Ek was so opgewonde toe ek gevra is om ’n artikel van 800-1 200 woorde vir Die Hervormer te skryf. Die opgewondenheid het gou-gou plek gemaak vir die moeilike proses om ’n PhD-proefskrif van etlike honderde bladsye te reduseer tot ’n kort artikel wat sin maak vir elke predikant, kerkraadslid en gemeentelid. Dit is immers navorsing wat oor jare bymekaar gemaak is. Ek maak graag van die geleentheid gebruik om meer te sê oor my passie: brugbediening.

Dit is belangrik dat ons almal op dieselfde plek wegspring. Wat is brugbediening? Brugbediening is ’n omvattende en intensionele bediening gefokus op begeleiding van ’n vakante gemeente. Alle gemeentes is in transisie (ook en veral vanweë die Covid-19-pandemie), en daarom kan die insigte van brugbediening tot elke gemeente se bediening en diens waarde toevoeg.

Maar brugbediening is intensioneel, en navorsing oor jare het bevind dat fasilitering van die proses in tye van verandering die suksesvolste gebeur in die vakante tyd, want gemeentes is dan meer ontvanklik vir verandering. Ek deel graag ’n omvattende definisie van brugbediening soos deur die Interim Ministry Network (IMN 2020) omskryf:

Interim ministry also is about seeking effective ways to organize for ministry, recruit, train and develop new leadership. It involves assessing the way decisions are made in the church and determining if there are more inclusive ways to handle this task. This is a time to look at how the community of faith relates to one another, the surrounding neighborhood, and the wider church. Finally, this is a time for a congregation to discover their identity apart from the pastor of the church. This is an opportunity to develop a vision that will help meet the spiritual needs of members and enhance their ministry beyond themselves. With this kind of clarity, the congregation can find a new leader who will equip them to follow what they believe to be God’s will, direction and purpose.

Volgens The Centre for Congregational Health se webblad (2016) ervaar alle geloofsgemeenskappe verandering in snelveranderende tye. Ons is bykans almal oortuig dat die Covid-19-pandemie hierdie snelveranderende omstandighede bloot kom aanblaas het. Hierdie verandering sluit die volgende in: demografiese verskuiwing, dalende bywoningsyfers, dalende lidmaatgetalle, finansiële agteruitgang, die verandering van leierskap, gebrekkige visie en missie, gebrek aan missionale identiteit en samewerkingsooreenkomste, of selfs die ontbinding van ’n gemeente.

Die uitdagende tye waarin ons leef, word deur sommige vergelyk met dié van ’n perfekte storm; ’n kategorie 5-storm het losgebars. ’n Storm wat ons eenvoudig nie kan systap nie. ’n Storm wat die kerk eenvoudig nie kan vermy nie. ’n Storm wat dikwels in die kerk eenvoudig misgekyk of selfs geïgnoreer word. Dit is ’n storm wat wêreldwyd woed. Gemeentes wat bloot met die alledaagse bediening en dienstake voortgaan, gaan in hierdie storm katastrofiese gevolge in die gesig staar. Die storm in Suid-Afrika word gekenmerk deur werkloosheid, armoede, ongekende toename in misdaad, regstellende aksie en nog vele ander toestande. Kerkloosheid, kerklosheid en ’n kerkgemeenskap wat verouder, dra by tot die perfekte storm. Drasties dalende lidmaatgetalle is deel van die gevolge van so ’n storm. Bykans elke gemeente worstel met die gevolge van die perfekte storm: dalende lidmaatgetalle en die verswakking van gemeentes se finansiële posisie. Daar moet eenvoudig nou stilgestaan en nagedink word oor waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Die prosesse wat brugbediening gebruik, kan elke gemeente in hierdie storm help om hul missionale roeping te herontdek.

My navorsing ten opsigte van brugbediening is gebou rondom die praktiese teoloog Richard Robert Osmer se vier belangrike vrae: Wat is aan die gebeur? Waarom gebeur dit? Wat behoort te gebeur? Hoe kan ons daarop reageer?

Wat is aan die gebeur? ’n Deskriptiewe literatuurstudie van die ontstaan en ontwikkeling van brugbediening in die VSA en in Suid-Afrika is uitgebrei met ’n studie van kerngesonde leierskap. Dit het bygedra tot meer kennis van die brugprosesse en brugbediening.

Die interpreterende taak vra volgens Osmer se model die volgende vraag: Waarom gebeur dit? Die onderskeie lense wat tans wêreldwyd gebruik word, is bestudeer. Navorsing gedoen ter voorbereiding vir hierdie studie toon dat brugbediening tans op ’n enkelvoudige (die gebruik van slegs een lens) wyse gefasiliteer word. ’n Holistiese benadering tot veelvoudige lense (die gebruik van meer as een lens of ’n multifokale lens) beklemtoon die noodsaak van brugbediening binne die nuwe konteks en gee gefokusde antwoorde vir die spesifieke vakante gemeente se missionale roeping. Tot op hede maak opgeleide brugpredikante wêreldwyd van slegs een lens gebruik, dié lens wat in hul opleiding aangebied word.

Die drie lense wat enkelvoudig deur drie opleidingsinstansies aangebied word, is die volgende:

  • Lens 1: Prakties-teologiese interpretasie, soos ontwikkel deur Osmer, word aangebied aan die Communitas-kweekskool by die Universiteit van Pretoria.
  • Lens 2: Identiteit-gedrewe gemeente-ontwikkeling, soos ontwikkel deur prof Malan Nel, word aangebied by die Sentrum vir Kontekstuele Teologie aan die Universiteit van Pretoria.
  • Lens 3: Vyf fokusareas, soos ontwikkel en aangebied deur die Interim Ministry Network in Baltimore, VSA, word gewy aan die opleiding van brugpredikante.

Dié studie het aangetoon dat kennis van al drie die lense die brugpredikant beter toerus om hierdie enorme gespesialiseerde taak aan te pak. ’n Holistiese benadering tot brugbediening help die brugpredikant om die vakante gemeente te begelei om ’n missionale fokus te herontdek. Daar is aangetoon dat die onderskeie lense, op ’n kundige manier, oor mekaar en deurmekaar aangewend moet word.

’n Normatiewe studie is altyd deel van ons teologiese gesprekke en daarom ook deel van my studie. Die volgende vraag van Osmer se model moes beantwoord word: Wat behoort te gebeur? Dit bepaal watter teologiese perspektiewe en missionale merkers die Skrif vir die brugbediening bied. Die fokus in dié hoofstuk van die studie is op normatiewe beginsels met betrekking tot die brugproses deur hoofsaaklik te konsentreer op Matteus 28: 16-20, Openbaring 2-3, Openbaring 10 en ’n Pauliniese perspektief op brug-bediening. Paulus se perspektief op gemeentes in transisie is baie kosbaar (ongelukkig kan ons dit nie hier breedvoerig bespreek nie). Dit is duidelik uit die bestudering van spesifieke Skrifgedeeltes dat relevante teologiese perspektiewe en missionale merkers ten opsigte van brugbediening wel vanuit die Bybel afgelei kan word en van onskatbare waarde vir die brugbediening is.

Die pragmatiese taak reageer op die laaste van die vier vrae in verband met die vier take van Osmer se model, naamlik: Hoe kan ons reageer? Om saam te vat, ontgin die metafoor van ’n oogkundige die verstaan van die holistiese benadering tot brugbediening. Wanneer hierdie metafoor gebruik word, is die volgende moontlik: Die doel van die oogkundige proses is om ’n voorskrifbril (bedieningsplan) vir die unieke pasiënt (vakante gemeente) te maak. Hierdie voorskrifbril sal bestaan uit multifokale lense wat nommerpas vir die unieke pasiënt ontwikkel is. Dit is ’n unieke pasiënt, want elkeen se oë verskil. Dit is ’n unieke vakante gemeente, want elkeen se konteks verskil. Dit het die navorser laat dink aan ’n brugpredikant wat al die lense tot sy beskikking gebruik om vir die unieke vakante gemeente ’n voorskrifbril te maak (’n bedieningsplan, visie en missie te ontwikkel), wat sal help om die Snellen-oogkaart (missionale roeping) duidelik sigbaar te maak. (Die Snellen-oogkaart is in 1862 deur die oftalmoloog Herman Snellen ontwikkel.)

*** Hierdie artikel is ’n opsomming van dr Janse van Rensburg se proefskrif vir sy PhD-graad in Missiologie, getitel Brugbediening in vakante gemeentes gemik op ‘n missionale fokus: ’n Holistiese benadering deur ’n multifokale lens.

(Dr Hannes Janse van Rensburg is leraar in Gemeente Zuurfontein)