Wins en verlies, die positiewe en die negatiewe, speel ’n beslissende rol in elke mens se lewe. Elke mens reik sterk uit na die gunstige. Gedurende grendeltyd het die ongunstige sterk na vore getree. Vir baie mense was en is grendeltyd net sleg. Is dit so met ons?

Vir duidelikheid: Ek kan nie die algemene publiek se reaksies op grendeltyd beoordeel nie, want die oomblik toe ek en my vrou in Pretoria geland het, het die lockdown toegeslaan. Vanaf daardie eerste oomblik was en is ons steeds inwoners van Machteld Postmus wat tot voor lockdown klaarblyklik ’n baie besondere woonplek was. Die oomblik toe die lockdown werklikheid geword het, het alles radikaal verander. Was en is grendeltyd vir ons en die ander inwoners net sleg?

Hou ook in gedagte dat die inwoners net hier mag woon solank hulle selfversorgend is. Selfstandige en vry mense wat kon kom en gaan soos hulle wou, binne die raamwerk van geborgenheid en veiligheid. Die inwonertal beloop ongeveer 75 seniors, die meerderheid dames, gemiddelde ouderdom 75 jaar. Tagtigers en negentigers is ook nog inwoners hier.

Weer vra ons dan die vraag: Was en is grendeltyd vir ons net sleg?

Dit is alleen beoordeelbaar mits ons kortliks terugkyk na ons blyplek en sy mense in die voor-grendel-tyd:

Die inwoners was verdeel in drie groepe wat verskillende aktiwiteite binne en buite die oord gereël het, waaraan almal kon deelneem; kunstenaars wat die inwoners vermaak het; die bestuurder en personeel het verskillende funksies, onder andere Valentynsdag en ’n Jaareindfunksie, gereël; musiekprogramme in die mediasentrum; weeklikse gesamentlike teedrink met versnaperings asook ’n gesamentlike braai een keer per maand in die lapa; samesanggeleenthede; uitstappies buite die oord; versorging deur ’n assistentverpleegster; ’n haarsalon op die terrein; besoeke van kinders en kleinkinders, familie en vriende; gimtrim vir fiksheid. ENSOVOORTS!

Alles hierbo, wat vir die bejaarde mens lewensbelangrik en onmisbaar is, het in gedrang gekom met grendeltyd. Vroeg in Maart 2020 breek grendeltyd toe aan – met wisselende vlakke waarin toelaatbaarheid van aktiwiteite wissel, wat lei tot verwarring en verlies – tot hoe lank? Is grendeltyd dan net sleg vir ons inwoners?

Natuurlik is dit vir ons sleg in terme van die voorregte wat ons elke dag geniet het. Skielik is ons soveel kwyt – geen besoeke van kinders en kleinkinders en familie en vriende nie. Gesamentlike aktiwiteite – onder andere kreatiewe sessies – is taboe. Onderlinge kommunikasie onder ons inwoners is beperk en eintlik afgesny. Die innigheid en gemoeidheid met mekaar is iets van die verlede. Ons inwoners word afgeperk in ons woonplekke. En daarbenewens kom die onsekerheid oor die toekoms en neerslagtigheid en depressie. Onder ons is mense met groeiende geloofsonsekerheid – sommige weet nie meer hoe en wat om te bid nie! Gelukkig is ons veiligheid nie in gedrang nie vanweë die veiligheidsomheining en algemene sekuriteit.

En tog is die grendeltyd nie net sleg nie. Nee, want skielik onthou inwoners die gawes en voorregte wat ons in so ’n ruim mate geniet het. Soos wat die grendeltyd vorder, vind daar in en onder ons verskuiwings van denke en instelling plaas. Positiwiteit tree sterker na vore. Dankbaarheid vir dit wat ons nog het, bring perspektiewe wat grendeltyd meer aanvaarbaar maak, juis te midde van die onsekerheid van hoe lank nog.

Die belangrikste van grendeltyd  is egter dat ons met selfondersoek gekonfronteer word. Dit bring menslikheid en medemenslikheid weer sterker na vore. En hierin kan dit nie anders nie as dat ons verhouding met ons God weer meer en meer voorrang geniet. Grendeltyd is dus juis nie net sleg nie.

(Ds At van den Berg is ’n emerituspredikant van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap