n sakramentele viering. Reeds in 110 nC word daar in Didache 9 die ritueel van die Nagmaal beskryf. Die viering van die Nagmaal het stelselmatig na Sondagoggend verskuif ter viering van Christus se opstanding. Hy noem dat daar reeds teen 150 nC ’n basiese struktuur van ’n Nagmaalliturgie bestaan het. Eredienste is tot die jaar 313 nC hoofsaaklik in mense se huise gehou. Daar was twee voorlesings deur ’n voorleser, waarna die Eucharistie-gebed gevolg het en die uitdeel van die brood en wyn. Dit was algemene praktyk dat ’n kollekte gehou is vir weduwees en weeskinders en ander wat nood ervaar het.

Prof Wim het aangetoon hoe die viering van die Nagmaal deur die eeue verander het. Dit is sy mening dat die leer oor die Nagmaal ten nouste verbonde is aan die Christologie, pneumatologie en ekklesiologie. Die Nagmaal konstitueer die kerk, en daarom word dit in die gemeente saam met ander gevier en nie individualisties nie. Hy is van mening dat met Aanlyn-nagmaal die sakrament óf oorskat óf onderskat kan word.

Prof Yolanda Dreyer het vanuit die praktiese teologie en spesifiek uit ’n pastorale perspektief na die Aanlyn-nagmaal gekyk. In die praktiese teologie word gefokus op mense se geleefde ervaring, wat insluit hul ervaring van hulself, ander en met God. Sy het die verskillende standpunte oor die Nagmaal in die Covid-tyd bespreek: om nie te vier nie; om geestelik te vier; om virtueel te vier met ’n voorganger; of selfstandig tuis te vier. Sy het aangetoon hoe die geleefde ervarings van verskillende mense ten opsigte van die standpunte verskillend is, en dat verskillende geloofstradisies se ervaring van die Nagmaal verskillend is.

Sy verwoord die waarde van die Nagmaalviering só: Die tyd nou is onseker en ongemaklik, maar die Nagmaal oorspan tyd. Ons gedenk iets wat in die verlede gebeur het nou in die hede, en dit gryp vorentoe na die toekoms waar ons saam met God by die feesmaal sal aansit. Dit kan ook psigies emosioneel help om ons uit die tonnelvisie van swaarkry uit te kry om weer die groter prentjie van verlede, hede en toekoms te sien.

Die gesprek oor Aanlyn-nagmaal het my gehelp om in die bedieningsruimtes waarin ek my bevind, nuut te dink oor die viering van Nagmaal.

Die volledige aanbiedings is beskikbaar by die volgende skakel: https://drive.google.com/file/d/1otOavuQbRhtmGYbLwfuPQNbcVZlbz2Ih/view?usp=sharing

(Dr Annelie Botha is leraar in gemeentes Mafeking en Zeerust)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap