Die gesonde funksionering van gemeentes binne die kerk is van groot belang vir die Kerk in geheel. Waar gemeentes ’n gesonde roepingsbewustheid het, maak hulle ’n verskil in die gemeenskap asook in die koninkryk van God hier op aarde.

Die Kerkspieël-navorsing wat elke vier jaar gedoen word, is ’n sinvolle instrument om gemeentes en die Kerk te help om hul roeping te evalueer. Deur middel van vraelyste wat hulle voltooi, word spesifiek geluister na die stem van die lidmate. Die opname staan bekend as die erediensbywonersopname en is in 2018-’19 gedoen in 17 gemeentes van die Kerk. Die ondersoek word gedoen in vennootskap met die National Church Life Survey (NCLS) in Australië en is ’n instrument om aan gemeentes terugvoer te gee oor hoe lidmate die betrokke gemeente en sy werksaamhede beleef.

Die ondersoek gee ’n beduidende en geloofwaardige stem aan lidmate van gemeentes en bring ook sekere tendense in die Kerk in geheel na vore. Die vraelys wat tydens ’n erediens ingevul word, dek ’n wye verskeidenheid van aspekte van die gemeentelike lewe.  ’n Belangrike vertrekpunt is om vanuit ’n waarderende perspektief te kyk na sterkpunte wat in die gemeente groei en energie gee.

By die lees en interpretering van die verslag, is dit belangrik om aandag te gee aan al die dimensies van die verslag. Benewens die tendense wat met die gereelde deelname aan die ondersoek onderskei kan word, gee dit nege maatstawwe waaraan gemeentes en denominasies hulself kan meet, en bied dit ’n oorsig wat gemeentes en hul leiers in strategiese beplanning kan gebruik.

Die nege maatstawwe wat sentraal tot ’n groeiende gemeente staan, dui op die sterkpunte, maar ook op areas waar daar potensiaal vir groei is, en kan soos volg omskryf word:

Die interne maatstawwe fokus op die innerlike lewe van die geloofsgemeenskap en word beskryf deur ’n groeiende en lewendige geloof, lewenskragtige en opbouende eredienste en ’n sterk en groeiende gevoel van gemeenskap van gelowiges. Die interne maatstawwe het veral met ’n geloofsverhouding met God en die belewenis daarvan in die geloofsgemeenskap te make.

Die inspirasiemaatstawwe fokus op die lewenskragtigheid van die gemeente en faktore wat gemeentes vorentoe laat beweeg, soos ’n duidelike en gedeelde roeping of visie, inspirerende en bemagtigende leierskap en ’n openheid tot verbeeldingryke en aanpasbare vernuwing. Hierdie kwaliteite verwys na die rol van leierskap en die rigting waarin ’n geloofsgemeenskap beweeg.

Die ekstern-gerigte maatstawwe fokus weer op die gemeenskap en bepaal hoe die gemeente sake soos interaksie met die gemeenskap onderneem deur praktiese diens op ’n verskeidenheid terreine, gewillige en effektiewe getuienis na buite en ’n doelbewuste openheid tot inklusiwiteit. Die maatstawwe het as basis ’n verhouding met God, onderling met mekaar, en met die gemeenskap.

Wanneer ons kyk na die uitslag van die 2018-’19-opname, is die volgende aspekte noemenswaardig ten opsigte van die NHKA:

  • Lidmate waardeer die erediens, prediking en die deelname aan die sakrament van die Nagmaal die meeste.
  • Sake waaraan lidmate reken daar oor die volgende 12 maande indringend aandag gegee moet word, is die groei in grootte van die gemeente en die bediening aan die jeug.
  • Gawes en talente wat die belangrikste geag word, is leierskap en bestuur, asook die omgee vir mense en die gemeenskap van gelowiges.

Dit is in die interpretering van die verslag belangrik om ’n aantal faktore in ag te neem. Hierdie faktore sluit onder andere die volgende in:

  • Wie het aan die ondersoek deelgeneem en in watter konteks?
  • Die aantal deelnemers wat deelgeneem het, moet vergelyk word met die totale aantal lidmate in die Kerk.
  • Ander gebeure in die Kerk op die spesifieke tyd van die opname wat die uitslag kon beïnvloed, moet in ag geneem word.

Ten slotte wys die verslag dat 80% van lidmate die ont-wikkeling van nuwe inisiatiewe ondersteun vir die bediening in gemeentes in terme van ’n duidelike visie. Die verslag toon ook dat 70% van lidmate gereed is vir nuwe inisiatiewe om die Kerk te laat groei en die bediening in terme van lidmate se gawes te laat ontwikkel.

Die Kerk beleef  uitdagende tye. Aanduidings daarvan is dalende lidmaatgetalle, swak kerklike bywoning en betrokkenheid, asook kwynende finansiële bronne. Daar is die uitdaging om met jongmense te verbind en hul belangstelling te behou. Dit alles is nie toe te skryf aan die impak van Covid-19 nie en vra daarom vir goeie leierskap. Diepgaande verandering en aanpassing is nodig om weer te kan fokus op ons roeping, anders val ons vas in ou patrone. Die verslag onderstreep die belang van innoverende denke en sterk leierskap.

Die uiteindelike doel van die navorsing is daarom daarop gemik om gemeentes te help om hul volle potensiaal te ontdek en om gesond en lewenskragtig te funksioneer, om hul roeping te onderskei en op die plek waar hulle nou is, ’n verskil te maak. Dit wil uiting gee aan die inhoud van Jesus se woorde in Johannes 10: 10: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. NCLS Kerkspieël wil ’n betekenisvolle bydrae lewer om die oorvloedige lewe van Jesus Christus in die kerk te bevorder.

(Ds Frikkie van Wyk is leraar in Montana-Oos)