Maandag 15 Desember – Afwagting vra geduldige volharding
Jakobus 5: 7-10
Ongeduld is deel van die mens se lewe. Om te wag, kalm te bly en gemaklik te wees met tyd wat verby gaan, is moeilik. Geduldig wag is nie iets wat ons ken nie. Ons is haastig, wil onmiddellik reaksie hê, raak ontsteld as iemand te lank neem om ons te antwoord. Ongeduld en gejaagdheid is kenmerkend van ons lewensritmes.
Advent is ’n tyd van wag, maar nie ’n leë en onaktiewe wag nie. Daarom kan ons leer by die boer wat geduldig moet wag van saai tot produk. Wag totdat die oes ryp is en gereed is om ingesamel te word. Die seisoene, tyd, weerpatrone, ontkieming en groei, kan nie aangejaag word nie. Die metafoor van die boer is ’n sinvolle inleiding tot die wag van Advent. Soos ’n boer geduldig moet wag, wat die proses nie kan versnel nie, is die wag beslis nie passief nie. Die oomblik is gevul met afwagting en nuuskierigheid oor dit wat gaan gebeur. Daar word geploeg, gesaai, geskoffel, en die weer word intens dopgehou. Die teks verwys na die waarde van die beloning wat die geduldige boer ontvang wanneer hy met vreugde die oes van die lande afhaal, maar dit verwys ook na die geduldige gelowige wat die wederkoms met groot vreugde sal beleef.
Daarom kan gelowiges leer by die natuur en boerdery wat geduldig moet wag vandat gesaai is totdat die oes ryp op die lande staan. Dit is die gelowige wag van Advent. Die opgewondenheid oor die koms van die Verlosser. Jakobus praat elke gelowige aan tot geduld met die oog op die wag op Christus se tweede koms, maar ook tot geduld met en aansporing van mekaar. Hoe vul gelowiges hul wagtyd sinvol? Hoe geduldig en ondersteunend is gelowiges teenoor mekaar met hul wag op die Here, hul wag in die teenwoordigheid van God? Advent is ’n tyd waarin ons herdenk wat en wie gekom het en aan die kom is. Advent behoort ’n tyd in gelowiges se lewens te wees wat met gespanne geduld gevul is. Ons Verlosser kom weer.
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth
Woensdag 23 Julie – Die Gees laat nie altyd net lekker dinge gebeur nie
Lukas 4: 14-30 Ons hoor weer hoe Jesus vol van die krag van die Gees dinge doen. Hy tree op in sy grootworddorp. Die mense ken Hom goed en hulle is duidelik trots op Hom. Vol afwagting oor wat Hy hier by sy eie mense gaan doen, word die boek Jesaja vir Hom aangegee om...
Dinsdag 22 Julie – Die Heilige Gees lei Jesus
Markus 1: 12-13; Lukas 4: 1-13 In ’n tyd waarin die evangelie verskraal word tot Jesus se sterwe aan die kruis en die wonderlike voordeel wat dit vir die mens het, is hierdie teksgedeelte nogal iets om oor na te dink. In ’n tyd waarin ’n mens so maklik dink en sommer...
Maandag 21 Julie – Johannes se oortuiging word sy getuienis
Johannes 1: 29-34 Johannes maak dit duidelik dat sy oortuiging nie uit sy eie oordeel of insig spruit nie. Hy is maar net besig om te doen wat God vir hom gegee het om te doen. Hy roep mense op om hulle tot God te bekeer, en dan doop hy hulle op grond van hul...
Sondag 20 Julie – Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom
Matteus 1: 18-25 Soms dink ons dat die Heilige Gees eers bekend geraak het aan die mensdom ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Wanneer ons aandagtig lees, sal ons egter sien hoe dikwels daar in die Ou en Nuwe Testament van die werking van die...
Saterdag 19 Julie – ’n Verantwoordelike lewe met die Gees van God
Efesiërs 4: 30 En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Die belofte dat ek gewaarmerk (beseël) is om as die eiendom van God gereken te word – in elke omstandigheid van my aardse...
Vrydag 18 Julie – Die verskeidenheid van Geestelike gawes
1 Korintiërs 12: 4-7 Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God...