Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. (Jesaja 45: 5, AFR1983)
Lees Jesaja 45: 1-7
So aan die begin van die nuwe jaar kan jou kalender nogal intimiderend wees. ’n Hoë hoogte wat voor jou lê. 12 bladsye van propvol blokkies met byna geen oop spasies nie. Take en sperdatums! Swoeg en sweet! Hoe gaan alles behartig word?
En dan ook nog die realiteit van die onsekere, wat tergend vanuit elke bladsy van die kalender oor jou skadu. In ’n wêreld van konflik en fluktuasie, van pandemie en onstabiliteit, wat gaan kom? Suid-Afrika met sy kragkrisis, korrupsie, slaggate en politiek is ’n byenes. In hierdie konteks en realiteit gaan my kalender hom afspeel. In ’n wêreld al meer vreemd en vyandig. Hoe gaan hierdie kalenderdae ontvou? Wat wag op ons in die uitvoer van ons take vasgemaak op ons kalender? Kwaai steiltes, geslote deure, teëspoed? Sal ek die paal kan haal? wil ’n mens vra.
Jesaja 45 illustreer die wonderbaarlike handeling van God in ons lewens. Hy is die God van voorsiening en versorging. Vir die volk in ballingskap was die vooruitsigte glad nie blink nie. Die Babiloniërs het hulle in stewige boeie gehad.
Ons verneem egter van koning Kores van Persië vir wie God in besonder gaan seën. Vir hom gaan God as heerser aanstel, en God gaan nasies aan hom onderwerp. Konings sal hul wapens voor hom neerlê, deure sal open en poorte sal nie gesluit bly nie. Voor hom sal God selfs die hoogtes gelyk maak. Bronsdeure sal oopbreek en ysterbalke sal stukkend gekap word voor hom. Kores sal oorlaai word met skatte en rykdomme. God gaan so baie dinge vir hom doen.
Kores word selfs ’n gesalfde van die Here genoem. Dit is die enigste plek in die Bybel waar ’n nie-Israeliet ’n gesalfde van die Here genoem word. Dit sal alles gebeur sodat Kores sal weet dat die Here God is en dat God hom op die naam geroep het. Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ’n eretitel hoewel jy My nie ken nie (vers 4). Dit alles doen die Here ter wille van sy volk Israel, sy kinders.
God gebruik ’n heerser vanuit die wêreld, ’n heidense koning, in sy volk se belang. Kores word instrument in die hand van God om sy volk Israel te verlos. Die Persiërs oorwin die Babiloniërs en Kores laat die volk toe om terug te gaan huis toe. Die tempel word herbou en Jerusalem word weer die volk se tuiste.
Ten spyte van wêreldgebeure en tendense, magte en kragte, ten spyte van reusetake en uitdagings en onsekerhede, is dit God wat in beheer bly. Hy hou alles en almal in die holte van sy almagtige hand. Hy steek sy hand uit en die uitkoms kom. Sommer so in die gewone verloop van die kalenderdae is Hy besig.
Saam met Hom is reusetake gedane sake. Hoogtes word gelyk gemaak en deure gaan oop. Vreemdelinge word vriende en koninkryke verkrummel. Hy sorg en seën. Hy span vriend en vyand in ter wille van sy kinders. Die God van voorsienigheid is Hy. Vir die volk van Jakob, sy uitverkorenes, wysig Hy wêreldgebeure.
Wil God gee dat jy hierdie waarheid op elke bladsy in elke blokkie van jou 2023-kalender sal beleef!