Aangegryp deur die geweldige trauma wat bejaarde persone na meer as 300 dae van Covid-inperkings in tehuise beleef, het ek ’n gesprek aangevra met die voorsitter en bestuurder van ons Kerk se Bejaardesorgdireksie.
Ek is dankbaar dat ek op 10 Februarie met die voorsitter, ds Frikkie van Wyk, en die visevoorsitter, ds Marius Venter, gesprek kon voer. Hul empatiese benadering was bemoedigend. Die voorstelle wat uit die gesprek voortgevloei het, was ook goed met die oog op veral die godsdienstig-traumatiese toekoms van ons tehuise.
Twee dae nadat ons gesprek gevoer het, is in Emily Hobhouse veilige en bevrydende maatreëls aangekondig soos verwoord in die skrywe van Martie Champion wat die inwoners op 12 Februarie ontvang het. Hierdie maatreëls was reeds beplan toe ek en ds Frikkie-hulle ons nog oor baie dinge gekwel het.
Namens my en Monica, en ek is seker namens die meeste inwoners van die Emily Hobhouse-tehuis vir bejaardes, groot dank en waardering teenoor die direksie, huisbestuur, elke personeellid, werker, vloerverteenwoordigers en almal wat in hierdie Covid-tyd steeds voortgaan om alles vlot te laat verloop. Veral aan die voorlopers: adv Botma, Martie Champion en Gellie Geldenhuys. Dankie!
(Prof Bieks Beukes is ’n emerituspredikant van die Kerk)