Donderdag 26 Februarie – Skep in my ’n nuwe hart

Psalm 51: 10-12

Dit is dalk maklik om vas te haak op gedrag wanneer dit kom by geloof. Die antwoord op die vraag: Hoe lyk ’n gelowige, is selde iemand in verhouding met God. ’n Gelowige wil ons baie keer ken aan iemand wat reg optree, liefde wys en so meer. Hierdie is nie verkeerd nie. ’n Goeie boom word egter geken aan sy vrug maar dit is nie die vrug wat die boom maak nie.

Dink vir ’n oomblik hieraan: Die beginsel agter die vrug van die Gees is juis dat vrugte nie gemaak word nie maar die produk is van ’n gesonde boom. As ons nie van bome verwag om vrug te dra as die boom nie versorg is nie, waarom verwag ons dit van onsself en van ander? As optrede die fokus word van ’n gelowige se lewe gaan ons altyd bietjie harder probeer om lief te hê, bietjie harder probeer om om te gee, bietjie harder probeer om genadig te wees.

In hierdie psalm het Dawid berou oor ’n groot fout wat hy begaan het. Sy gebed is nie vir hom om ’n meer morele mens te wees of dat dit hom sal help om volgende keer beter besluite te neem nie. Dawid se gebed is dat God in hom ’n rein hart sal skep. Ons optrede is ’n resultaat van wat in ons harte aangaan, hetsy goed of sleg. Ons optrede is die uitvloei van ’n veel dieper saak.

In Lydenstyd word ons uitgenooi na die woestynareas van ons lewe en geloof. Dit word die tyd waar ons op ’n nuwe en vars manier God se teenwoordigheid leer ken en voorsiening beleef. Hierdie bied die gulde geleentheid om in hierdie woestynareas ook Dawid se gebed te bid: Skep in my ’n nuwe hart Here. Die uitvloei van ’n hart wat gerig is op God is ’n optrede wat getuig van ’n lewe toegewyd aan God.

Ds Thomas Dreyer, Malelane

Dinsdag 16 Desember – Bekering! Ernstig en dringend

Lukas 3: 7-18 Vandag se teks nooi ons uit om te dink oor die waarde van ’n nuwe lewe deur ons verbintenis aan God. Die enigste manier om die oordeel wat kom vry te spring, is om die nuwe lewe in God aan te gryp. ’n Lewe wat getuig van God se regering en koningskap....

read more

Maandag 15 Desember – Afwagting vra geduldige volharding

Jakobus 5: 7-10 Ongeduld is deel van die mens se lewe. Om te wag, kalm te bly en gemaklik te wees met tyd wat verby gaan, is moeilik. Geduldig wag is nie iets wat ons ken nie. Ons is haastig, wil onmiddellik reaksie hê, raak ontsteld as iemand te lank neem om ons te...

read more

Saterdag 13 Desember – Dit gaan sleg met God se mense

Jesaja 62: 1-12 Dalk kom dit vir jou as ’n bietjie van ’n skok as jy hier lees dat dit sleg gaan met God se mense. Mense raak nie siek omdat hulle groter sondaars is as ander nie. Hulle kom nie ongelukke oor omdat hulle swakker gelowiges is nie. Die waarheid is: Ook...

read more