Ek deel nie die agterdog oor dogma nie.

Daar is natuurlik ’n voorwaarde: dat alles krities beskou moet word, en dat die norm vir kritiek die Bybel sal wees.

Dis dalk sirkeldink, want die Bybel is tog dogma se bron en bestemming! Ek hoop ons slaag met ’n spiraal, sodat met elke terugkeer na gevestigde leer en elke waagstuk met nuut geformuleerde dogma, die Bybel beter gehoor word, en die deurslag gee.

Maar as die agenda van die huidige agterdog oor dogma is om die Bybel aan willekeurige denkgrepe uit te lewer, hou ek met groot vrymoedigheid, saam met en soos die kerk, by wat ons oor eeue heen geleer het.

Al hoe meer hou individue hulle die reg voor om self te mag besluit oor hoe die evangelie behoort te klink. Dis ’n oorreaksie, ek besef dit, waartoe ons aanleiding gegee het: dat geen gelowige meer die Bybel of vir God kan verstaan sonder grade in die teologie nie, ook nie sonder die gesaghebbende goedkeuring van ’n geordende nie. So het ons gesag afgedwing, gehoorsaamheid geëis, nie noodwendig aan God nie, maar aan die dogmas wat ons klakkeloos oorgeneem en hardhandig toegepas het. (So ’n tikkie Roomsheid, nè?) So, en net so, kon ons uit die kerk en lewe sin maak.

Ek verbaas my nie oor die opstand nie. Dogma is sisteemdenke. Sisteme dring per definisie daarop aan dat alles in een waarheid opgeneem word. Sisteme laat nie ruimte vir rafelrige rante nie. Morsigheid is sinloos, siek en sondig.

Dis hier in die oorgange tussen waarheid en wêreld dat ons verbete probeer gelowig leef. Dis aan die uitgerafelde some van die waarheid dat ons vasklou vir oorlewing in ’n wêreld wat wesenlik morsig is. Die lewe hier is taai, en geen maklike antwoorde, vlot gepreek, bied meer skuiling of troos nie. Ek verstaan die krapperigheid oor dogmas wat wreed ongevoelig grense trek en oordele vel.

Dogma kom dikwels fyn aanvoeling kort.

Dog, verset teen dogma is baie keer strenger dogmaties. As sistematiese dogmatiek wetenskap is, en daarom op sy beste ook maar voorlopig, is die huidige populêre verset teen dogma ononderhandelbaar finaal en veroordelend. Daar skort aanvoeling ook.

Kom ons leer ’n waardering vir die skare van geloofsgetuies wat ons voorafgegaan het.

Kom ons wees eg as ons mense uitluister.

Kom ons omhels morsigheid. Gód het, met Simson (van Rigters 13 af).

Kom ons skep sagkens ordelike ruimtes waar mense weer kan asemhaal, sonder om soos Manoag (Simson se pa in Rigters 13) bang te wees dis klaar met ons, want ons het God gesien en ons weeg nie naastenby op nie. Ek hoor met waardering weer sy vrou troos:

As die Here ons wou doodmaak, sou Hy ons nie hierdie wonderlike ding laat sien het en ons vandag hierdie nuus meegedeel het nie.

af
af
Deel met behulp van
Copy link