In Denise Ackerman se boek After the locusts – Letters from a landscape of faith skryf sy briewe oor haar lewenservarings en waardes. Hierdie is diep persoonlike briewe en aan die einde volg ’n naskrif vir haar kleinseun. Dit is kort, maar vat die hart van haar boek saam. Haar raad is om te onthou dat alles wat is, sit in ’n haselneut opgesluit – hoe klein en gering ook al. Soos in alle klein en onopvallende dinge skuil die geheimenis van die lewe daarin, omdat dit deel in die geheimenis van God se ewige liefde. Haar wens aan haar kleinseun is dat hy God se liefde in die oënskynlik onbeduidende, eenvoudige dinge sal raaksien en dat hy die grootsheid van die kleine sal waardeer.
Sagaria 4: 10 (AFR83) laat ’n mens nadink: Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. God gebruik dit wat by mense veragtelik is om die buitengewone te bereik. ’n Gideonsbendetjie oorwin die Midianiete (Rig 7). Vyf broodjies en twee visse voed ’n skare (Joh 6). Jesus se kerngroep dissipels was slegs 12, maar hulle het die Evangelie gedeel sodat dit oor die hele wêreld versprei het. Net omdat God in sy almag by hulle was (Matt 28). Suurdeeg, sout en lig is Jesus se vergelykings van die uitkringende krag van Christene in die wêreld (Matt 5: 13-14). God se Koninkryk is soos ’n mosterdsaadjie wat tot ’n reuse plant groei (Matt 13: 31-32).
Vir negatief geld dieselfde waarheid. ’n Bietjie kwaad kan groot skade aanrig. Jakobus sê ons woorde is soos vlammetjies wat reuse vure kan versprei. Jesus gebruik die beeld van suurdeeg ook in ’n negatiewe sin wanneer Hy praat oor die kwaad wat veroorsaak is deur die Fariseërs en Skrifgeleerdes (Luk 12: 1).
Baie gemeentes se getalle word minder en dit wek kommer, maar kom ons waardeer die rol van klein gemeentes. Van my mooiste herinneringe was om lang afstande te ry om by verafgeleë wyke soos Oviston en Philippolis vir jare selfs in huise erediens te hou.
God kies nie altyd die oënskynlik indrukwekkende nie. Hy kies wie en wat beskikbaar, gehoorsaam en getrou is. In sy hande is niks te klein nie, want dit word die saad wat tot iets groter groei as wat jy dink. Dis nie altyd groot aksies wat die lewe verander nie, maar klein konsekwente optrede en keuses.
Klein dade wat in liefde gedoen word, verander die wêreld. Die verskil lê nie altyd in grootte nie, maar in volharding.
In ’n neutedop: herontdek hierdie jaar die krag van die kleine.
Moenie fokus op wat jou ontbreek nie, maar op dit wat jy het en gebruik dit tot God se eer. Wees soos Petrus wat vir die bedelaar gesê het: Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou … (Hand 3: 6, AFR83). Gee die bietjie wat jy het in sy Naam en kyk wat Hy daarmee vermag. Onthou, God meet nie met wêreldse maatstawwe nie. Wat ons saai in die geloof, hoe gering ook al, laat God in genade groei.