Saterdag 7 Maart – Ek glo, help my ongeloof
Markus 9: 24
Hierdie toneel is roerend: Jesus kom van die berg af en loop in ’n menigte mense vas. Die dissipels is moedeloos, hulle het probeer om die kind van ’n bose gees te bevry, maar hulle het gefaal. Die pa, desperaat, wend hom tot Jesus en sê: As U iets kan doen, help ons! Jesus antwoord: Alles is moontlik vir die een wat glo. En dan kom daardie eerlike, rou gebed uit die pa se mond: Ek glo, help my ongeloof!
Wat ’n eerlike belydenis. Hy probeer nie geloof voorskyn wat hy nie het nie. Hy maak nie asof hy sterk is nie. Hy bring net sy stukkie geloof, klein, huiwerend, maar opreg en bied dit aan Jesus. En dít is genoeg.
Hierdie gebed word een van die mooiste in die hele Nuwe Testament. Want dit weerspieël ons eie werklikheid. Wie van ons het nie al geworstel met twyfel nie? Wie van ons het nie al gebid terwyl ons terselfdertyd gewonder het of God gaan antwoord nie? Hierdie pa se gebed sê: Jy hoef nie altyd geloof sonder enige skadu van twyfel te hê nie. Jy moet net bereid wees om dit wat jy wel het aan God te gee en te vra dat Hy die res aanvul.
Dis goeie nuus. Jesus doen nie ’n geloofsoudit nie. Hy kyk nie eers of jou geloof genoeg is om Hom in beweging te bring nie. Hy reageer nie op die volmaaktheid van jou vertroue nie, maar op die egtheid daarvan. Dis nie die grootte van jou geloof wat saak maak nie, dis die objek daarvan.
In Lydenstyd is jy dalk vol vrae, vol huiwering, vol onduidelikheid. Maar bring daardie vrae na Jesus toe. Bid soos daardie pa: Ek glo, help my ongeloof. Dis ’n gebed wat Jesus hoor… en eer.
Gebed
Here, ek het nie altyd ’n sterk geloof nie. Soms is dit ’n fluistering, soms net ’n sug. Maar ek bring dit vir U. Vul aan wat by my ontbreek. Ek glo, help my ongeloof. Amen.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos
Maandag 9 Februarie – God kies en roep
Markus 1: 16-20 Vissers was doodgewone mense wat hard gewerk het om vir hulle en hul families te kon sorg. Jesus ontmoet hulle met ’n boodskap: Volg My, en Ek sal jou ’n visser van mense maak (Mark 1: 17)! Volg my!, was die eerste opdrag. Toe Jesus vir hierdie manne...
Sondag 8 Februarie – Wanneer jy Jesus ontmoet
Handelinge 9: 1-19 Die verhaal van Saulus kan in met een woord opgesom word: genade. Saulus het na Stefanus se dood die leiding geneem om Jesus se volgelinge selfs tot in die uithoeke van die aarde te soek om hulle te vervolg. Baie van Jesus se dissipels het na ander...
Saterdag 7 Februarie – Die plig om te vergewe
Matteus 18: 21-35 Ek is seker ons elkeen was al in ’n situasie waar ons so kwaad was vir iemand dat dit gevoel het of ons hulle nooit sal kan vergewe nie. En tog as gelowiges word daar van ons verwag om te vergewe. Maar vergifnis is nie maklik nie. Die verhaal van...
Vrydag 6 Februarie – Nuwe seisoene in Christus
Kolossense 3: 5-17 Die natuur beweeg elke jaar deur vier bekende seisoene – herfs, winter, lente en somer. Elke seisoen bring verandering: blare begin val in die herfs, alles raak vaal as gevolg van die koue in die winter, nuwe lote begin later bot in die lente, en...
Donderdag 5 Februarie – Om voete te was
Johannes 13: 1-17 Ons verstaan mense beter as ons hul kultuur verstaan. In Suid-Afrika is dit byvoorbeeld ’n teken van respek om ouer mense oom of tannie te noem, selfs al is hulle nie familie nie. Vir iemand van ’n ander kultuur, soos ’n Amerikaner, kan dit vreemd of...
Woensdag 4 Februarie – Lewende water
Johannes 4: 1-26 Water – ons bron van lewe. Sonder water kan ons nie boer nie, ons kan nie eet nie, en ons kan nie oorleef nie. Ons is totaal afhanklik van water. Hoe dikwels het ons nie al gebid vir reën in tye van droogte nie? En hoe groot is die dankbaarheid...