Amerikaanse blogger en bemarkingsghoeroe Seth Godin sê ons is glad nie goed met toekomsvoorspelling nie, maar ons almal hou daarmee vol en weier om van stryk gebring te word. En wat meer is: Dit word van ons vereis. Almal wil nou al weet wat gaan op hul grafstene staan, vra uit oor waar jy oor vyf jaar van nou af wil wees, vereis van jou besigheidsplanne en duidelik omskrewe planne B, C en D voor hulle jou steun.

Profete was nooit fortuinvertellers nie. Profete was meer soos ons politieke en maatskaplike ontleders wat op Praatsaam aan debatte sou kon deelneem. Hulle het daarin uitgeblink om die huidige stand van sake in die land te vergelyk met die Wet wat God gegee het. My geslag wat nog diensplig moes doen, weet ook van SWOT-analises, van gapings- en prestasiemeting, missie en visie en doelstellings en haalbare doelwitte, van implementering en toepassing van operasionele strategie, kontrole en allerhande dergelike grepe op die toekoms.

Om eerlik te wees, dié goed het nog nooit vir my gewerk nie. Ek kan nie eens ’n preek rondom ’n inleiding, lyf en slot beplan nie. En dis nie dat ek nie probeer nie. Ek het later net met die teleurstelling leer saamleef dat ek nie daarin kon slaag nie. Ek het geleer die skryfproses vat met my ’n pad, en heel dikwels weet ek op Maandag nog self nie waarby ek teen Sondag gaan uitkom nie. Organies groei dit, lees ek toe mos in ’n boek oor skryfkuns, wat net uitwys ander ouens het soms dieselfde probleem as ek, maar makliker maak dit preekmaak nie. En beslis ook nie juister nie.

Ek kan darem al gebeure op ’n kalender inskryf, want almal verwag dit van my, maar ek kan nie waarborg dat wat dáár geskryf staan, dán gáán plaasvind nie.

Vreemd genoeg het ek van kleins af geweet 40 sou ’n waterskeidingsjaar wees. Eers het ek vermoed dis wanneer ek sou sterf, en het ek blymoedig my 40ste jaar aangepak sonder enige toekomsverwagting. Dit blyk toe ’n goeie strategie te wees. Teen die einde daarvan was my ou wêreld vergange en moes ek met moeite uit as probeer herrys. Ek is nou nog nie seker ek het daarin geslaag nie.

Dis eensaam daar waar jy dink jy is, van almal wat planne gemaak het, die enigste wat met mislukking moet saamleef. Want hoe beter ek beplan, hoe minder slaag ek daarin om planne te laat werk.

Ek het troos gaan soek in Bybeltekste soos Jakobus 4:

13
Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”
14
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
15
Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”
16
Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.

Ek het opgehou om met God te wil armdruk. Ek het langsamerhand agtergekom geloof is genoeg.

Hebreërs 11 sê oor Abraham:

9
Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was,
10
want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

Natuurlik eindig al wat ’n preek van my is, met ’n imperatief: Gaan maak nou só! Maar ’n ou dominee het eendag in die Algemene Kerkvergadering gesê ons moet oppas vir ’n oordrewe besigwees. Hy spook by my. Seth Godin herinner my hierdie week toe weer daaraan. Ons verknies ons oor hoe iets wat ons aangevang het ons toekoms gaan raak, en ons is dikwels verkeerd. Ons kry die toekoms nie in ons greep nie, angs en haarfyn beplanning ten spyt. Die toekoms wil net nie saamwerk nie; daar is te veel veranderlikes.

Dis dan dat Godin ’n Bybelse gedagte ’n opstanding uit die vergetelheid gun: Wat sal gebeur, vra hy, as ons – al is dit nou net vir hierdie rukkie – ons bés doen? Laat die toekoms toe om te kom.

Ons toekomsvlugte is nie altyd mooi ideale nie. Hulle is veel meer dikwels ’n manier om vir God voor te sê. Die dag as God weer kom, lyk dit my, gaan ons met Daniël, met Jesus se Profetiese Rede en Openbaringe sit, en evalueer hoe goed God voldoen aan die doelwitplan se aksiestappe. God ís alreeds twee millennia laat!

Verdamp!

Hierdie ingrendeling was onvoorsiend, onbepland en ontwrigtend. Daar was nêrens ’n resep of medisyne of presedent daarvoor nie, behalwe die vae ooreenkoms met die dag toe God die son laat stilstaan het. Dié dag moes góéd warm geword het; dit was oorlog.

Hoe nou gemaak? Wel, doen net wat jy kán doen so góéd as waartoe jy in staat is. Jou bes, dus, dampie. Ek glo die beste wat ons kan wees en kan doen, kom te voorskyn uit hoe ons aandag gee aan wat voorhande is, en nie soseer nou al aan wat dalk nog mag kom nie: Gee nóú aandag aan God, die gemeente, en die gemeenskap. Dien hulle almal. Sorg vir mense, en loof God wat vir die geleentheid hier opgedaag het.

Dus: Die toekoms, en God, is nou hier.

Kabous Meiring van Prontuit-faam kry die prys vir die grendeltyd se beste aanhaling: As God ons hierdie keer nie help nie, sal dit die eerste keer wees.

 

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link