Verbeel jou vir ’n oomblik dat dit Augustus 1924 is. Die Titanic het reeds 12 jaar vantevore gesink. Die Eerste Wêreldoorlog het amper ses jaar gelede tot ’n einde gekom. Daisy de Melker se eerste man het die vorige jaar gesterf. Jy is amper 20 en woon en werk op ’n plaas.
Dit is Sondagoggend en jy sit in ’n kerk in Suid-Afrika. Dit kan die Groote Kerk in Kaapstad, ’n kerk in Volksrust, Nylstroom, Dullstroom, Chrissiesmeer, Bronkhorstspruit, Wolmaransstad, Ventersdorp, Pretoria, Potchefstroom of iewers dergelik wees. Jy is uitgedos in jou beste Sondagklere en is angstig om die Woord van die Here aan te hoor. Die predikant maak die Bybel oop en begin om Psalm 121 te lees:
Een lied Hammaäloth. Ik hef mijn ogen op naar de bergen, van waar mijn hulp komen zal. Mijn hulp is van den Heere, Die hemel en aarde gemaakt heeft. Hij zal uw voet niet laten wankelen; uw Bewaarder zal niet sluimeren. Ziet, de Bewaarder Israëls zal niet sluimeren, noch slapen. De Heere is uw Bewaarder, de Heere is uw Schaduw, aan uw rechterhand. De zon zal u des daags niet steken, noch de maan des nachts. De Heere zal u bewaren van alle kwaad; uw ziel zal Hij bewaren. De Heere zal uw uitgang en uw ingang bewaren, van nu aan tot in der eeuwigheid. (https://www.bible.com/af/bible/165/PSA.121.STV)
Na sy Skriflesing uit die Statenbijbel van 1657, gaan hy voort met sy preek in Nederlands. Jy sit angstig in die banke en probeer om die preek te volg. Die predikant is een van die ouer predikante wat nog suiwer Nederlands in sy preke gebruik, nie die verafrikaanste weergawe van die jonger predikante nie. So hier en daar verstaan jy wat hy sê, maar die saak is verlore as hy vinnig en driftig begin praat. Die gelese teks kon jy darem redelik verstaan, omdat dit dieselfde Bybel is wat jou pa saans vir huisgodsdiens gebruik, en gegewe dat dit ’n bekende Psalm is. Gevolglik stap jy na afloop van die diens ietwat verward met ’n halwe boodskap uit die kerk.

Tuis praat jy Afrikaans met almal om jou. Tog word jy in die skool, kerk en by enige staatsdepartement aan Nederlands blootgestel. Nederlands is naas Engels die amptelike taal van Suid-Afrika van 1924. Jou kennis van Nederlands hang af van jou ouderdom, skolastiese opleiding en die tipe werk wat jy verrig. Tog praat jou hart Afrikaans. Jy droom in Afrikaans en jy kan jou die beste uitdruk in Afrikaans. Dit werk maar net nie so lekker nie as jy vir daardie oulike nooi of kêreltjie sê: Ik houd van jou. Die Nederlands val maar net nie so lekker op die tong nie. Ek is lief vir jou klink mos net soveel mooier in Afrikaans.
Bogenoemde was die situasie waarmee ons voorouers te doen gekry het voor Afrikaans in 1925 tot amptelike taal verhef is.
Ons almal is redelik bekend met die pad wat Afrikaans tydens haar ontwikkeling gestap het. Tog dink ek min van ons besef dat Afrikaans eers op 8 Mei 1925 as amptelike taal erken is. Dit was vir so lank deel van Suid-Afrika, maar het nie amptelike status geniet nie. Verskeie bewegings het hard gewerk om hierdie erkenning te ontvang. Dink maar byvoorbeeld aan die Genootskap van Regte Afrikaners wat reeds in 1875 gestig is. Vandag kan ons moedertaal spog met die derde meeste moedertaalsprekers in Suid-Afrika, en dit nogal naas isiZulu en isiXhosa. Hoe bevoorreg is ons vandag, in 2024, om Afrikaans in ons kerke en skole te kan gebruik. Ek wonder net soms of ons elke dag besef dat ons so gelukkig is, of dink ons maar net dis hoe dit moet wees?
Gedurende 2025 is ons bevoorreg om die 100ste bestaansjaar van Afrikaans te kan vier. Jy kan nou reeds deel word van hierdie feesvieringe deur aan te sluit by Afrikaans 100. Gaan loer gerus op hul webwerf https://afrikaans100.org/ vir meer inligting. Jy kan as individu of as organisasie, groep, gemeenskap of selfs gemeente aansluit. Die doel met dié beweging is om almal bewus te maak van hierdie groot mylpaal en om Afrikaans se verjaardag vir ’n jaar lank te vier. Die feesvieringe kom op 8 Mei 2025 tot ’n einde met ’n groot geleentheid by die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl.
Maak gerus ’n punt daarvan om voor 8 Mei meer oor Afrikaans te wete te kom. Gaan lees oor Afrikaans se herkoms en die verskillende variëteite, of gaan kuier saam in Afrikaans by een van die vele feeste.
Ek kuier en dans op my lekkerste in Afrikaans!
(Mej Sanet du Plessis is produksiebestuurder en taalversorger in die Sinodale Dienssentrum se Afdeling Kerklike Kommunikasie)
