Woensdag 4 Februarie – Lewende water

Johannes 4: 1-26

Water – ons bron van lewe. Sonder water kan ons nie boer nie, ons kan nie eet nie, en ons kan nie oorleef nie. Ons is totaal afhanklik van water. Hoe dikwels het ons nie al gebid vir reën in tye van droogte nie? En hoe groot is die dankbaarheid wanneer die eerste druppels uiteindelik val.

Jesus reis deur Samaria – ’n gebied wat die Jode gewoonlik vermy het. By die fontein van Jakob vra Hy ‘n Samaritaanse vrou vir water. Dit verbaas haar want Jode en Samaritane het nie met mekaar gemeng nie. Jesus gebruik hierdie eenvoudige versoek om haar aandag te trek na iets baie dieper: Hy bied vir haar lewende water aan – ’n beeld van die ewige lewe wat Hy bring.

Soos baie van ons, verstaan die vrou eers net die letterlike betekenis van water. Maar Jesus praat van die innerlike vernuwing en volheid wat Hy alleen kan gee. Soos Psalm 42: 2 sê: Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Net soos ons liggame dors na water, dors ons siele na God. Die water in die put verg moeite, en dit raak op. Maar die lewende water van Christus borrel op van binne soos ’n fontein– dit is genade sonder einde. Die Heilige Gees bring lewe, troos en hoop.

Hierdie ontmoeting met Jesus by die put het hierdie vrou se hele lewe verander. Grense is oorskry en Jesus het ware liefde met haar gedeel. Christus het die lewende water met haar gedeel. Uiteindelik het sy verligting beleef, ’n verligting soos as die reën uiteindelik na ’n baie droë jaar val.

Mag ons, soos die vrou by die put, Christus se ware liefde ervaar. En mag ons ook hierdie lewende water wat Jesus Christus vir ons aanbied met die wêreld daar buite deel.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies

Dinsdag 29 Julie – Toegerus met God se Gees

Joël 1-3 Ons leef in ongekende tye. Die wêreld is besig om rondom ons te verval. Die ekonomie verswak, met al die gevolge van armoede en misdaad wat dit meebring. Daarmee saam is korrupsie, geweld en uitbuiting aan die orde van die dag. Morele waardes verval. Ons...

read more

Maandag 28 Julie – Die Jona in ons

Jona 3-4 Die verhaal van Jona is ’n onderstebo-verhaal vol onverwagse gebeurtenisse en verrassings. Jona se verhaal lewer op ’n ironiese wyse kritiek op ’n bepaalde verstaan van God en geloof. Dit wil kritiek lewer op gelowiges se selfsug en selfgeregtigheid wat agter...

read more

Sondag 27 Julie – Wurm of skoenlapper?

Romeine 12: 1-21 Die proses van metamorfose beskryf die lewensiklus van ’n vlinder vanaf wurm tot skoenlapper. Romeine 12 praat van gelowiges in terme van ’n proses van metamorfose. In vers 2 lees ons: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat...

read more

Vrydag 25 Julie – Die werk van die Heilige Gees

Johannes 16: 5-15 Die Heilige Gees kom na gelowiges toe om hulle te troos en dinge anders te laat verstaan. In hierdie stadium is die dissipels bang en onseker. Dit lyk vir hulle asof hulle voortdurend aan die kortste end trek en asof onregverdigheid hul grootste...

read more