Donderdag 5 Februarie – Om voete te was

Johannes 13: 1-17

Ons verstaan mense beter as ons hul kultuur verstaan. In Suid-Afrika is dit byvoorbeeld ’n teken van respek om ouer mense oom of tannie te noem, selfs al is hulle nie familie nie. Vir iemand van ’n ander kultuur, soos ’n Amerikaner, kan dit vreemd of selfs onvanpas klink. Só maklik kan ons mekaar misverstaan as ons nie agtergrondkennis het nie.

Net so moet ons die kulturele konteks van die Bybel verstaan om werklik die skok te begryp toe Jesus sy dissipels se voete gewas het. In daardie tyd was voete vuil van sandale en stowwerige paaie. Dit was die werk van die laagste slawe – nie eens ’n Joodse slaaf nie, maar ’n heidense een – om voete te was vir gaste. En tog, Jesus die Here kniel en doen hierdie vernederende werk.

’n Mens wil amper sê dat dit onregverdig is. Hy weet Judas gaan Hom verraai. Hy weet Petrus gaan Hom verloën. Hy ken elkeen van die dissipels se swakheid, trots, selfbelang en gebrek aan lojaliteit. En tog was Hy hul voete met absolute liefde. Sonder oordeel. Sonder voorwaardes.

Dadelik wil ons amper sê: Maar hulle verdien dit nie. Hulle verdien nie dat Jesus hul voete was nie. Hulle verdien nie hierdie gebaar van liefde nie. Maar Jesus wys: Diens en barmhartigheid is nie iets wat jy gee as iemand dit verdien nie. Dit is iets wat jy doen uit liefde omdat jy Hom volg.

Wanneer Jesus die voete van sy dissipels was, was dit nie net stof wat Hy afwas nie. Hy wys vir hulle – en vir ons – wat nederigheid en ware liefde is. Hy stel ’n voorbeeld: Soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen (Joh 13: 5).

Om voete te was beteken nie altyd om met water en handdoeke fisies te was nie. Dit beteken om ander te dien – selfs dié wat dit nie verdien nie. Dit beteken om lief te hê, te vergewe, te dra, en te dien. Want Christus het dit eerste vir ons gedoen.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies

Maandag 4 Augustus – Die kerk moet getuig (kerugma)

Handelinge 2: 37-47 Die verkondiging of oordrag van die woord – dit wat die apostels en ander in die gemeente gedoen het – noem ons die kerugma. Dit beteken doodeenvoudig dat hulle dit wat die apostels vir hulle geleer het oor Jesus, geglo het en dat hulle hulle...

read more

Sondag 3 Augustus – Hoe lyk die kerk?

Handelinge 2: 37-47 Diegene wat deel is van ’n kerk (enige kerk), glo graag dat hulle die waarheid beet het, dat hulle die resep het vir kerkwees. Sommige buitestanders/teenstanders/ongelowiges/onverskilliges wat nie deel is van ’n kerk nie, wil weet waarom dit nodig...

read more

Saterdag 2 Augustus – Onderskei die skyn

2 Timoteus 3: 1-17 Ons leef in ’n skynwêreld. Alles gaan oor voorkoms, voorgee. Wanneer mense vir ons vra hoe gaan dit, antwoord ons: Goed, dankie, om die skyn van ons lewens voor te hou. Alles moet goed en reg lyk – die skyn moet voorgehou word, anders loop ons die...

read more

Vrydag 1 Augustus – Elkeen vir homself?

Filippense 2: 1-18 Elkeen vir homself en die duiwel vir die res. Dit is grotendeels die lewensbeskouing van die 21ste-eeuse mens. As jy bo wil uitkom, moet jy vir jouself sorg, want daar is nie tyd, geld of kapasiteit om oor ander besorg te wees nie. Paulus se...

read more

Donderdag 31 Julie – Klop-klop

Openbaring 3 Die boek Openbaring begin met boodskappe van Jesus aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Openbaring 3 bevat die boodskappe aan die laaste drie van die sewe gemeentes: Sardis, Filadelfia en Laodisea. Hoewel hierdie gemeentes redelik naby aan mekaar geleë...

read more

Woensdag 30 Julie – Gee jou hand…

Psalm 84 Wat behels ’n lewe naby aan God? Vir die digter van Psalm 84 is ’n lewe naby aan God ’n lewe in gemeenskap. Daar bestaan nie regtig in Hebreeus ’n woord vir gemeenskap soos ons dit vandag verstaan nie. Die mense van die Bybelse tyd se ganse bestaan was ’n...

read more