Dinsdag 3 Februarie – Jesus het gehuil

Johannes 11: 33-44

Die wêreld maak seer. Ons sien dit elke dag: siekte, dood, hartseer, moord, ongelukke. Elkeen van ons het al pyn in hierdie wêreld beleef en soms voel dit of dinge net te veel raak.

In Johannes 11 lees ons van ’n man met die naam Lasarus wat gesterf het. Sy suster, Maria, en die mense om haar huil. Jesus kom daar aan en sien al die hartseer. Hy weet Hy gaan vir Lasarus uit die dood opwek, maar tog huil Jesus saam met hulle. Jesus het gehuil. Drie eenvoudige woorde in vers 35, maar woorde vol betekenis. Jesus huil, want Hy voel saam met hulle. Hy sien die pyn van Maria en die ander. Hy sien die gebrokenheid van die wêreld. Hy is nie ’n God wat ver staan nie – Hy is naby en Hy verstaan.

Jy hoef nie jou hartseer weg te steek nie. Jy mag huil. Jy mag vrae hê. Soms probeer mense sterk wees, veral mans en seuns in ons samelewing waar trane as swakheid gesien word. Maar Jesus wys dat dit is reg om te treur. Trane is nie ’n teken van swakheid nie – dit wys dat jy omgee.

Jesus het egter nie net gehuil nie – Hy het opgetree. Hy stap na Lasarus se graf en roep uit: Kom uit! En Lasarus staan op. Jesus bring hoop waar daar hartseer is. Hy bring lewe waar daar dood is. Dalk voel jy vasgevang in jou pyn, moedeloos oor jou toekoms, of verlore in jou geloof.

Maar Jesus sê ook vir jou: Kom uit! Daar is hoop – selfs in die moeilikste tye. Lasarus se opstanding wys vorentoe na Jesus se oorwinning oor die dood. Omdat Jesus leef, weet ons dat pyn en dood nie die laaste sê het nie. God sal eendag al ons trane afdroog (Op 21: 4).

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies

Dinsdag 22 Julie – Die Heilige Gees lei Jesus

Markus 1: 12-13; Lukas 4: 1-13 In ’n tyd waarin die evangelie verskraal word tot Jesus se sterwe aan die kruis en die wonderlike voordeel wat dit vir die mens het, is hierdie teksgedeelte nogal iets om oor na te dink. In ’n tyd waarin ’n mens so maklik dink en sommer...

read more

Vrydag 18 Julie – Die verskeidenheid van Geestelike gawes

1 Korintiërs 12: 4-7 Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God...

read more