Dit gaan nie altyd oor die plekke waarheen ons gaan om te aanbid nie, dit gaan soms oor die kerk wat binne jou siel en gees is. (Rudi Claase)

As ek die oggend van 25 November 2018 in herinnering roep, onthou ek Wesalarms se eerste oproep (ongeveer 01:15), en toe daardie tweede verdoemende oproep (01:20) toe ek ingelig is dat ons kerkgebou besig is om te brand.

Ek onthou hoe ek opgestaan en afgehardloop het om te gaan kyk wat aangaan. Ek onthou die rooi wolkegloed wat oor die kerkgebou gehang het. Ek was geskok toe hierdie prent in my brein ingebrand is. Hoe ek teruggehardloop het huis toe om vir Yvette en Christoff te gaan sê dat ons kerkgebou besig is om af te brand. Ek onthou hoe ek vir Christoff gesê het dat hy my moet kom help om te red wat te redde is. Hoe ons tuinslange geneem het en hy die konsistorie en kluis se dakke begin natspuit het dat dit net nie moet brand nie. Later het ons die konsistorievensters gebreek om stoele en kantoortoerusting uit te dra.

Toe ek eindelik begin besef dat ons die stryd teen die vlamme in die kerkgebou verloor het, het ons die bome begin natspuit sodat die vuur en vlamme nie na die pastorie en lapa moes versprei nie. Ek onthou hoe lidmate en lede van die gemeenskap begin opdaag het, stom en verslae oor hoe die huis van die Here deur vuur en vlamme verswelg word. Ek onthou hoe lidmate langs my kom staan het, en gehuil het oor dit wat voor hul oë afgespeel het…

Later die oggend, soos lidmate opgedaag het om die erediens te kom bywoon, was daar net meer en meer geskokte gesigte, gebroke harte en daardie ongewone stilte. Daardie oggend het die kerkraad gesê dat ek nie moet preek nie. Ek was dankbaar vir hul begrip en gesindheid. Ek het wel onder die lapa, wat ons kerkgebou vir 15 maande geword het, ’n paar woorde met die gemeente gespreek. Ek onthou in besonder dat ek twee dinge daardie oggend vir die gemeente gesê het: (1) dat ons die kerkgebou weer sou herbou; en (2) dat as die gemeente in geloof sterk sou wees, as die siel van die gemeente gesond sou wees, ons heel anderkant sou uitkom.

Wat daarna gebeur het, was kreatief bevredigend, tog ook emosioneel uitputtend. Saam met die argitek-tegnoloog, Arno Lochner, en die boukommissie wat deur die gemeente gekies is, het die herbou van Gemeente Rustenburg-Kloof se kerkgebou begin.

Op 3 Junie 2019 is die terrein aan Invicta (kontrakteur) oorhandig, en die bouwerk het begin.

Na baie beplanning, oorwegings, keuses wat uitgeoefen moes word, vergaderings (58 terreinvergaderings), is die kerkgebou op 4 Desember 2019 vir praktiese gebruik voltooi. Op Sondag 25 Desember 2019, Kersdagerediens, is die eerste erediens in die nuwe kerkgebou gehou as simbool van ’n “nuwe begin” vir die gemeente.

Op Sondag 23 Februarie 2020 is die nuwe kerkgebou amptelik ingewy en is my woorde van 25 November 2018 in herinnering geroep aangesien: (1) die kerkgebou herbou is; en (2) die gemeente heel anderkant uitgekom het.

Na aanleiding van die Skrifgedeelte (Sag 2: 1-13) en die teksvers (Sag 2: 5 – Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees) kan Gemeente Rustenburg-Kloof onvoorwaardelik getuig:

  • Die Here was en is steeds soos ’n muur van vuur rondom hierdie gemeente.
  • Die magtige teenwoordigheid van God is in hierdie gemeente.
  • Dit gaan nie altyd oor die plekke waarheen ons gaan om te aanbid nie, dit gaan soms oor die kerk wat binne jou siel en gees is.

Op 4 Maart 2020 is die kerkgebou finaal voltooi. Die binnekant van die gebou het ’n moderne afwerking gekry met ’n tikkie “Antieke Israel” daarby. Die struktuur by die kansel, die twee pilare en die betondak het simboliese betekenis: Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly (Op 3: 12).

Na 15 maande wil Gemeente Rustenburg-Kloof ter afsluiting van hierdie “verhaal” en die “begin” van ’n nuwe hoofstuk in die bestaansgeskiedenis van die gemeente, in groot dankbaarheid teenoor die Here van die kerk én elkeen wat saam met ons in hierdie beproewing vasgevang was, die volgende gedagte van Rudi Claase deel: As al die kerke afbrand, sal jou geloof jou deur die nag kan dra, ons moet net vir die Here vra, as jy glo is Hy altyd daar… daarom is ek nie bang nie. As alles môre wegraak, sal Hy by my wees… daarom bly ek glo!

(Ds Nardus Enslin is leraar in Gemeente Rustenburg-Kloof)

af
af
Deel met behulp van
Copy link