Gedurende Maart vanjaar het ’n ope uitnodiging in Blitspos verskyn waarin almal wat wou saamdink oor jeugwerk in die Kerk, uitgenooi is om op 30 April en 1 Mei 2019 op Venterskroon bymekaar te kom vir ’n bosberaad. Eindelik was daar sowat 25 predikante, ouderlinge, jeugwerkers asook lidmate byeen om koppe bymekaar te sit oor die jeug in en om die Kerk. 

Die groep het uit verskillende ouderdomsgroepe gekom, elk met hul eie kennis en ervarings. Die polsslag van die jeug is een van die groot bekommernisse wat die toekoms van die Kerk wesentlik raak. Is daar ’n polsslag, of is daar geen pols nie?

Hoe klop die harte van die tieners en jongmense?

Dis duidelik dat die tendens van kleinerwordende gemeentes veroorsaak dat al minder gemeentes steeds sinvolle jeugaktiwiteite kan aanbied. Die huidige tiener- en jongvolwasse groep is deel van die millenniumgenerasie, wat gekenmerk word deur hul interaksie met verskillende vorms van media (slimfone, rekenaars en televisie). Hulle vestig sosiale bande veral via die sosiale media in die kuberruimte.

Tog staan hulle nie noodwendig koud teenoor geloof of ’n verhouding met Christus nie. Daar word egter nie maklik op ’n tradisioneel kerklike manier aan hul behoeftes voldoen nie. Daar leef beslis ’n soeke na ’n ontmoeting met God en ’n behoefte aan geloofsverdieping by hierdie generasie. Binne die tradisionele 09:00 Sondagoggenderediens en die Kerk se gebouekomplekse vind hierdie ontmoeting met die jongmense moeilik plaas. Vir die Kerk om met hierdie generasie kontak te maak, moet gekyk word na geleenthede om hul hartklop te hoor en om nader aan hul leefwêreld te kom.

Waar kan die Kerk die vinger op die polsslag van die jeug kry?

Die huisgesin is tradisioneel die logiese vertrekpunt in die skep van ’n geloofspolsslag vir die jeug. Ongelukkig, weens verskeie omstandighede, is die huisgesin nie altyd die antwoord wanneer ons praat oor geloofsvorming nie. Terwyl hierdie generasie baie sterk ingestel is op sosiale media soos WhatsApp, Instagram en ander, skep dit ’n geleentheid om juis daar met hulle te kommunikeer en verhoudings te bou.

Daar is moontlikhede om die gemeentes se fasiliteite en kundigheid beskikbaar te stel vir aksies waarheen die jongmense wel sal kom. Wiskundeklasse, handvaardigheids- en ander opleiding kan aangebied word deur die kerkgemeenskap, om te wys dat gemeentes werklik omgee. Fasiliteite kan ook as kuierplekke dien, waar kinders uit die gemeenskap byvoorbeeld rekenaarkoppelspeletjies kan speel in ’n veilige omgewing. Jong volwassenes vorm reeds belangegroepe wat byvoorbeeld saam fietsry, draf en ander dinge doen. Hierdie is ’n geleentheid vir die Kerk om op ’n andersoortige manier by jongmense betrokke te raak.

Hoe kry die Kerk weer die vinger op die pols?

Die bosberaad was dit eens dat die gebruik om deurlopend navorsing en studiestukke die lig te laat sien, nie in die huidige tydsgewrig die gewenste antwoord is nie. Die Kerk moet nou aksie neem en die jongmense in die breë gemeenskap dien, met alles tot ons beskikking.  Hiervoor is onder meer toegeruste jeugleiers in die Kerk nodig, wat verhoudings kan bou met hul portuurgroep, binne en buite die tradisionele kerk. Jongmense in die gemeentes moet die geleentheid kry om op nuwe maniere te dien en betrokke te raak.

Pasaangeërs vir die polsslag

Daar bestaan tans ‘n dringende behoefte aan leiersopleiding, veral vir die jeug in die Kerk. Die ring van Vereeniging het in 2018 met ’n suksesvolle leierskapontwikkelingsprogram begin, wat  uit twee dele bestaan:

  • Deel 1 handel oor persoonlike leierskap en sluit onderwerpe soos waardes, beginsels, visie, doelwitte en rentmeesterskap in.
  • Deel 2 handel oor die toepassing van die vaardighede in die koninkryk.

Die teikengroep vir hierdie opleiding is graad 10’s, dus voordat die belydenisjaar begin. Sodoende kan hulle as “pasaangeërs” binne gemeentes optree. Die belydenisjaar word vervolgens ’n vestigingsjaar vir leierskap binne die Kerk. Die ideaal is om hierdie opleiding wyer binne die NHKA te doen. So kan ’n groep leiers landwyd gekweek word, wat in komende tye die Kerk kan voorgaan. 

’n Verstadigde hartklop moet omgesit word in ’n opgewonde polsslag!

Jongmense is tot op hede formeel toegerus vir hul geloof en dienswerk deur in ’n groot mate staat te maak op gedrukte kategesehandleidings. Hier moet die Kerk wyer dink. ’n Rekenaargebaseerde interaktiewe App (toep), wat op ’n slimfoon werk, is dalk die antwoord. Hoë drukkoste en die stadige siklusse van opdatering van kategesehandleidings kan sodoende omgekeer word. Hierdie is by uitstek die formaat tegnologie waarin die jongmense vandag ingegrawe is.

Die bosberaad het ook die versugting uitgespreek dat elke gemeente jeugbediening dringend en opnuut  as een van die primêre fokusareas sal vestig indien ons enigsins die polsslag van die jeug wil raakvat. Ons moet alles moontlik doen om die jeug van die Kerk ’n opgewonde polsslag te gee!

(Ds Bouwer Serfontein is leraar in Gemeente Vereeniging)

af
af
Deel met behulp van
Copy link