Maandag 8 Desember – Laat ons sing
Psalm 146: 5-10
Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! ’k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof.
Ek wonder of jy al daar was? Daar waar jou lied van jou weggeneem is? Toe jou woorde en drome opgedroog het? Was jy al daar, of is jy daar? Daar waar niks meer saak maak nie. Kan jy sulke tye onthou? Tye wanneer jy jouself afvra: Wanneer gaan hierdie slegte dinge wat in my lewe gebeur, ophou? Want my lewenslied het opgedroog.
Dit het om jou stil geword. Wat kan jy vandag daaraan doen? Sing! Laat ons sing! Dit sal ons laat besef daar is geen ander uitweg as Hy, die lewende Almagtige God nie. Slegs God se Woord kan dit vir my doen. Daarom moet ons sing. Ja, jy sing oor die goeie God van jou vaders en hul vaders. Jy sing oor jou hoop vir die toekoms wat op Hom alleen gebou word, omdat jy reeds iets van sy mag en krag gesien het. Maar veral ook omdat jy sy geskiedenis met jou en jou mense ken.
Jou lied gaan oor sy goedheid vir hulle wat sukkel en wat swaarkry. Jy sing vir hulle wat geen ander uitweg as Hy het nie. Wat opgesluit en afgestomp leef omdat die lewe die rug op hulle gedraai het. Nou sing jy omdat Hy sy oog op hulle gerig hou en sy hand styf om hulle vou. Jy sing dit alles met blye galme as jy een van hulle is, en jy sing met ingetoë dankbaarheid as jy een van die gelukkiges is wat sulke swaarkry gespaar is. Jy sing omdat jy dankbaar is dat die goddeloses se invloed teëgewerk word deur die Here se troue sorg.
Kom ons sing, want die vreugdekers brand in Adventtyd. Vreugde oor Hom wat kom. Kom laat ons sing – omdat hoop ’n naam het. Sy naam is: Wonderbare Raadsman; Magtige God; Ewige Vader; Vredevors; Seun van die Mens; Begin en Einde. Ja die Weg, Waarheid en Lewe het ook vir jou vryheid, vrede, vreugde en liefde gebring.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
Woensdag 11 Junie – Niemand kan sê Jesus is die Here nie, behalwe deur die Heilige Gees
1 Korintiërs 12: 1-3 Om te sê en te bely dat Jesus die Here is, is om ’n kragtige geloofsbelydenis uit te spreek. Terwyl Jesus op die aarde as ’n mens geleef het, het Hy as Jesus bekend gestaan. Met verloop van tyd het sy dissipels besef dat Hy die Christus, die...
Dinsdag 10 Junie – Die groot sonde: om nie in Jesus Christus te glo nie
Johannes 16: 5-15 In Johannes 16: 9 sê Jesus vir sy dissipels: Die wêreld is skuldig aan die sonde, want die wêreld glo nie in My nie. Jesus sê dit teen die agtergrond van die Heilige Gees, die Voorspraak, wat kom om die wêreld te oortuig dat Jesus die Christus is, en...
Maandag 9 Junie – Die Heilige Gees is God se onsigbare teenwoordigheid by ons
Johannes 14: 15-31 Ons het so pas saam met die kerk van Jesus Christus oor die wêreld heen die hemelvaart van ons Heiland herdenk. Die groot gevaar is dat die dissipels kon dink dat Jesus se hemelvaart ’n wegvaart was. Dat die hemelvaart beteken dat Jesus daar ver bo,...
Sondag 8 Junie (Pinksterfees) – ’n Geweldige groot krag tot beskikking van dié wat glo
Efesiërs 1: 1-23 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Ef 1: 3). Hierdie lofprysing aan God Drie-enig weerklink telkens in die eerste en verdere...
Saterdag 7 Junie – Deur sy Gees laat Hy wederliefde spruit
1 Korintiërs 13: 1-13; Matteus 22: 34-40 Min dinge in hierdie lewe het ewigheidswaarde. Paulus herinner ons daaraan dat daar wel drie dinge is wat ewigheidswaarde het: geloof, hoop en liefde, en dat die grootste hiervan die liefde is. Die liefde is geduldig,...
Vrydag 6 Junie – Ingeplant in die wingerdstok
Johannes 15: 1-8; Galasiërs 5: 22-26 Galasiërs 5: 22-23 gee my geweldige hoop vir die mensdom. Dink net hoe wonderlik sou dit wees as almal so wil leef? ’n Mens kan seker redeneer dit is nie moontlik nie, want ons is maar net menslik en heel dikwels kies ons om...