Sondag 1 Maart (Tweede Lydensondag) – God se plan, nie ons verwagtinge nie
Markus 8: 31
Jesus begin eers ná Petrus se belydenis in Markus 8 om met sy dissipels oor sy komende lyding en dood te praat. Dit is ’n keerpunt. Tot dusver het hulle Hom gevolg met hoop op oorwinning en verandering. Die tipe verandering wat hul wêreld sou omkeer: Rome sou val, die tempel sou herstel word, Israel sou weer ’n volk met status en krag wees.
Maar Jesus se woorde sny dwars teen hul verwagtinge in. Die Seun van die mens moet ly, verwerp word, doodgaan en dan opstaan. Dit is nie wat Petrus of enige van hulle wou hoor nie. Want as Jesus inderdaad die Messias is, hoe kan dit wees dat Hy só eindig?
Hier word God se pad vir verlossing duidelik: dit is nie die pad van mag en sukses nie, maar die pad van oorgawe en opoffering. Dit is nie ’n tragiese draai in die verhaal nie, dit is die hart van die evangelie self.
Ons maak vandag dieselfde fout as wat Petrus destyds gemaak het. Ons wil hê God moet by ons planne inpas. Ons soek ’n geloof wat ons van lyding red, nie een wat ons deur lyding dra nie. Maar Christus leer ons dat lyding nie ’n afwyking van die plan is nie; dit ís die plan. Die pad na lewe loop deur die dood. Die pad na genesing loop deur gebreek wees. Die pad na vreugde loop deur trane.
Dis ’n harde waarheid, maar ook ’n bevrydende een. Want as God juis daar werk waar dinge uitmekaarval, dan hoef jy nie eers heel te wees voordat jy Hom raakloop nie. Jy kan Hom volg soos jy is, met jou vrees, jou vrae en jou kruis.
Gebed
Here Jesus, ek wil U nie volg net wanneer dit maklik is nie. Lei my op die pad van gehoorsaamheid, selfs as dit deur lyding gaan. Help my om u plan bo my verwagtinge te kies. Amen.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos
Sondag 4 Januarie – Die natuur – spieëlbeeld van God se werking met ons
Jesaja 11: 1-9 In hierdie tyd van Epifanie kyk ons na die impak wat Jesus se lewe en bediening op die gelowiges van sy tyd en alle eeue gehad het. Jesus vernuwe ook ons denke oor die skepping van God. Dit is ons tema vir hierdie week. Die wisseling van seisoene, en...
Saterdag 3 Januarie – Voorneme om te ervaar
Hebreërs 4: 11-13 (AFR2020) Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die...
Vrydag 2 Januarie – Voorneme om te weet
Jakobus 1: 5-8 (AFR2020) As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ’n...
Donderdag 1 Januarie – Voorneme om te luister
Spreuke 4: 20-23 (AFR2020) My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing. Bewaak jou hart meer...
Woensdag 31 Desember – Oujaar – nuwe lewe
Esegiël 37: 10 Die laaste dag van die jaar vul ’n mens met dankbaarheid vir dit wat was en opgewondenheid oor dit wat voorlê. Ons oortuig onsself as’t ware dat oor minder as 24 uur die lewe meer rooskleurig gaan wees bloot omdat die laaste syfer van ons jaartal...
Dinsdag 30 Desember – Spreek hoop in die laagte
Esegiël 37: 7-9 Brueggemann sê dat ons as gelowiges ’n tweeledige profetiese taak het. Dit beteken dat ons die verantwoordelikheid het om die waarheid te praat oor ons omstandighede en ons realiteit. Ons mag/moet onreg, pyn en onsekerheid by die naam noem en dus nie...