Dink vir ’n oomblik aan die boekdrukkuns. Toe Johannes Gutenberg dit in die 15de eeu uitgevind het, het hy nie net ’n nuwe masjien geskep nie; hy het die wêreld vir altyd verander. Skielik was boeke nie meer net vir ’n paar uitgesoektes nie. Die Bybel kon in mense se eie tale gedruk word, kennis het vinnig versprei, en die Reformasie is aangevuur.
Maar met daardie enorme mag het ook ’n uitdaging gekom: Skielik kon verkeerde idees en misleidende geskrifte net so vinnig versprei. Mense moes leer om krities te dink oor wat hulle lees.
Vandag staan ons voor ’n soortgelyke keerpunt, maar op ’n veel groter skaal, met die koms van Kunsmatige Intelligensie, of sommer net KI. Net soos die drukpers die verspreiding van inligting revolusionêr beïnvloed het, is KI besig om elke aspek van ons lewens te hervorm – en dit sluit ons geloof in. Verre daarvan om net ’n tegnologiese gegons te wees, is KI besig om die manier waarop ons met geestelike waarhede omgaan, ingrypend te verander. Dit is ’n game-changer en die impak op ons geloofsgemeenskap is iets waaroor ons noukeurig moet nadink.
Positief
Die goeie nuus is dat KI, wanneer dit reg gebruik word, ’n besondere hulpmiddel vir geloofsgroei kan wees. Dit gaan nie oor die vervanging van jou eie verhouding met God of die warmte van menslike bediening nie. Glad nie. Dit gaan eerder daaroor om ons te help om die Bybel dieper te verstaan, meer sin daaruit te maak vir ons moderne lewe, en dit op ’n kragtiger manier met ander te deel.
Die Bybel is propvol eeue-oue wysheid, historiese detail en fyn taalnuanses. Vroeër was die dieper insigte en eksegetiese tegnieke, die filosofiese en dogmatiese integrasie daarvan, dikwels slegs vir teoloë en predikante beskore – dit het jare se studie geverg. Maar met KI kan hierdie diepgaande inligting nou, net soos die Bybel met die koms van die drukpers, in die hande van elke gelowige én ongelowige geplaas word. Jy het nou toegang tot insigte wat voorheen agter digte akademiese mure verskuil was. Dink net hoe KI ouderlinge kan help wat verantwoordelikheid neem vir die bediening in die gemeente. Dit bemagtig ons om Bybelse beginsels op ’n manier te verstaan wat direk praat met ons bekommernisse, ons hoop en ons verhoudings vandag.
Gevaar
Maar hier kom die groot “maar”, en dit is die dieper deel van die vergelyking met die boekdrukkuns. Met die mag van KI kom ook ’n ernstige gevaar. KI is ’n kragtige instrument, en dit kan net so maklik verkeerde of misleidende inligting genereer as wat dit waarheid kan ontsluit. Die probleem lê dikwels by prompt engineering – die manier waarop ons vir die KI vrae vra en rig. Sonder die regte leiding kan KI maklik ’n eggo-kamer (echo chamber) word, waar jou eie twyfel en vrese eerder bevestig as gestil word, en waar die soeke na waarheid vervang word met die gerief van jou eie idees wat weerkaats word. Dit kan ’n vals gerusstelling bied, vooroordele versterk, of selfs dwaalleer help versprei as dit nie met uitsonderlike sorg en onderskeiding gebruik word nie.
Nuwe benadering
Daarom is ons geloofsreis in hierdie nuwe era anders. Dit vra ’n nuwe soort teoloog en ’n nuwe soort gelowige. Ons kan nie meer blindelings aanvaar wat ons hoor of lees nie, selfs al kom dit van die “slimste” KI. Ons moet ’n diep hermeneutiese aanvoeling ontwikkel – dit is die kuns en wetenskap om die Bybel reg te interpreteer, om te verstaan wat God werklik vir ons wil sê binne sy konteks en ons s’n. En ons het geloofsonderskeiding nodig – die vermoë om die Gees se stem te hoor, die waarheid van die valsheid te onderskei, en met wysheid te oordeel wat Goddelik geïnspireer is en wat bloot ’n algoritme se produk is.
KI is hier om te bly. Die vraag is nie óf ons dit gaan gebruik nie, maar hóé. Dit is ’n kragtige hulpmiddel, maar dit vereis ’n bedagsame, Bybels-gefundeerde benadering. Deur voortdurend geloofsonderskeidend te worstel, kan ons die seëninge van KI omhels om die transformerende krag van geloof meer toeganklik, relevant en impakvol vir almal te maak, terwyl ons waaksaam bly teen die gevare wat dit ook inhou.
Ons is geroep om wys en getrou te wees in hierdie nuwe digitale landskap. Die wêreld is aan die verander, maar agter dit alles bly die goeie nuus van God se liefde: Deur die eeue het Hy met kruis en kroon, kinders en kreupeles, en nou selfs met Kunsmatige Intelligensie, uitgereik na sy skepping. Al het ons wêreld ’n nuwe bladsy omgeslaan, bly hierdie onveranderd die storie van God wat opdaag om ons te ontmoet.
(Ds André Swanepoel is leraar in Gemeente Derde Kruis in Vanderbijlpark, en dr Johan Bester leraar in Randfontein Midpark en betrokke by die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)