Eksteen Botes is dood.
Een kollega het só op die nuus gereageer: Eksteen was ’n baie, baie, baie goeie dominee. Hy was. Uit ’n dominee se hoek gesien, was hy ’n “reggeaarde” predikant, ’n woord wat ek vermoed net ons gebruik om te sê ons het vir dié kollega groot waardering.
Ons weet van beter as om predikante te meet aan hoe foutloos hulle presteer, aan hoe “mooi” hulle preek, hoe vol die kerk word, aan hoeveel geld hulle met basaars maak, en of hulle bereid is om vir die duur van die basaarnaweek in die kerktoring te oornag. Ons weet ons skiet almal iewers tekort, en daar is sonder twyfel iemand wat vir ons kwaad is, selfs met goeie rede.
Eksteen was in sy laaste jare predikant in Nelspruit. Na emeritaat, vlugtig ook in Namibië. Eksteen het wyd, en orals, diep spore getrap.
Hy was die leier van die klas van 1983, voorsitter van Van der Hoff Teologiese Vereniging. Hy was nie net effens ouer as ons nie, hy het ’n waardigheid gehad wat die res van ons toe nog kortgekom het. Ons het vermoed hy is die een onder ons wat nog die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering sou haal. Dat ds Willem Kok die een uit ons geledere geword het wat daardie sport sou behaal, is terugskouend geen verrassing nie, en dat Eksteen Botes dit nooit geword het nie, ook nie. Beide het ’n gravitas wat wyd agting afdwing, en nie een van die twee dring hulle ooit op nie. Beide is reggeaarde dominees en tevrede om “net” baie goeie dominees te wees. Baie, baie goeie dominees.
Ek is dankbaar ek was in sulke goeie geselskap.
Dominees soos dié kry nie prominente plekke in die kerk of die kerkgeskiedenis nie. Hulle ontvang nie erepennings nie. Net soos wat die “goeie nuus” naderhand minder “nuuswaardig” word, word die dominees wat as predikante uitblink en die evangelie bestendig in stand hou, naderhand sommer die “gewones”, minder (so voel dit) as merkwaardig. Maar dit is net ’n aanduiding van die hoë gehalte van die “doodgewone” reggeaardheid wat hulle verteenwoordig.
Eksteen Botes getuig van die volgehoue hoë vlak van evangeliebediening wat onder ons heers. Hy lewe vir die evangelie van Jesus Christus.
Ons is dankbaar vir Eksteen Botes.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Ek was saam met hom in Huis Boekenhout gewees waar hy ook huisvoorsitter was. Die huldeblyk hierbo is ‘n goeie beskrywing van Eksteen.
Dankie, ds. Hennie vir ‘n besondere beskrywing van Eksteen Botes.
Hy was nie altyd op die voorgrond nie, het ook nie daarna gestreef nie, hy het nie verdere grade behaal (sover ek weet nie) maar dié wat hy gehad het was genoeg om ‘n dominee te wees in die Kerk van die Here. Daarin het hy uitgemunt.
Reggeaard, nederig, minsaam, vol liefde en bereidheid tot diens.
Die uitverkorenes van die Here word almal uitverkies om te dien, m.a.w. tot diens. Geen selfverheffing nie, geen hoër strewes as hierdie nie, net die strewe om die Here en Sy skape, Sy Kerk, te dien. Dit kon mens altyd sien en beleef.
Graag herhaal ek: “Dankie Eksteen vir die mens en dominee wat jy was.”