Ek onthou die sewentigs, maar nie met nostalgie nie. Self ’n tiener, het ek met afgryse beelde gesien van kinders jonger as ek, wat teen die polisie politiek speel. Kinders wat op skool moes wees, maar juis in geen klaskamer dood gesien wou wees nie. Die ironie! Dit was die era van “vryheid voor onderrig”. Die utopie waarvan gedroom is, was ’n wêreld sonder Afrikaans, en nie net op skool nie.
Ek onthou ons gesprekke aan tafel oor waarheen dit met hierdie generasie jongmense op pad is: Wat sal word as hulle regeer? Want hulle sal nog, eendag. ’n Geslag wat geslag word, het ons gedink, offerandes vir ’n bedeling om te kom. Nie net bloei hulle nie, hulle bly agter. Hier kom ’n geslag wat sonder opvoeding en onderwys nie hul waardige plek in enige nuwe samelewing sou kon vol staan nie.
Ons ís in ’n hele nuwe bedeling, ons wat tóé nog jonk was; ons is ’n allemintige 40 jaar ouer, oupas en oumas van huidige kleinkinders, maar dit blyk ons en ons eie kinders het as toeskouers van daardie destydse onheilspellende speletjie net so min geleer as die slagoffers van 1976. Miskien selfs erger as “min geleer”: Ons het “afgeleer”. Ons leer nie meer nie.
Ons speel ook nou speletjies. Dog, ons speletjies is op die oog af minder gevaarlik. Ons kleinkinders draf van laerskool af al naweke oor sportvelde die hele Limpopo vol, dra triomfantelik trofees honderde kilometers terug skoolportaal toe. Ons pryk op die media se skolesportblaaie, en ons kry hoë erkenning in die advertensies wat nuwe ouers sal laat besluit hierdie is die skool wat hul afstammelinge werd is, al moet hulle op ouderdom nege of tien koshuis toe, die ouerhuis uit. O, ons speel met mening; vir nóg ’n nuwe balkie is daar op ons kinders se kleurbaadjies skaars meer plek, lag trotse ouers.
Sport begin al Vrydagaand, of voor ligdag Saterdagoggend wanneer ons wegbyeenkomste toe moet ry. Jy kom eers laat Saterdagnag, soms eers na middernag Sondagoggend, weer by die huis aan (want oorbly in gastehuise daar, is ons nie almal beskore nie). Dan moet die kinders leer. Sondae is al tyd wat hulle het. Vir kerk op Sondae is daar regtig net nie meer die tyd nie. Buitendien, ons sal in die banke vas aan die slaap sit! So sê een van die ouers. En hulle bedoel dit regtig goed.
Ons wil vir ons kind net die beste hê, sê ’n ander pa.
Kom ons wees eerlik: Daar is seker gevalle waar die opvoeding in kosskole beter is as in ouerhuise waar só vreeslik hard gewerk word, dat daar vir kleinigheidjies soos om kinders groot te maak, net nie meer tyd is nie. Ek praat nie hier van gesinne vir wie kinders-grootmaak ’n kleinigheidjie is nie. Ek praat van ouers onder erge druk. Ten minste skuif jy sodoende jou en jou kinders se saam-besig-wees naweke toe – en dit is goeie tydbestuur, en ’n eerlike poging tot kwaliteittyd met die kinders. Maar dit is ook waar dat jy soms so hard móét werk om net die skoolfonds by te hou, want jou kind s’n is ’n prestige-skool. Jy het dit so gekies. Maar dit kom teen ’n prys, duurder as wat jy net in rand en sent kan meet. Petrol net skool toe en terug is al duur, want die skool is in ’n naburige dorp, twee uur se ry van hier, om van naweek op naweek vir sport naburige provinsies toe te moet ry, nie eens te praat nie. Hoe dan anders as werk, werk, werk? Jy sal maar grynslag en vasbyt net om jou kinders die beste geleenthede te gee. Gelukkig nog net vir ’n paar jaar, dan is dit verby.
Wanneer gaan jy jou kind leer leef?
Kom ons sê dit weer: Ons wil vir ons kinders net die beste gee. Ons glo dit is hoe ons hulle leer leef, deur te kompeteer en na die beste te strewe. Nie almal kan die beste wees nie. Daarom leer die meeste van ons ons kinders, sonder dat ons dit so bedoel het, hoe ’n mens wat nie kan bykom en byhou nie, uitsak en verloor. Die beste skole is goed daarmee, en ons kies hulle uit.
Skole besef ons kies hulle op goeie naam. Skole maak seker hulle presteer soos ons wil hê hulle moet. Volgehoue prestasie bou reputasie en status. Só steek jy die buurskool die loef af. Onderwysers kry skeidingspakkette, nie omdat hul klaskamerwerk nie op standaard is nie, maar omdat, weens hul afrigting, die tweedespan tweede gekom en toe nie weer die beker kon wen nie. Veral noudat niemand regtig meer glo die akademiese standaard is van so ’n gehalte dat ’n 100%-slaagsyfer ’n aanwyser van ’n wafferse skool is nie, moet die sportveld dit bewys. Want die skool op hiérdie dorp kompeteer vir leerders met die skool op dáárdie dorp, én met skole in die stad. Erger selfs as werk verloor, ons onderwysers hou dit nie, hul gesondheid hou dit nie, hul huwelike bly in die slag. En ons kinders, meen ek, is broos, vir die lewe saam met God gelowig onvolwasse.
Ek het die keuse gehad van ’n klein onbeduidende hoërskooltjie na aan die huis, of die hoërskool van naam waar my ouers leerlinge was (ja, ons was toeka nog leerlinge, nie leerders nie). Klein skooltjies laat gemiddelde kinders, soos ek, makliker nesskop, selfs uitstyg. Wedywering met ander vir net ’n plekkie in die son, is nie vir almal heilsaam nie.
Maar niks hiervan is seker so vreeslik belangrik dat enigeen wat my hoor, daaraan gaan verander nie. Skole gaan nie briek aandraai nie, want ons verbruik uitnemendheid. Hierdie is hoe opvoeding nou lyk. Ons sal met hierdie spel voortgaan, en net harder speel, ten bloede toe, asof dit gaan help. Helaas, dit gaan nie. Daar gaan ’n tyd moet kom dat ons dit besef.
Ek wil weet: In so ’n kompeterende wêreld, waar alles draai om bevordering, gaan ons kinders ooit leer van menslike gebrokenheid, van opstanding en herlewing? Gaan ons kinders ooit weet van genade, die teendeel van prestasie? Gaan hulle ooit kan vergewe, of gaan hulle perfeksie verafgod? Want kerk toe kom hulle nie meer nie, tyd daarvoor is daar nie. Buitendien is kerk vaak, ’n plek waar uitnemendheid nie punte tel nie, waarvandaan jy nie trofees huis toe bring nie. Dus baat dit jou in vergelyking nie veel nie. Ons gebruik nie meer getuigskrifte van die Kerk nie. Is ons regtig seker ons kinders leer en weet genoeg van God om dit met die lewe uit te hou?
Al jou kinders sal leerlinge van die Here wees, en groot sal die voorspoed van jou kinders wees. Deur geregtigheid sal jy jouself stewig vestig (Jes 54: 13-14a, AFR2020).
Natuurlik soek ons die voorspoed van ons kinders. Watter ouer sal nie? is ons eerste reaksie. Maar verseker ons regtig dat ons kinders “leerlinge van die Here” is, as alles wat ons hulle leer, teen genade beur?
Vergewe my hierdie laaste dwaasheid, want ek is desperaat, in sak en as dat ek geen stokkie meer daarvoor kan steek nie: God is lankal uit die onderwys uit, ons is nou kwaad oor die swaard oor Afrikaans; ons skop heftig teen die Bela-wetgewing. Ouers wil self besluit wat en hoe hul kinders leer. Kinders is onder hul ouers se bestuur, in veilige hande, mos? En die Bela-wet bedreig moedertaalonderrig, weer dié éinste Afrikaans waaroor in 1976 ook die ophef was. Wel, dalk verdien ons nou die Bela-wet? Dalk leer dit ons dat ons eie opvoeding en onderwys in Afrikaans toe maar bra weinig nog oor God te sê gehad het, op skool en wie weet, dalk selfs by die besige huis.
Ons speel ook speletjies, sien. Ons speel met vuur. En dis weer die kinders wat hul vingers gaan verbrand.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Baie dankie ds Hennie vir ‘n profetiese stem wat opklink oor ‘n saak wat al lankal op die Kerk se sakelys moes wees.
Welgedaan, ds. Hennie !!! Richard het dit tereg ‘n profetiese stem genoem.