Daar is dalk nie baie van ons wat Gary Lineker ken nie? Dié van ons wat Engelse Voetballiga-vrate is sal dalk weet dat hy BBC se Match of the Day aanbied. So gewild is Lineker, sportaanbieder, dat hy by verre die BBC se bes betaalde omroeper op radio en televisie is. En Gary is dié definisie van ’n gawe ou, nou die dag nog sommer ook die persoonlikheid wat in Brittanje ’n bekende handelsmerk se aartappelskyfies bemark.
Gary het pas vir die laaste keer uitgesaai. Die stomme man het hom, soos talle glansmense maak, in die politiek begewe. Sosiale media maak dit moontlik dat uitsprake wyd tref. Die man was, soos ons almal, bekommerd oor Gasa, die stygende dodetal daar, en toenemend krities oor Israel. Gewoonlik genuanseerd en ewewigtig, het hy onnadenkend ’n boodskap op die platform X onderskryf en aangestuur wat dié gewaande volksmoord aanspreek. Hy het ongelukkig misgekyk dat daar ’n emoji van ’n rot onderaan die boodskap staan. Die rot is emblematies van anti-Semitisme. Haatspraak dus. En die einde van ’n lang en suksesvolle loopbaan in die kollig breek terstond vir die man aan.
Sonder die rot sou jy die opmerkings wat hy maak, kon regverdig as goedbedoelde vryheid van spraak. Maar die rot doen wat in die aanloop tot alle gevalle van volksmoord gebeur: Dit verontmenslik, maak moord makliker, want om ’n pes uit te roei, is tog gewens. Dit regverdig etniese suiwering. Jy sou kon redeneer dat Israeli’s nie hier die slagoffers is nie. Hoekom dan so oorgevoelig? Want die rot impliseer hulle moet eintlik die slagoffers word en soos verpeste knaagdiere man en muis uitgeroei word.
Hier in Afrika weet ons eerstehands hoe dit voel om aan die ontvangkant van haatspraak te staan. Ons weet ook wat dit beteken om verdierlik te word. O, ons kan dit goed uitdeel ook, moenie ’n fout maak nie. Selfs in die Withuis se Ovaalkamer word daar oor haatspraak teen Afrikaners geskinder.
Die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo is in Januarie 2015 deur Islamitiese terroriste aangeval en 12 mense is gedood. Die dryfveer agter die aanval was dat die tydskrif spotprente van die profeet Mohammed gepubliseer het. Daarna het in buitelandse media ’n debat losgetrek oor of Christene sulke bespotting van Jesus sou verdra het. ’n Kollega het geantwoord: Ek sou met walging op jou lastering reageer, jou reg om te laster, met my lewe beskerm. Vryheid van spraak weeg dus swaarder as godslastering? Hoogste goed in die sekulêre staat, mos, die vryheid om te sê wat jy wil!
Gary Lineker het in sy teksboodskap beweer dat die dawerende stilte van die BBC, en moontlik ook ander openbare mediaplatforms wat na duistere pype dans, oor die afgryse in Gasa, neerkom op instemming. Hulle sê niks, en juis dit skreeu ten hemele. Persoonlik is ek ewe naar gemaak deur die Hamas-aanval op Israel op 7 Oktober 2023. Eenduisend tweehonderd mense is daardie dag wreed vermoor, 240 gyselaar geneem, en nie almal is nou reeds weer bevry nie. Oor of dit die oorlog wat al 45 000 mense dood het geregverdigd laat voortsleep, gaan ons van mekaar verskil, maar dit gaan gelowiges, almal van ons, hewig ontstel. Gelukkig is ons veilig ver weg, nè?
Sulke onreg moet noodwendigerwys aanleiding gee tot woede, en volgehoue onreg uiteindelik tot verlies aan selfbeheersing. Die tong hou jy, selfs met die beste bedoelings, onder sulke omstandighede moeilik in toom, dit weet die Bybel ook. Want die tong praat die taal van die hart. Maar selfbeheersing, ook van jou eie tong, is ook vrug van die Heilige Gees.
Ons is tog o so fyngevoelig. Die liefde is ’n bietjie meer dikvellig mos, as ek 1 Korintiërs 13 reg verstaan? Liefde pantser jou tog ook teen liggeraaktheid. Met liefde en fyn aanvoeling waarvan die 1983-Afrikaanse vertaling nog praat (ek hou só daarvan) kom ons soveel verder. Maar deesdae het die tong vrye teuels, is die tong magtiger as ooit – ’n diktator wat op absolute vryheid aanspraak maak. Met die gevolg, ’n enkele uitspraak verwoes loopbane, bedreig lewens, is die vonk wat ’n veldbrand laat vlamvat.
Kleintyd, toe ek nog saam met die Engelse kinders in die straat gespeel het en ’n bekgeveg sou uitbreek, het hulle gesê: Sticks and stone will break my bones, but words will never harm me. Snaaks hoe heeltemal uit voeling dié kinderlike rympie nou in hierdie wêreld van volwassenheid vir my oorkom, en hoedat ek wens ons weer daaruit sou kon leer.
Kry tog net aanvoeling. Onthou aanstoot is al sonde. Net die gedagte aan moord maak ons mos al skuldig aan God se wet. Ons gaan moet leer om minder aanstoot te gee, langsamer aanstoot te neem. Fyn aanvoeling, nie fyngevoeligheid nie.
Aanstoot kry jy nie mooi aangetrek nie, al dra die aap ’n goue ring. Om speels met aanstoot om te gaan, en dan te dink jy mag maar, maak aanstoot nie reg nie. Of ons nou dansend liedjies ter viering van ons vryheid sing oor hoe ons mense doodmaak, en of ons fraai prentjies van rotte, kakkerlakke en bobbejane op teksboodskappe plak sonder om te besef hulle, en nie net die geel gesiggies nie, is emoji’s – beelde wat uitdrukking gee aan hoe ons voel (wat anders beteken emoji as emosie?) – is skreiend naïef en net nie meer sommer net oor te sien nie, al maak ’n hof dit as niksseggend af. Spotprentjies is ook nie vir almal snaaks nie.
Ons, gelowiges, weet van beter. Sing en dans, praat en skryf, voel en doen met ’n gelowige kop op jou lyf.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)