Lukas Maree het gesing: Môre is die jeug se dag, dit is net oumense wat na gister smag… Vir baie lank het die Kerk geredeneer dat môre die jeug se dag is, daarom moet hulle maar stil sit en luister in die kerk. Maar na verloop van tyd het dinge verander.

Toe ek in die 1980’s ’n tiener in die Kerk was, was daar aktiewe jeugverenigings in feitlik al wat gemeente was. Die jeug is, volgens my belewenis van die jeugbewegings, as ’n subgroep in die gemeente beskou, belangrik genoeg dat daar ’n spesiale vereniging vir die jeug moet wees, maar steeds nie belangrik genoeg om déél van die gemeente se hartslag te wees nie. Nee, môre is die jeug se dag…

Op universiteit het my dosente my geleer dat die jeug nie die kerk van môre is nie, maar nou reeds deel van die kerk moet wees. Die jeug moet voel hulle is ’n integrale deel van die bediening van die gemeente. Daar is gepleit dat die kategese en jeug een moet wees en dat die jeug meer in die gemeente betrek moet word.

Groter gemeentes het ander planne gemaak, hulle het op ’n Sondag kinderkerk begin hou terwyl die volwassenes besig was met die erediens. Daar is jeugdienste gehou en op verskeie maniere probeer om die jeug binne die raamwerk van die Kerk te akkommodeer.

Maar luister ’n mens na gemeentes wat baie maal berig hoe die jongmense uit die kerk wegraak nadat hulle belydenis van geloof afgelê het, moet ons as kerk eerlik genoeg wees om te erken dat ons iets nie reg doen nie. Dit verstom my hoe ouers agter hul kinders aan na ander kerke as ons Kerk gaan omdat die kinders dit meer geniet in die ander kerke.

Ek onthou nog ’n gesprek van sowat 15 jaar gelede met ’n lidmaat wat gekant was teen ’n kinderdiens wat een maal per maand in die betrokke gemeente gehou is. Die gemeente sal leegloop as dit gedoen word, was die beswaar. Die werklikheid is dat die betrokke gemeente vandag feitlik niemand in die kategeseklasse het nie en dat die ouers en hul kinders gegaan het na ’n ander kerk wat die jeug spesiaal laat voel het.

Wanneer ek vandag hier sit en terugdink aan my eie pogings deur my amper drie dekades as predikant in die Kerk, moet ek erken dat ek tot ’n groot mate nie daarin kon slaag om, aan die een kant, die ouer lidmate tevrede te hou en, aan die ander kant, die jeug deel van die gemeente te laat voel nie. Ek is seker dat baie ander kollegas vandag dieselfde moet erken.

Onlangs het die kerkraad van die gemeente waar ek dominee is, besluit om die aanddienste te staak omdat daar soms net sewe mense vir ’n aanddiens opgedaag het. Ons het besluit om een maal ’n maand ’n jeugdiens in die plek van die tradisionele aanddiens te hou. Die gevolg? Bykans 50 mense, klein en groot, daag op. Wat doen ons anders? In plaas van om met ’n toga aan van ’n kansel af te kyk na die jongmense, staan ek in die liturgiese ruimte met ’n netjiese broek en hemp. In plaas van moeilike liedere saam met die orrel sing, sing ons met klavierbegeleiding. In plaas van ’n sware preek, verkondig ons die evangelie op so ’n manier dat selfs ’n graad 1-kind dit kan verstaan. In plaas van vir leë banke preek, sit daar ’n mooi klompie wat op ’n Sondagaand bereid is om in die huis van die Here te wees. Een sê vir my die ander dag dankie: Dankie, Dominee, dat Dominee dink ons is spesiaal genoeg om hierdie jeugdiens vir ons te hou.

Daar skort niks met die hartslag van ons jongmense nie. Inteendeel, ons jongmense soek meer as in vorige geslagte. As daar iets skort, is dit by ons as ouer mense, wat nou maar een maal nie wil erken dat die jeug ’n integrale deel van ons gemeentes is en nie ’n snaakse subgroep wat soos vreemdelinge behandel moet word nie.

Hierdie uitgawe is juis daarom gewy aan ons jongklomp.

My bede is dat die Heer van ons Kerk ons as kerk die wysheid sal gee om ons bediening so aan te pas dat ons jongmense net so lief vir hierdie Kerk sal wees as wat ek is. Dat hulle altyd ’n geestelike tuiste sal kan vind in die Kerk waarin hulle grootgeword het.

Lees gerus ook die insiggewende artikel van dr Johan Lotter en prof Pierre Jordaan oor prediking se nuwe uitdagings in die digitale era.

In Stoepstories word nagedink oor die interessante tema van die doop van babas in dooprokke.

Lekker lees!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap