Feast of the Clowns word vir die afgelope 20 jaar in die middel van Augustus gevier. Dis ’n optog waarin mense soos narre en hansworse aantrek en met plakkate op die maat van ’n koperorkes deur die middestad van Tshwane marsjeer. Dis ’n fees wat deur die gemeenskap vir die gemeenskap gereël word, ter viering van God se teenwoordigheid in die stad. Dié vreedsame prettige protesoptog dien as ’n bewusmakingsplatform vir verskillende kwessies van maatskaplike geregtigheid in die stad.

Die Feast of the Clowns was die eerste keer dat ek met die idee van ’n Christen as hanswors te doen gekry het. Sedertdien het ek heelwat geleer oor die profetiese rol wat narre en hansworse in die geloof en in die samelewing speel.

Narre en hansworse pas doelbewus nie in nie. ’n Hanswors is laf en belaglik in vergelyking met die elegante akrobate, bekwame vuurspuwers, vernuftige kulkunstenaars en heldhaftige waaghalse in die sirkus.

’n Hofnar was tradisioneel die persoon wat die koninklike hof vermaak het. Hy/sy was ook die enigste een aan die koninklike hof wat die onderliggende onreg van die huidige sisteem by die naam kon noem en sy/haar kop behou. Nie self deel van die room van die samelewing nie, maar beweeg onder hulle rond.

Narre en hansworse ontwrig die status quo. Hulle verbreek die illusie dat alles is soos wat dit moet wees. Hulle steur hulle nie aan die onbuigbaarheid van die tradisie nie. Hulle is nie bang om voor gelag te word nie, want hulle weet hulle laat mense uit ongemak lag. ’n Ongemak wat spruit uit ’n diepliggende maar ontkende en onderdrukte wete dat wat die nar sê die waarheid is. In hierdie opsig is narre en hansworse profete. Deel van ’n lang tradisie van mense wat ongemak professioneel bevorder.

Die profete van die Bybel het nie altyd opgetree soos wat ’n mens van verantwoordelike geestesgesonde grootmense verwag nie. Johannes het sprinkane geëet (Mark 1:6); Jona het homself onder ’n komkommerplant jammer gekry (Jona 4:6-8); Jesaja het vir drie jaar kaal rondgeloop (Jes 20:2-3); Jeremia het potte stukkend gegooi (Jer 19:1-13) en ’n juk om sy nek gedra (Jer 28:10-16); Esegiël het vir 390 dae op sy linkersy en 40 dae op sy regtersy gelê en tydens hierdie tyd sy kos op beesmis gaargemaak (nadat hy God in Eseg 4 gevra het om die voorskrif van menslike uitskot te versag); hy het ook ’n boekrol (daardie tyd se Bybel) geëet (Eseg 3:1-3). Die meeste van hierdie is waarskynlik beeldspraak, maar dis definitief nie “normaal” nie. Dit was bedoel om mense te skok en skielik met aandag te laat luister.

In die eerste-eeuse Romeinse kultuur het narre en hansworse politieke en sosiale kommentaar gelewer met oordrewe uitbeeldings van die werklikheid. Op hierdie manier kon onreg in die samelewing uitgewys word sonder om konflik te begin. Mimiekkunstenaars het gereeld met Christene gespot, juis om die onreg teen die vervolgde Christene onder die rykes en magtiges se aandag te bring.

Hoewel Paulus as ’n “tentmaker” beskryf word, word die woord skēnopoios in ander tekste nie as tente nie maar as die konstruksie van teaterstelle en kostuums vertaal. Wanneer Paulus die dwaasheid van die evangelie eerder as die wysheid van die wêreld aanbeveel, sou sy lesers dit verstaan het as ’n verwysing na die publieke narre wat mense verras het met die manier waarop hulle die waarheid uitgewys het (1 Kor 1:18-25 en 4:9-10).

Jesus het self ook tegnieke gebruik wat kenmerkend van narre en hansworse is. So word dié wat eerste is laaste (Mark 9:35), die blinde lei die blindes (Luk 6:39), ’n juk word ’n simbool van vryheid (Matt 11:29), mense met balke in hul oë moenie splinters uit ander sʼn wil uithaal nie (Matt 7:1-5), en ’n kameel klim deur die oog van ’n naald (Mark 10:25). Die gewone wêreld word omgekeer om die absurditeit van mag te beklemtoon.

Jesus se leer en lewe het telkens die teenoorgestelde uitkoms as wat die konvensionele wysheid verwag. Die Messias word in ’n stal in plaas van ’n paleis gebore, word gekruisig in plaas van gevolg. Niks aan Jesus was soos wat dit veronderstel was om te wees nie. Sy manier van doen het die kerkmense van sy tyd hewig ontstel. Die visie wat Hy van God se koninkryk gehad het, het die bestaande orde onderstebo gekeer. Die mense wat belê het in die bestaande orde was bang vir wat hulle kon verloor as dit waar is dat God vrede met alle mense het. Dat jou geld of statuur, eeue-oue tradisie of goeie teologie jou nie gaan vryspreek van die manier waarop jy aandadig is in die instandhouding van onreg nie. Jesus het mense baie ongemaklik gemaak.

Dis iets waaraan ons onsself kort-kort moet herinner wanneer ons moet onderskei wat vir ons belangriker is:

  • die instandhouding van die bestaande orde waaruit ons bepaalde voordele trek saam met die behoud van tradisies wat daardie voordele beskerm; of
  • die evangelie wat die manier waarop die wêreld werk onderstebo keer en mense ongemaklik maak omdat ons weet dat God se waarheid anders as mense sʼn lyk.

Narre en hansworse daag ’n mens uit om vir die absurditeit van die huidige maghebbers te lag. En dan nooi hulle ’n mens uit om saam met hulle van ’n alternatiewe werklikheid met ander reëls as die bestaande een te droom.

Mag ons die moed en die durf hê om waarlik in Jesus se voetspore te volg. Mag dit vir ons ’n teken wees dat ons iets reg doen wanneer ons as narre en hansworse uitgekryt word omdat ons die bestaande orde bevraagteken. Mag die evangelie ons hoogste goed en eerste prioriteit bly.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap