Tydens April 2019 se gradeplegtigheid by die Universiteit van Pretoria het dr Andorette Hill-Jowett ’n PhD-graad in Teologie ontvang. Die titel van haar proefskrif was: The experience of loss in the adoption triad: A narrative pastoral perspective. Hierdie artikel is ’n uitvloeisel van dié proefskrif.

Ek het onderhoude gevoer met verskeie gesinne waarin ’n aanneming voorgekom het. Die aannemingsdriehoek bestaan uit die aangenome kind, die aanneemouers en die biologiese ouers. Ek het slegs met gesinne gepraat waar die aangenome kinders al ouer as 18 jaar is.

Die ervaring van verlies was duidelik by elkeen. Die aangenome kinders ervaar verlies omdat hulle wonder hoe en wie hulle sou gewees het as hulle nie aangeneem was nie. Hulle glo almal die chosen baby-verhaal dat hulle wonderbaarlik as kinders vir hul aanneemouers gegee is. Dit laat hulle veilig en meer spesiaal as ander kinders voel. Hulle beskou hul aanneemouers as hul enigste ouers en hul waardes en geloof as die erfenis van hierdie ouers.

Sommige van die aangenome kinders het ’n diep ervaring van verwerping beleef weens die feit dat hul biologiese ouers hulle vir aanneming opgegee het. Dit is die verhaal van die kind wat alleen was met gevoelens van verlies en rou wat nooit erken is nie. Een van die kinders het gesê dat nie eens ’n wyfiehond haar kleintjies weggee nie. Tog het nie een van hulle hierdie gevoelens met hul aanneemouers bespreek nie omdat hulle nie hul ouers se gevoelens wou seermaak nie. Die konstante behoefte om ander gelukkig te maak en te presteer, en om so aanvaarding te kry, blyk ook algemeen te wees.

Woede en magteloosheid was ook belangrike emosies by van die kinders. Die woede spruit uit die vrees om weer seergemaak te word en die ervaring van verlies. Een van die kinders het gedragsprobleme by die huis en by die skool geopenbaar, en haar woede was opvallend. Toe haar ouers haar op hoërskool koshuis toe stuur, het die gedrag drasties verbeter. Sy kon ontsnap van die titel as die aggressiewe kind, en die magstryd tussen haar en haar ma is gebreek.

Twee van die kinders noem hoe lief hul aaneemouers vir hulle is, maar sê nie dat hulle ook vir hul ouers lief is nie. In van die stories is die biologiese vaders geïdealiseer, en die biologiese moeders gedemoniseer. Die meeste van die biologiese moeders kon nie die uitdagings van die lewe goed hanteer nadat hulle ’n kind vir aanneming opgegee het nie. Van hulle voel tot vandag toe hartseer en magteloos. Hulle voel ook dat hul stemme nie werklik gehoor is tydens die aannemingsproses nie. Twee van die biologiese moeders se verhale lees soos ’n nagmerrie uit ’n vorige era. Hulle is deur hul families gedwing om van die babas afstand te doen. Albei was in ’n huis vir ongehude moeders en het die berading daar as positief beskryf. Tog het hulle geen berading ná die aanneming gekry nie. Hulle praat van permanente letsels en dat die aanneming die grootste trauma van hul lewens was. Hulle is nog steeds gebroke oor die verlies van hul kinders se kinderjare, selfs al het hulle mekaar as volwassenes ontmoet.

’n Ander moeder het haar kind opgegee sonder om haar familie daarin te ken. Sy beleef al vir 40 jaar die sterk afkeuring en kritiek van haar ma, broer en suster weens hierdie besluit. Sy is ook nie na wense deur die maatskaplike werker voorberei op die geweldige verlies wat die aanneming sou beteken nie. Die biologiese ma’s was ook angstig oor moontlike verwerping deur of oordeel van die kinders voor die reünies.

Die biologiese pa’s se verhale klink ook soos ’n nagmerrie. Voor die veranderinge wat die Kinderwet 38, 2005 gebring het, het ongehude pa’s geen regte gehad nie. Hulle is nie geken in die besluit om hul kinders vir aanneming te gee nie. As ’n kind voor 2005 aangeneem is, kan die biologiese pa net kontak met die kind kry met die biologiese ma en die maatskaplike werker se hulp. Geen maatskaplike werker sal aan die pa die kind se besonderhede gee nie. Selfs wanneer die biologiese ouers met die kind kontak wil maak, is dit nog die aangenome kind se besluit of hy of sy die ouers wil ontmoet. Die biologiese ouers stem saam dat reünies nie verlore jare kan terugbring nie. Een van die aangenome kinders wou nie haar lewe kompliseer deur haar biologiese pa te ontmoet nie.

Die ligstraal is dat sedert die Kinderwet 38, 2005 in werking getree het, biologiese pa’s ook ouerlike regte het. In praktyk beteken dit dat as die ma die kind wil laat aanneem, die pa aansoek kan doen vir volle toesig en beheer oor sy kind. Waar die ongehude ma haar kind hou, sal hulle na alle waarskynlikheid gesamentlike toesig en beheer kry.

Die aanneemouers het almal die hartseer en verlies beleef om nie hul eie kinders te kon hê nie. Een egpaar het beklemtoon hoe belangrik dit was dat hulle eers moes rou oor die biologiese kinders wat hulle nie kon hê nie, voordat hulle kon oorweeg om aan te neem. By twee van die aanneemfamilies was die vaders onbetrokke by die onderhoude. Hulle was tot ’n groot mate nie betrokke by die dag-tot-dag-opvoeding van die kinders nie en die moeders het hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die opvoeding gedra. Van hierdie moeders het dit ’n groot uitdaging gevind om hul kinders groot te maak. Hierdie spesifieke vaders het hul rol primêr gesien as die finansiële voorsiener van die gesin.

Van die aanneemmoeders is onseker oor hul verhouding met hul kinders. Die aangenome kind se herontmoeting met die biologiese ouers was ook vir een aanneemmoeder traumaties, omdat sy dit ervaar het as verwerping van haar as die moeder. Al die aanneemouers het hul kinders met liefde grootgemaak. Twee van die aanneemouerpare het probleme om hul kinders as onafhanklike volwassenes te behandel. Een aangenome kind bly nog op 29 in die ouerhuis en het nie ’n bestuurslisensie nie. Sy ouers neem hom waar hy moet gaan. Die ander aangenome kind se bewegings word op 43 nog deur haar ouers gemonitor en hulle lewer ’n opinie oor elke aspek van haar lewe. Albei noem dat hulle onafhanklik wil wees en hul eie lewe wil leef.

In een narratief het die aangenome kind, wat as tiener aangeneem is, nie vermeld dat haar aanneemouers se eie seun gesterf het ‘n jaar nadat sy aangeneem is nie. Sy noem ook nie hoe drasties haar aanneemma se houding teenoor haar verander het nie. Die aanneemma beskryf haar negatiewe gevoel teenoor haar aangenome dogter as totaal onlogies, maar deel van ’n gekompliseerde rouproses. Sy het haar aangenome dogter verkwalik dat sy jonk en gesond is, terwyl haar biologiese seun gesterf het.

Die ervaring van verlies in die aannemingsdriehoek was duidelik. Die aannemingsmites en -sprokies met happily-ever-after-endings help nie. Dit ontken net die ware gevoelens van die mense in die driehoek.

Ten spyte van die feit dat die aanneemgesinne probleme ondervind het, het die meeste mense in die aannemingsdriehoek hul krag en hoop om die lewe se uitdagings te hanteer in hul geloof in God gevind. God se hand was duidelik in van die inspirerende narratiewe van families wat mekaar gevind het. Al die aanneemouers beskou hul aannemings as wonderwerke. Hulle sien hulself as instrumente in God se hand. Die aanvaarding van die aangenome kind in die wyer familie is baie belangrik. Behalwe vir een aangenome kind, is die kinders geliefd en inherent deel van die familie.

Ek glo dat daar geen toeval was in die wyse waarop elke aannemingstorie gebeur het nie. Deur God se genade het die regte mense mekaar gevind.

(Dr Andorette Hill-Jowett is ’n emerituspredikant van die Kerk)

af
af
Deel met behulp van
Copy link