Vrydag 19 Junie – Trek verder
Eksodus 14: 1-16
’n Mens kan nie help om te glimlag oor die gesprek tussen Moses en die volk in Eksodus 14 nie. Wat ’n onstuimige gesprek (of meer van ’n geskree) moes dit nie gewees het nie!
Vasgevang tussen twee gevare is daar geen pad vir Israel sigbaar nie. Vorentoe kan hulle nie, want die waters van die Rietsee doem voor hulle op. Agtertoe kan hulle ook nie, want die farao se bemanning en strydwaens kom met ’n goeie spoed agter hulle aan. In hierdie knyptangsituasie draai die volk na Moses. En Moses draai op sy beurt na God. En God antwoord Moses: Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En dít is die prentjie wat my so laat glimlag: Moses wat vir ’n gillende, benoude volk sê: Trek verder. Die Here sê julle moet verder trek. Ek wonder wat het die volk Moses nogal geantwoord!
Voeg daarby vorige relletjies tussen Moses en die volk oor sy roeping om die volk uit Egipte te lei en die tafel is gedek vir konfrontasie as gevaar by die Rietsee dreig.
Waarheen Here? Hoe kom ek uit hierdie gemors? Hoe trek ’n mens verder as gevaar van alle kante dreig, Here? Waar is die pad Here? Dit is waters op waters met geen sigbare uitkoms. Dit is klaar met my!
Water en watermassas kom volop in die Bybel voor as metafoor van menslike bedreigings; selfs Goddelike oordeel. Dink aan Noag en die sondvloed. Maar in die hand van die Almagtige God word water ook metafoor van ’n nuwe begin en lewe. Menslike insig is beperk. Moses sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. Dan kloof die Here ’n pad waar die menslike oog geen pad en uitkoms sien nie. Van hierdie beperkte menslike insig en Goddelike uitkoms getuig die kruis op Golgota en die leë graf.
Maak nie saak hoe goed jou beplanning is nie; die pad van môre is vir almal onbekend. Ons wandel egter in geloof en vertroue dat die bekende God saam met ons op onbekende weë gaan.
Ds André Thomas, Oos-Moot
Saterdag 26 Julie – Die rol van die Heilige Gees in God se kerk
1 Korintiërs 12 Terwyl die kerk op aarde besig is om haar opdrag uit te voer om dissipels van alle mense te maak, is dit die Heilige Gees wat die groot werk in gelowiges doen. Dit is Hy wat mense oortuig om te glo. Hy trek mense wat glo in die liggaam van Christus in....
Vrydag 25 Julie – Die werk van die Heilige Gees
Johannes 16: 5-15 Die Heilige Gees kom na gelowiges toe om hulle te troos en dinge anders te laat verstaan. In hierdie stadium is die dissipels bang en onseker. Dit lyk vir hulle asof hulle voortdurend aan die kortste end trek en asof onregverdigheid hul grootste...
Donderdag 24 Julie – As jy in ’n verhouding met God is, is jy ook in ’n verhouding met Jesus Christus en die Heilige Gees
Johannes 14: 15-17 Voordat Jesus in die hemel opgeneem word, maak Hy eers seker dat sy dissipels ’n paar goed verstaan. Een van die sake is dat liefde vir Jesus ook impliseer dat ’n mens gehoorsaam sal wees aan sy opdragte. Anders as wat die gelowiges tot dusver...
Woensdag 23 Julie – Die Gees laat nie altyd net lekker dinge gebeur nie
Lukas 4: 14-30 Ons hoor weer hoe Jesus vol van die krag van die Gees dinge doen. Hy tree op in sy grootworddorp. Die mense ken Hom goed en hulle is duidelik trots op Hom. Vol afwagting oor wat Hy hier by sy eie mense gaan doen, word die boek Jesaja vir Hom aangegee om...
Dinsdag 22 Julie – Die Heilige Gees lei Jesus
Markus 1: 12-13; Lukas 4: 1-13 In ’n tyd waarin die evangelie verskraal word tot Jesus se sterwe aan die kruis en die wonderlike voordeel wat dit vir die mens het, is hierdie teksgedeelte nogal iets om oor na te dink. In ’n tyd waarin ’n mens so maklik dink en sommer...
Maandag 21 Julie – Johannes se oortuiging word sy getuienis
Johannes 1: 29-34 Johannes maak dit duidelik dat sy oortuiging nie uit sy eie oordeel of insig spruit nie. Hy is maar net besig om te doen wat God vir hom gegee het om te doen. Hy roep mense op om hulle tot God te bekeer, en dan doop hy hulle op grond van hul...